Skryfgeheime-skryfskool

Poets jou skryftegniek met ons skryftake


Takel skrywersblok

Het ek skrywersblok?

Hoe weet ek of ek skrywersblok het? Wat moet ek maak as ek skrywersblok het? Is daar ooit iets soos skrywersblok? Wat moet ek doen as ek vermoed ek het skrywersblok, omrede ek heeltyd vashaak en sukkel om my storie op papier te kry? 

 

Hier is een goeie plan - daar is natuurlik nog baie:  

Skryf eers die einde, of die hoogtepunt, die draaipunt of die krisis. Of enige "lekker" deel uit jou storie: 'n wilde aksietoneel of 'n bekgeveg tussen twee karakters. Laat die skryfsappe vloei. Gaan mal! Wonder jy of en waarom dit skrywersblok sal teenwerk?

 

1.     Dit ruk jou uit jou gemaksone en stimuleer die skrywersenergie.

2.     Dit dwing jou om verder te kyk, en om na te dink oor hoe die karakter gedurende die krisis sal optree.

3.     Dit lei tot nuwe perspektiewe, insigte en idees.

4.     Die karakter se optrede teen die einde bepaal hoe jy die karakter, die gebeure en die probleem of 

doel aan die begin moet voorstel.

5.     Deur die krisis, klimaks en einde te skryf stel jy aan jouself ’n doel waarop jy kan afstuur.

6.     Die meeste skrywers herskryf die begin honderde kere en rammel die einde af. Deur die einde aan die begin te skryf sal jy dit meermale besoek en verfyn. 


Taak: Skryf met gedagtes, aksies & lyftaal

Jou opdrag:  

Lees elke keer die teks of opdrag en voltooi die take. 

 

Lees paragraaf 1:

Mia knyp haar oë styf toe en skakel die televisie af. Om grillers te kyk wanneer jy alleen by die huis is, is geen grap nie. Nou is sy te bang om te gaan slaap. Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?

 

Beantwoord die vrae:

*  Stem jy saam dat paragraaf 1 Mia se gedagtes, gevoelens en aksies/handeling weergee?

*  Watter aksies en lyftaal help jou om te verstaan hoe Mia voel?

*  Wat dink jy is die funksie van die retoriese vraag (Sê nou maar daai ding kom vang haar vannag?)?

*  Stem jy saam dat die paragraaf goed geskryf en lekker leesbaar is met ’n skerp fokus op nodige inligting?

 

Lees paragraaf 2:

Eintlik moet haar broer, Justin, na haar kyk. Ma en Pa Louw is by ’n werksfunksie in die stad. Ongelukkig dink liefste broeder Justin nou dis die ideale geleentheid om saam met een of ander meisie te gaan fliek. Bewerig gaan lê Mia in haar bed. Haar oë is styf toe. Sy is te bang vir wat sy dalk sal sien as sy hulle oopmaak … en sy is te bang vir wat sy dalk gaan sien as sy droom.

 

Beantwoord die vrae:       

*  Dink jy paragraaf 2 is net so goed geskryf soos paragraaf 1?

*  Of is dit stotterend met te veel inligting oor dinge wat nie regtig ter sake is nie?

*  Wat dink jy is alles onnodig of oordrewe?

*  En wat is nodig, maar nie interessant genoeg geskryf nie?

 

Voer nou hierdie taak uit:

Skryf paragraaf 2 oor sodat dit net so lekker vloei, en net so natuurlik klink, en net so diep in Mia se kop is soos paragraaf 1. Lees eers die riglyne.

 

Riglyne:

*  Gebruik een of twee retoriese vrae asook verwyte en dreigemente wat die spanning sal uitbou en Mia se gedagtes eg sal laat voel, soos ’n tipiese tiener s’n.

*  Raak ontslae van oorbodige inligting en verduidelikings wat lesers self uit die gegewe kan aflei.

Skryf nou paragraaf 2 oor.

 

Klaar geskryf?

 

Vergelyk jou werk met hierdie voorstel:

As Justin net hier was. Wie gee hom die reg om saam met ’n simpel meisie te gaan fliek en haar alleen by die huis te los? Wag maar. Sy gaan alles lekker vir Ma en Pa vertel wanneer hulle van die werksfunksie af kom. Maar wat help dit alles haar nóú? Hier lê sy alleen en bibber in haar bed met monsters wat haar wil gryp.

 

Verbeter nou jou eie paragraaf 2.  



Taak: Lees oor selfpublisering

Sarlene Horn se prenteboek Hoot Hoot Hurray het in 2016 die lig gesien. Sy het dit self gepubliseer en gee hieronder goeie raad vir voornemende self-publiseerders. Sarlene het Skryfgeheime se Kursus in Tydskrifjoernalistiek ’n jaar of drie gelede voltooi en van haar artikels het in bekende tydskrifte verskyn. Nadat sy die Prenteboekkursus voltooi het, het sy besluit om haar volgende manuskrip self te publiseer.

Sarlene beveel aan:

*  Weet wat jy wil sê. En geniet die skryfwerk. 

*  Besluit wat jy met die boek wil bereik: is dit vir familie en vriende of is dit iets kommersieels? Wil jy dit self versprei of wil jy agentskappe gebruik? Besluit of jy ’n gedrukte boek of ’n e-boek wil uitgee. Ek het ’n papierboek gekies. 

*  Werk ’n begroting uit. Bou die volgende in: koste van redigering, illustrasies, uitleg, verspreiding, bemarking, ISBN en Barcode, indien nodig, asook ’n ietsie vir skoolgeld – ek het heelwat geleer in die proses. 

*  Hou ’n tydraamwerk, dit hou almal op hulle tone, ook vir jou. 

*  Professionele redigering is NOODSAAKLIK ten einde ’n professionele produk te lewer. Moenie sommer enigiemand nader of ’n vriend vra nie. Janie het vir my rigting gegee, want sy het my skryfstyl en behoeftes verstaan. 

*  Illustrasies. Moenie haastig wees nie, kies die beste illustreerder wat jy kan bekostig. Gaan kyk na boeke in boekwinkels, woon boekbekendstellings by en soek ’n illustreerder wat tot jou spreek en wie se styl by jou materiaal pas. Ek het gegoogle en vir Marisa du Toit op Facebook raakgeloop. Met my begroting kon sy net die buiteblad doen, maar dit was die moeite werd, want dit trek dadelik die aandag. Sy het my heeltyd op hoogte gehou en ek kon insette gee. 

*  Kry ’n goeie grafiese illustreerder om die boekuitleg te doen. Die drukkery druk net die boek, hulle doen nie ook die uitleg nie. Ek het ’n kontak deur die drukkery gekry. Ek het eers op hul webtuiste rondgekyk en toe kwotasies aangevra. Na ’n ontmoeting het ek gemaklik gevoel met die proses. Die maatskappy (Nutshell Designs) het ook die binne-illustrasies gedoen. Hulle het duidelik uiteengesit wat die kwotasie behels, dus het geen onaangename verrassings opgeduik nie. 

*  Soek die regte drukpers. Ek het ’n fout gemaak met die eerste een, in die hoop om kostes te spaar. Weens my klein begroting was die maatskappy haastig, en wou die werk so gou moontlik afhandel. Ek moes die groot besluit neem om eerder my geld te verloor en my boek te ontttrek. Die tweede drukkery (Boland Drukpers) het ek by ’n boekbekendstelling ontmoet en hierdie keer het ek die regte vrae gevra, bv. watter tipe papier gebruik word, wat hulle met my begroting kan doen, meer oor die bindproses, kleur, grootte van die boek, ens.  

*  Kry ’n ISBN as jy jou boek by boekwinkels wil versprei. Kontak die National Library of South Africa (lees die webblad), kontakpersoon: Kholofelo S.Mojela. Dit neem ’n week en is gratis. As skrywer moet jy egter ’n gratis kopie aan 5 Legal Deposit stuur. 

*  SA Barcodes was baie professioneel. Kontak Max gerus. Koste was R250, en dit was binne twee dae beskikbaar. Hulle stuur die barcode aan jou in bv. jpeg-formaat, of wat jy ook al verkies, dan stuur jy dit na die grafiese illustreerder. 

*  Verspreiding. Ek bemark my boek self deur sosiale media en boekwinkels wat ek met voorstelle nader. Kontak my gerus om die boek te bestel of vir 'n bietjie raad. Daar lê nog ’n lang pad voor met die verspreiding, maar ek leer baie en geniet elke oomblik. 


Taak:  Hierdie, daardie, dit

Die aanwysende voornaamwoorde hierdie en daardie word deesdae alte dikwels verkeerd gebruik onder die invloed van this en that; dit terwyl Afrikaans oor ’n oulike woordjie beskik, naamlik: dit

 

Kyk na hierdie voorbeelde:

Hierdie is my boek. (X) (This is my book.)

Daardie is my hemp. (X) (That is my shirt.)

 

Teenoor:     

Dit is my boek. Ook korrek: Dis my boek.

Dit is my boek hierdie. Of: Dis my boek hierdie. Of: Dis my boek dié.

Dit is my hemp. Of: Dis my hemp.

Dit is my hemp daardie. Of: Dis my hemp daardie.

 

Ook korrek:   

Hierdie boek is myne.

Daardie huis behoort aan my.

 

Waarom?

In hierdie twee gevalle word die aanwysende voornaamwoorde hierdie en daardie elke keer deur ’n selfstandige naamwoord opgevolg (boek en huis). Hierdie en daardie wys dus die selfstandige naamwoord waarop hulle betrekking het aan.

 

Kyk net hoe handig en pragtig korrek is dit:

*  Dit reën. (Dit as voorwerp.)

*  Gee dit vir my. (Dit as aanwysende vnw.)

*  Dit wou net afbreek en steel. (Dit as meervoud wanneer ’n groep as ’n

    eenheid optree.)

*  Waar is my hemp en broek? Gee dit hier. (Dit as meervoudsvorm.)

 Dit is my oom. (Dit as persoonlike v.nw.) [Nie: Hierdie is my oom.]

 Dit is die boek wat almal nou lees. [Nie: Hierdie is die boek wat almal nou

    lees.]

 

Liewer nie:     Ek skryf sommer met dit. 

Veel eerder:   Ek skryf sommer hiermee.

 

Bron: Norme vir Afrikaans deur W.A.M. Carstens.

 

* * *

 Laastens:  Ek hoop jy verfoei ook nou die verkeerde gebruik van … ug ... hierdie in gesprekke, boeke, koerante en op televisie. 


Taak:  Skryf 'n sterk aanvangsparagraaf m.b.v. 'n sterk prikkel (hook)

’n Effektiewe aanvangsparagraaf moet die leser met die intrapslag prikkel, boei en by die storie betrek. Ons sê dit moet ’n sterk hook of prikkel hê. Daarvoor gebruik ons sekere tegnieke.

 
Jy kan begin met … 

* ’n interessante karakter en/of ’n opwindende plek. 

 

* ’n geheim en/of probleem – iets groots en belangriks, verrassend en selfs skokkend. 

 

die oomblik van verandering in die hoofkarakter se lewe, daardie oomblik wanneer alles anders word, wat nou? 

 

* dialoog en aksie.  

 

* ’n prikkelende aanvangsin vol belofte wat die leser onkant vang, skok of verras, bv. It is a relatively little known fact that, over the course of a single year, about twenty million letters are delivered to the dead. (Uit: The Girl with no Shadow deur Joanne Harris.) Of: Kate voel soos ’n luis. Dis geen grap om by iemand se huis in te breek nie, maar vandag het sy nie ’n keuse nie.

 

* Verder wil lesers binne die eerste drie paragrawe ’n idee kry van waaroor die storie handel. Hiervoor gebruik ons voorafskaduwing, of te wel, skimpe en leidrade wat op die storieprobleem dui. 


Lees hierdie begin met ’n kritiese oog.
“Riaan, gooi asseblief dadelik jou vuil rugbyklere in die wasgoedmandjie? Dit staan in die kombuis. Ek gaan nou-nou die wasmasjien aansit,” sê Riaan se ma toe sy verby sy kamer stap.
          “Dis reg,” antwoord Riaan en dop sy sportsak om op sy bed. Hy gryp die bondel klere op sy bed en drafstap kombuis toe. Hy kan nie laat wees vir sy afspraak met Anke nie. Maar net toe hy die klere in die wasgoedmandjie gooi, vang iets sy oog.  
 
Beantwoord hierdie vrae:

*  Met wie begin die storie? Met die hoofkarakter? Of met wie?

*  Met wie sal die LESERS verkies dat die storie moet begin? 

*  Met watter aktiwiteit begin die storie? Is dit prikkelend? Sal dit lesers motiveer om verder te lees? 

*  Stem jy saam dat die storie nie met die regte karakter of op die regte plek begin nie? Dat dit nader aan die oomblik van verandering moet begin?

*  Lees weer die begin. Wat is die oomblik van verandering?

 

Jou opdrag: 

Herskryf nou die aanvangsparagraaf. Trek weg met ’n sterk aanvangsin. Vergelyk dan jou werk met die voorstel.
 
Voorstel:
Riaan dop sy sportsak om op sy bed, gryp die bondel rugbyklere en drafstap kombuis toe. Hy kan nie laat wees vir sy afspraak met Anke nie, nie weer nie, nie na laas keer nie. Toe die klere in die wasgoedmandjie val, vang iets sy oog.
 
Opmerkings: 
Die storie trek nou weg met Riaan (die hoofkarakter), lesers weet dadelik hy het ’n afspraak met iemand belangriks (Anke), en ook dat iets sy oog gevang het, iets wat op ’n probleem dui (die oomblik van verandering). Dit alles binne die eerste drie sinne. Stem jy saam dat dit in wese dieselfde gegewe is, net kort en kragtig gestel? Plus, heelwat herhalings 
is uitgesny, kyk of jy dit kan identifiseer. 



Inligtingstuk: Die fantasie-genre

Riglyne oor die fantasie-genre (vertaal en aangepas):

Klik hier vir die bron

 

Fantasie-fiksie as genre word gedefineer deur die teenwoordigheid van bonatuurlike elemente en die towerkuns. Anders as in die geval van wetenskap-fiksie is hierdie verhale totaal onmoontlik, selfs in die verre toekoms. Die genre vereis dikwels die bou van komplekse wêrelde bewoon deur mitologiese

figure (elwe, trolle, drake, eenhorings, sentours, ens.) sowel as paranormale wesens (vampiere, weerwolwe, ens.).

 

Storielyne draai om die stryd tussen goed en kwaad en eindig gewoonlik met die ondergang van die antagonis. Die protagonis besit dikwels magiese vermoëns en wapentuig. Seker die twee gewildste fantasie-subgenres is die epiese fantasie en die stedelike fantasie.

 

Epiese fantasieë behels ’n sekondêre wêreld bevolk met talle karakters, asook komplekse storielyne wat om oorlog en die opkoms en val van koninkryke draai. Dit speel af in ’n omgewing wat aan Europa in die Middeleeue herinner. Bekende skrywers is J.R.R. Tolkien, George R.R. Martin, Robert Jordan en David Anthony Durham. Kyk ook na Prince of Thorns deur Mark Lawrence. 

 

In stedelike fantasieë word kontemporêre fantasieë gekoppel aan elemente van misdaadfiksie of paranormale romanses. Voorbeelde van suksesvolle skrywers is Laurell K. Hamilton, Charlaine Harris en Jim Butcher.

 

Die tradisionele fantasie is ’n breë kategorie wat fantastiese werke in ’n sekondêre wêreld insluit. Dit behels towerkuns en ’n storielyn kleiner in omvang as die epiese fantasie. Die verhaal draai gewoonlik om ’n groepie mense met ’n duidelik omskrewe doel. Skrywers sluit in Anne Bishop en David Gemmell.

Historiese fantasieë speel af in herkenbare historiese eras, gewoonlik pre-twintigste eeu. Dit  toon ooreenkomste met die epiese subgenre, maar in kontras daarmee is historiese fantasieë bevolk met egte historiese figure en die verhale speel binne spesifieke historiese tydperke af. Bekende skrywers is Marion Zimmer Bradley en Guy Gavriel Kay.

 

Komiese fantasieë het ’n humoristiese of satiriese trant. Dit parodieer dikwels gevestigde werke in die fantasie-genre. Skrywers sluit in Terry Pratchett en Christopher Moore.

 

Kontemporêre of moderne fantasieë speel af in die regte wêreld, in die huidige tydvak. Skrywers gebruik dikwels tradisioneel Europese sowel as multikulturele mitologie om die verhaal aan te dryf. Stedelike fantasieë ressorteer onder hierdie genre. ’n Bekende skrywer van kontemporêre fantasieë is Neil Gaiman.

 

Die tussenruimtelike fantasie (slipstream fantasies) is ’n nie-realistiese genre tussen die fantasie-genre en hoofstroomfiksie en is dikwels meer literêr in trant, met ’n besliste gevoel van vreemdheid. Skrywers sluit in Kelly Link, Jeffrey Ford en Susanna Clarke.

 

Vreemde fiksie (weird fiction) bevat elemente uit die griller-, fantasie- en wetenskapfiksie-genres, soos die skrywer H.P. Lovecraft. Moderne voorbeelde staan bekend as "nuwe vreemde fiksie", skrywers is Ann en Jeff VanderMeer en China Mieville.  



Taak:  Lees oor die vind van idees

Nie elke idee is 'n boek werd nie. Behalwe dat jy aan al die bome moet dink, moet jy jouself ook afvra of jou idee so sterk, oorspronklik, boeiend en treffend is dat 'n uitgewer die verhaal nie net sal wil befonds en uitgee nie, maar dat duisende mense die boek sal wil koop. En wie wil tog tyd mors op 'n manuskrip wat nie die paal gaan haal nie? Beslis nie jy nie, of hoe?


So ... wat moet jy doen? Waar gaan jy 'n idee kry wat so goed is dat 'n uitgewer dit sal opraap en dat duisende lesers dit nie sal wil neersit nie?

Die geheim is om nie net een idee uit te dink nie, maar tientalle, selfs honderde. Ja, regtig. Party sal jy gou genoeg elimineer. Aan ander sal jy lank kou. Maar wanneer jy die regte een gevind het, sal jou gedagtes en jou pen begin gons.

Voel jy nou totaal ontmoedig? Want hoe gaan jy tog tientalle, nee, honderde idees vind? Maklik. Met net twee woordjies: Wat as?

Wat as 'n jong man een oggend wakker word en hy het in 'n tor verander? (Die metamorfose deur Kafka). Wat as 'n lewensat joernalis op 'n afgesonderde groep mense afkom wat al eeue lank diep in 'n kloof woon? (Duiwelskloof deur Andre P. Brink)? Of ... wat as 'n jong skrywer 'n treffer skryf, beroemd word en hom/haarself in die proses totaal vernietig? Dis dalk jy, wie weet? Want wie nie waag nie, kan ook nie wen (of verloor) nie. Afhangend van die definisie, natuurlik.

Dus ... spring aan die werk ... en aan die kopkrap ... en vind daardie trefferidee.
 


Taak:  Lees & beoordeel 'n sterk begin

Lees die uittreksel uit 'n Skryfgeheime-student se werk.

Let veral hierop:

 

* Die direkte manier waarmee die skrywer wegval, sonder aanloop of verduideliking. Ons noem die tegniek in medea res.

 

* Hoe die skrywer haar lesers onbehoorlik nuuskierig maak deur telkens net daardie bietjie weg te gee, beslis nie alle inligting op een slag nie, o nee, sy laat haar lesers wonder, sy laat hulle met onbeantwoorde vrae ... en dis daardie onbeantwoorde vrae wat maak dat hulle verder lees.

 

Die ek-karakter-verteller se sterk eie stem.

 

*  Hoe die skrywer die gebeure in plek en tyd anker met behulp van plekname, spesifieke aksies, asook met verwysing na afstande en tydsverloop.

 

 

Vuil geld

Mavis Nel

 

Dis al halfnege en hier poer-poer ek nog by Malibongwe. Party oggende is ek al teen halfnege by William Nicol wat twee kilometer verder is. Buite spitsverkeer neem dit my tien minute van my huis af tot hier. Die verkeer is hel, almal op pad werk toe, behalwe ek.

      Ek is so halsoorkop by die huis weg, ek hoop die bediende onthou om vir Fifi toe te sluit. Wanneer ek 'n kilometer weg is van my destinasie tel ek gou my kleingeld. Altyd dertig rand, tien vir toegang, tien vir koffie en tien vir vyf los sigarette.

       En dan loer die drie honderdrandnote vir my.

       My begroting is R330 per dag, elke dag van die week, en daarmee speel ek tot twaalfuur. My middae is geboek vir óf 'n roompie, óf pille, of wat ook al in my gedagtes opkom wanneer ek die vorige aand daarvoor vra.

       Hy het nooit vrae nie. Hy weet ek het al alles verloor: my naam, my geld, my guts, my trane. Maar hierdie roompie  is nie gekoop met sy R300 nie.

        Watter winkel moet of sal ek vandag target? Die maklikste is daar waar ek elke dag aandete koop en hoender vir die hond en daarmee saam 'n roompie wat ek in die handsak laat glip. Want dis wie ek is: 'n dobbelaar, 'n dief wie se dag afgesluit word deur haar Franse poedel uitsoekhoender te voer.  



Taak:  Lees en beoordeel hierdie begin

Beantwoord die vrae in hakies. Vergelyk elke keer jou werk met die ooreenstemmende voorstel.

 

Gwynneth verwens haar besluit om ekonomiese klas te reis. [Vraag 1. Wat is jou opinie oor die aanvangsin?] Die sitplekkies bied geen beweegruimte nie. Selfs 'n dwerg [Vraag 2. Wat is jou opinie oor die beeldspraak en hoe sal jy dit verbeter?] sal ongemak verduur met die beenspasie wat Qantas aan passasiers in die ekonomiese klas bied. Dit laat haar wonder wie verantwoordelik is vir die byhou en verwerking van minder gegoede reisigers se ergonomiese data. [Vraag 3. Herskryf die laaste sin vir verbeterde lesersbelangstelling.]

 
Voorstel 1. Dis altyd ’n goeie idee om met ’n negatiewe emosie te begin, dit vang die leser se oog en verwek simpatie met die karakter. 

 

Voorstel 2. Hier kan die skrywer gerus oorspronklik wees en iets spesifieks gebruik wat iets weggee oor Gwynneth se persoonlikheid en ook eie is aan die tydvak waarbinne sy haar bevind. Wat van Twiggy? Of Oscar Pistorius? Maar wees gewaarsku. Wat sal ’n verwysing na Twiggy vir die leser oor Gwynneth sê? Dat sy in die sestigerjare jonk was? En die verwysing na Oscar? Onthou dat hierdie tipe ding jou karakter uitbou in die oë van jou lesers, sorg dus dat dit gepas is binne die raamwerk van die verhaal. 
 

Voorstel 3. Plaas dit in Gwynneth se kop as ’n vraag. Afwisseling van sinsbou is belangrik ten einde lesersbelangstelling te behou. Hieronder verskyn twee moontlikhede.


1:  Wie sou verantwoordelik wees vir die byhou en verwerking van minder gegoede passasiers se ergonomiese data?

2:  Of benut die geleentheid om Gwynneth se persoonlikheid te demonstreer en haar lewe te gee met 'n aweregse gedagte byvoorbeeld: Moet omtrent 'n gevoellose sot wees wat die ergonomiese data byhou.
  


Taak:  Leer skryf 'n sterk paragraaf

Nuwe skrywers se werk voel dikwels onbeholpe, so asof elke sin en paragraaf sy eie ding wil doen. Die rede is dat nuwe skrywers selde van logiese opeenvolging en oorsaak & gevolg gebruik maak. Die gevolg is onsamehangende skryfwerk sonder 'n skerp fokus.

 
’n Sterk paragraaf 
verloop logies en georganiseer volgens oorsaak en gevolg, fokus op die essensie en raak nie uitgerek en vervelig nie, en volg hierdie struktuur:  temasin + opvolgsinne + slotsin.

 

Die temasin benoem die hoofidee waaroor die paragraaf handel.
Die opvolgsinne bou die tema logies uit.
Die slotsin vat alles saam en beklemtoon die hoofidee.

 

Ter wille van vloei moet die daaropvolgende paragrawe logies op die voriges volg en vlot daarby inskakel. Met ander woorde, ook paragrawe moet logies by mekaar aansluit. 

 

Jou opdrag: 

 Lees die paragraaf hieronder. Stem jy saam dat dit die wêreld vol is?

Skryf dit oor. Volg hierdie riglyne: 

 

* Soek die temasin, dit waaroor die paragraaf nou eintlik gaan.

* Soek die opvolgsinne en rangskik hulle logies.

Soek die slotsin.

Skrap alles wat onnodig en herhalend is.

* N.B. Hou die fokus skerp op die ek-karakter-verteller.

* Probeer hard voor jy jou paragraaf met die voorstel vergelyk.

 

Paragraaf:

Op ander dae moet ek na die films kyk waarvan my ma-hulle ook hou. Dis baie vervelig, want hulle hou nie van dieselfde goed as ek nie. Die films waarvan ek veral baie hou, is vampierfilms. Ek hou daarvan, want op Vrydae gaan my ma-hulle uit en dan is daar niemand by die huis nie en kan ek tot middernag TV-films kyk. Vrydag is my gunstelingdag van die week. Ek kan nie wag dat my ma-hulle by die voordeur uitstap sodat ek vir my kan popcorn maak en begin kyk nie. Soms raak ek so bang ek kruip amper onder die bank in. Maar dit bly die lekkerste dag van die week.

 

Voorstel:

Vrydag is my gunstelingdag van die week, want dan gaan my ma-hulle uit en kan ek tot middernag TV-films kyk (temasin). Ek hou veral van vampierfilms en kan nie wag dat my ma-hulle by die voordeur uitstap sodat ek popcorn kan maak en begin kyk nie. Soms raak ek so bang ek kruip amper onder die bank in (opvolgsinne). Maar dit bly die lekkerste dag van die week (slotsin).


Taak:  Plaas die fokus skerp op die essensie

Volg stappe 1 - 4.

 1. Lees die paragraaf geskryf deur ’n Skryfgeheime-student.

“Linelle, hier’s ’n oproep vir jou,” roep Neil Cilliers se ma na die twee matriekvaal jongmense wat voor die strandhuis op hul handdoeke lê. Toe Linelle naderkom, druk René die foon teen haar bors. “Dis nie jou ma van Engeland nie, maar dis ’n vrou wat baie ontsteld klink. Sy bel van ’n hospitaal af. Sy sê sy is Suster Martie of Marsha of so iets. Die lyn is nie duidelik nie, praat maar hard.”

 

2. Lees die kommentaar.

Stem jy saam dat daar sommer baie in hierdie paragraaf gebeur? Dat daar inderwaarheid soveel is om op te fokus dat dit moeilik is om te besluit wat nou eintlik belangrik is en waaroor die paragraaf nou eintlik gaan?

 

Skryfles:  Sorg dat elke paragraaf van jou storie of skryfstuk ’n skerp fokus het. Dit beteken jy moet besluit wat die DOEL met die paragraaf is en dan die fokus daarop plaas. 

 

Vraag:  Wat is die FOKUS van die student se paragraaf? Dink mooi ...

Antwoord:  Tog die oproep, dan nie?

 

Fokus dan daarop, m.a.w. cut to the chase. Moenie jou lesers oorweldig met addisionele inligting soos dat Neil se ma se van Cilliers is, én dat die matriek-

kinders voor die strandhuis op hulle handdoeke lê, én dat Linelle se ma in Engeland is nie, ens. Te veel detail wat nie op daardie moment ter sake is nie, sal jou lesers van die spoor af gooi en vertroue in jou as skrywer laat verloor.

 

Die geheim is om op die essensie te fokus, m.a.w. op daardie dinge wat jou lesers nóú nodig het om die insident te kan verstaan.

 

Skryfles:  Dis belangrik om inligting geleidelik uit te pak, soos en wanneer benodig.

 

3. Herskryf nou die paragraaf met ’n skerp fokus op die essensie. Probeer hard.

 

4. Vergelyk nou jou werk met die voorstel.

“Linelle, hier’s ’n oproep vir jou!” roep mevrou Cilliers. Linelle spring op en stap nader. René Cilliers hou die foon toe met haar hand. “Dis nie jou ma nie," fluister sy "dis iemand van ’n hospitaal af, suster Martie of Marsha – so iets. Die lyn is nie duidelik nie, praat maar hard.”

 

Stem jy saam dat die voorstel ’n skerp fokus het en gevolglik maklik verstaanbaar is? Dat lesers weet waarop om te fokus, aangesien daar nie oorbodige detail is wat hulle aandag aftrek nie?

 

Skryfgeheim:  Pas hierdie beginsels en riglyne op jou eie skryfwerk toe. 


Taak:  Ontwikkel 'n bondige skryfstyl

’n Bondige skryfstyl is iets wat jy moet inoefen, aangesien herhalings sowel as onnodige woorde en inligting lesers frustreer. Die teks hieronder is nie sonder meriete nie, maar kyk of jy dit kan verkort tot minder as 40 woorde. Probeer hard voor jy na die voorstel loer.


Teks:

Die vorige keer toe ou Griewel iemand se briefie onderskep het, was dit ‘n liefdesbriefie tussen twee gekysdes wat hardop voorgelees is. Die twee verliefdes was bloedrooi in die gesig terwyl die hele klas dit uitgeskater het. Sommer die volgende dag al was die liefde iets van die verlede. (49 woorde)
 
Voorstel:
Die vorige briefie wat ou Griewel onderskep het, was twee gekysdes s'n (of: van twee gekysdes). Sy het dit hardop voorgelees. Die verliefdes was bloedrooi terwyl die klas geskater het. Die volgende dag was die liefde oor (of: iets van die verlede). 


Taak:  Anker jou karakters m.b.v. aksies en lyftaal

Nuwe skrywers maak hulle dikwels daaraan skuldig dat hulle karakters lang gesprekke voer waartydens hulle min of geen kontak met mekaar of met hulle omgewing het. Dit veroorsaak by lesers die gevoel dat die karakters iewers ongeanker in die lug hang.

 
Nes in die regte lewe is die meeste karakters gewoonlik besig om iets te doen, soos om ’n hemp te stryk, langs die sportveld te staan en skree, of iemand te vermoor. Op hulle beurt wil lesers kan "sien" wáár die gesprek tussen die karakters plaasvind en wát die karakters doen terwyl hulle praat.
 
Dit beteken karakters moet met mekaar én met hulle omgewing omgaan. Hulle moet sinvolle aksies, lyftaal en handelings uitvoer wat verband hou met dit waarmee hulle besig is en hulle in hulle omgewing anker. Voorbeelde is om met die strykyster te beduie, iemand op die rug te klap, of ’n mes in iemand se borskas te steek.
 
Om 'n toneel te skep wat lesers oortuig, móét die karakters
geanker wees met sinvolle interaksie tussen die karakters self én tussen die karakters en hulle omgewing.  


Taak:  Plaas/Anker jou karakters in plek en tyd

Lees die aanvangsparagraaf:  

“Worsbroodjies! Worsbroodjies, Mamma!” skreeu Pieter terwyl hy die trappies twee-twee afhardloop. 

       “Jy kan nie net worsbroodjies eet nie, jy moet ook ander kos eet,” sê Mamma. 

 

Lees die kommentaar: Dat die skrywer met aksie en dialoog wegtrek, toon uitstekende aanvoeling, dis seker die beste manier om stories vir jong kinders te begin. Verder stel die skrywer die karakter se probleem met die intrapslag: Pieter is gek na worsbroodjies – té gek. Dit alles toon puik aanvoeling.

 

Daar is ook probleme.  Soos waarom Pieter juis teen trappe afhardloop. Dit kompliseer sake, want lesers sal wonder waar dié trappe inpas. Waar ís die trappe? Waar is Piéter? Waar bevind hy hom? Buitekant die huis op pad binnetoe? Binnekant op pad uit of dalk ondertoe?  Woon hy dalkies in ’n dubbelverdiepinghuis – iets wat nie algemeen in SA is nie. Stem jy saam dat die aanvang verwarrend is en dat lesers sal voel die karakter is nie stewig en spesifiek geplaas ten opsigte van tyd en plek nie?

 

Skryfwenk:  Dink mooi na oor die plasing van jou karakter binne die tyd-ruimtelike opset. Sorg dat die prentjie wat jy vir jou lesers teken so akkuraat en spesifiek moontlik is.

 

Jou opdrag:  Verbeter  en herskryf die aanvangsparagraaf. Maak dinge so kort, kragtig, duidelik en eenvoudig as wat jy kan. Probeer hard voor jy na die voorstel loer.

 

Wenk:  Wat as Pieter eerder uit die bed spring en kombuis toe nael? Dit gaan mos oor sy ongewone ontbytgewoontes, dan nie? Deur hom uit die bed te laat spring, wys hy vir lesers dis tyd vir oggendete. Dat hy kombuis toe hardloop, bekragtig dit. En dan kom die verrassing of probleem: hy wil worsbroodjies hê vir ontbyt! Hoe weird is dít? Skryf nou 'n nuwe aanvangsparagraaf.

 

Voorstel:  Nuwe aanvangsparagraaf 

Pieter spring uit die bed en nael kombuis toe. “Worsbroodjies, Mamma! Worsbroodjies!”

          “Jy kan nie net worsbroodjies eet nie,” sê Mamma, “jy moet ook ander kos eet.”

 

Kommentaar: Stem jy saam dat lesers nou met spesifieke, fyn gekose leidrade bestuur word om die regte afleidings te maak? Lesers weet ook sommer binne twee sinne helder en duidelik presies waar Pieter hom bevind, waarheen hy op pad is, wat hy daar wil gaan doen en selfs watter tyd van die dag dit is. Met enkele spesifieke besonderhede is Pieter nou doeltreffend geplaas ten opsigte van die tyd en die ruimte waarin hy hom bevind.  


Taak:  Dialoog en geslagsverskille

Mans en vroue kommunikeer nie eenders nie en karakters se dialoog moet hierdie patrone reflekteer, want te dikwels klink storieboekmans en -vroue nie soos “regte” mans of “regte” vroue nie en oortuig gevolglik nie die leser nie.

 
Hoe kan skrywers hierdie vorm van geslagsverwarring voorkom?

Eenvoudig. Deur op sekere patrone te let.
 
Breedweg kan ons sê dat mans minder praat en korter woorde en sinne gebruik as vroue. Hulle bespreek nie graag hulle gevoelens nie en oor die algemeen is hul dialoog saaklik en op die man af, hulle praat oor die aangeleentheid en beskou dit dan as afgehandel. Hulle sal verkieslik dinge saam doen (veral iets tegnies, byvoorbeeld gholf) óf hulle gevoelens op ’n bal uithaal eerder as om dit oor en oor te bespreek. Hulle is geneig om ondemokraties te wees en self oplossings (reg of verkeerd) vir hulle probleme te soek. Kortom, die kanse is skraal dat ’n man ’n vriend sal nooi vir tee en ’n good old heart to heart, deels omdat mans nie maklik erken dat hulle foute maak of probleme het nie.
 
Daarteenoor is vroue meer demokraties, hulle praat meer geredelik oor hulle gevoelens en probleme, sal langer sinne gebruik en ook meer praat, dikwels blomryk en bloot omdat dit lekker is om te praat. Wanneer ’n vrou haar probleme en gevoelens met ’n man deel, gee hy graag raad en bied oplossings aan, in die meeste gevalle tot die ergernis van die vrou wat bloot iets uit haar sisteem wou kry, en nié noodwendig raad of oplossings soek nie. Wel, beslis nie by haar man of vriend nie, wat weet hy in elk geval? Gewoonlik weet die vrou presies wat sy wil doen en soek sy net ’n gewillige oor om teenoor te ontlaai.
 
Hoewel bogenoemde patrone as stereotiep beskou kan word, bevat dit heelwat waarheid. Luister dus na jou karakters. Klink hy soos ’n man en sy soos ’n vrou? Waarom? Of waarom nie? Is dit funksioneel? Is dit oortuigend? Indien nie, fieks dit.