Skryfgeheime- aanlyn skryfskool


FAQS:  Vrae wat dikwels gevra word

Hoe weet ek of ek die nodige talent het, en kan iemand anders 'n mens leer skryf?  Skrywers word grootliks gemaak, selde gebore. Gedurende ons kursusse word jou natuurlike skryftalent en kreatiwiteit ontsluit en ontwikkel m.b.v. voorbeelde uit die literatuur, beproefde hulpmiddels, en veral met die terugvoer en leiding deur 'n ervare, vernuftige studieleier. Die doel is om jou sodanig toe te rus dat jy, teen die einde van jou kursus, 'n prikkelende, markgerigte storie of artikel op jou rekenaar sal hê?

 

Waar en hoe studeer ek, en wanneer kan ek begin?  Skryfgeheime-kursusse is afstand-  skryfkursusse wat aanlyn aangebied word en jou van storievonk tot publikasie lei. Jy werk per e-pos teen jou eie pas vanuit jou eie huis en kan enige tyd van die jaar begin.

 

Wie mag inskryf en watter kwalifikasies het ek nodig?  Skryfgeheime-kursusse is geskik vir beginners sowel as bestaande skrywers wat hulle vaardighede wil ontwikkel en slyp. Geen kwalifikasies is nodig nie, net 'n passie vir woorde, stories en skryf. Natuurlik is 'n rekenaar, epos en toegang tot die internet noodsaaklik. 

 

Help julle my om my werk voor te lê?  Gedurende jou kursus word jy geleer om markgerigte verhale en/of artikels te skryf wat jy aan gerekende uitgewers en tydskrifte kan stuur en waarmee jy geld kan verdien. Jy ontvang hulp met die keuse van 'n geskikte uitgewer of tydskrif, asook met die voorlegging van jou manuskrip. Die idee is egter om jou sodanig te ontwikkel dat jy jou as vryskutskrywer of -joernalis kan handhaaf en onafhanklik kan funksioneer. Onthou dat Skryfgeheime 'n skryfskool is en nie self boeke uitgee nie.

 

Is daar enige waarborge?  Die studiemateriaal en terugvoer is motiverend van aard en die doel is dat jy die kursus sal geniet, voltooi en suksesvol sal wees. Ons waarborg beslis dat jy kundige, verpersoonlikte terugvoer direk op jou skryfstukke binne sewe dae sal ontvang. Publikasie kan ongelukkig nie gewaarborg word nie, aangesien daar te veel veranderlikes is.

 

Wat kos elke kursus en kan ek dit afbetaal?  Daar is verskillende betaalplanne. Indien jy ’n eenmalige betaling maak, ontvang jy 'n outomaties ingeboude korting. Jy kan ook per module of per maand afbetaal. Dit beteken jy betaal soos jy vorder. In alle gevalle kan jy enige tyd staak en later hervat. Wanneer jy navraag oor 'n spesifieke kursus doen, sal jy die betaalplanne en betaalprosedure per e-pos ontvang.

 

Wat as iets gebeur sodat ek nie kan voortgaan nie?  Ons besef dat die lewe soms skeefloop en dat ekstra tyd soms nodig is. Wees gerus, jy kan enige tyd met jou kursusleier daaroor gesels. Oor die algemeen ontvang jy drie jaar om jou kursus te voltooi teen die bedrag waarteen jy oorspronklik ingeskryf het. Dis oorgenoeg tyd om jou kursus rustig te voltooi, selfs indien daar onverwagse onderbrekings is.  Selfs meer tyd as drie jaar sal geen probleem wees as jy net die kommunikasiekanale oophou nie.

 

Min of meer hoeveel tyd moet ek aan my kursus afstaan? Die meeste studente is werkende mense en sommige werk 2-3 jaar aan hul kursus. Indien jy  volstoom werk, behoort 2-4 ure per week voldoende te wees om een module per maand of elke twee maande te voltooi. Maar soos reeds gesê: meer (of minder) tyd is geen probleem nie.

 

Wat is die einddoel van elke kursus?  Elke kursus lei jou van die vind van 'n geskikte storievonk tot 'n voltooide, markgerigte manuskrip, gereed vir voorlegging aan 'n gepaste uitgewer of tydskrif.

  

Kry ek 'n sertifikaat aan die einde? Ja, na afloop van jou kursus.

 

Wat kos dit om 'n storie of boek te laat publiseer?  NIKS. ABSOLUUT NIKS. Wanneer jou manuskrip aanvaar word deur 'n bona fide uitgewer (soos Lapa, Penguin, NB Uitgewers, Oxford University Press, Via Afrika, e.a.) of 'n bona fide tydskrif (soos Huisgenoot, Keur, Landbouweekblad, e.a.) dra hulle alle publikasiekostes, nie jy as skrywer nie. Bemarking, verspreiding en verkope is ook die uitgewer se taak, nie joune nie, en hulle dra alle kostes. As skrywer sal jy een of twee keer per jaar outeursgeld ontvang wat op jou boek se verkope gebaseer is. 

 

Wat dan van self-publikasie en uitgewers wat verwag jy moet help betaal?  Vermy hulle, tensy jy iets vir die familie-argief wil laat druk, bv. jou herinneringe. Skryfgeheime sal jou nooit na "uitgewers" verwys wat verwag dat JY vir HULLE moet betaal nie, want ons streef na uitnemendheid en publikasie by die bestes.

 

Ontvang ek studiemateriaal? Hoe?  Studiemateriaal word per e-pos na jou gestuur. Elke kursus bestaan uit ’n vaste aantal modules wat alle nodige aspekte dek. Elke module 

bevat teoretiese gedeeltes asook selfdoentake met uitgewerkte antwoorde wat jou help om die nodige tegnieke in te oefen. Elke module eindig in ’n werkstuk wat jy moet instuur vir persoonlike terugvoer binne sewe dae.

 

Vertel my oor die terugvoer.  Terugvoer deur kundige, gepubliseerde, bekroonde mentors is breedvoerig, spesifiek én simpatiek en geskied direk op jou werkstukke m.b.v.  spoorveranderings en kommentaarblokkies. Die vraag-antwoord-tegniek word dikwels ingespan. So sien jy presies wát jy moet verander, wáárom en ook hóé. Terugvoer dek alle aspekte van die skryfkuns: dialoog, fokalisering, storieopbou, karakterontwikkeling, spanningslyn, taalgebruik, ens. Hierdie ingeligte, besonder gedetailleerde terugvoer is uniek aan die Skryfgeheime-skryfskool.

 

Wanneer kan ek my terugvoer verwag? Binne 7 DAE nadat jy jou werkstuk ingestuur het.

 

Wat van kopiereg op my skryfwerk, is my skryfwerk veilig by julle?  Jy behou volle kopiereg op alles wat jy skep en jy mag alle wenke en voorstelle wat jy gedurende die kursus ontvang as jou eie gebruik. Onthou dat jou skryfwerk deurgaans as vertroulik behandel word.

 

Hoe dien ek my manuskrip in vir publikasie?  Elke kursus bevat 'n module wat voorlegging bespreek en illustreer. 'n Professionele voorlegging by 'n gerekende uitgewer of tydskrif sal jou kans op publikasie 'n stywe  hupstoot gee.

 

Wat gebeur indien my manuskrip iewers aanvaar word?  Aangesien elke nuwe boek in werklikheid 'n splinternuwe produk is wat behoorlik ontwikkel moet word, is die skrywer se werk selde klaar na aanvaarding van die manuskrip. Die kanse is goed dat die uitgewer jou sal kontak met verdere voorstelle vir die verbetering daarvan. Dan is daar ook nog die kontrak wat wedersyds geteken moet word voordat die boek in produksie kan gaan.

 

Wie bemark die boeke sodat ek outeursgeld kan verdien?  Hoewel uitgewers hulle eie bemarkings- en verkoopspanne het, is dit 'n goeie idee om jou boek ook self te bevorder in skole en by leeskringe, ens.

 

Is daar enige waarborg dat my manuskrip gepubliseer sal word?  Al ons kursusse (behalwe die Praktiese Kreatiewe Skryfkursus) fokus skerp op die ontwikkeling van publiseerbare materiaal, maar daar is ongelukkig geen waarborg dat jou werk deur 'n gerekende nasionale uitgewer of tydskrif vir publikasie aanvaar sal word nie, daardie besluit is in hulle hande.

 

Moet ek kan teken om 'n prenteboek te kan skryf?  Jy hoef nie 'n kunstenaar te wees om prenteboeke te skryf nie. Die illustrering van kinder- en prenteboek is 'n spesialisgebied. Indien jou manuskrip vir publikasie aanvaar word, sal jou uitgewer 'n illustreerder kies wat opgewasse is vir die taak.

 

Ek is 'n suksesvolle kunstenaar, kan ek my eie prenteboek illustreer?  Dis beter om eers jou portefeulje van illustrasies aan die uitgewer te stuur sodat hulle jou styl kan bestudeer - en dalk lei dit tot 'n tekenopdrag vir jou, jy weet nooit. Indien jy sterk daaroor voel om jou eie illustrasies te skep, kan jy jou tekeninge saam met jou teks instuur, maar onthou, indien jou illustrasies nie op standaard is nie, kan dit jou manuskrip se kans op aanvaarding benadeel. 


Nog vrae? Gebruik hierdie vorm:

Note: Please fill out the fields marked with an asterisk.