Skryfgeheime

Gereelde vrae oor ons Afrikaanse afstandskryfkursusse

Oorweeg jy een van Skryfgeheime se aanlyn Afrikaanse skryfkursusse? Hier beantwoord ons daardie vrae wat geeeld oor ons Afrikaanse afstandskryfkursusse gevra word: hoe die kursusse werk, studiemetode, mentorskap, persoonlike terugvoer, sertifikate en publikasie, asook die ondersteuning wat jy gedurende jou skryfreis kan verwag. Selfs of dit gerade is om jou eie prenteboek te illustreer.

Hoe weet ek of ek die nodige skryftalent het?

Skrywers word grootliks gemaak, selde so gebore. Natuurlik beskik party mense oor meer idees, beter taalaanvoeling en groter woordsensitiwiteit as ander, maar dit beteken nie dat hulle sonder enige opleiding en slyping amper noodwendig op publikasie sal afstuur nie. Almal, die laaste een, se talent moet ontwikkel word, en elkeen kan 'n beter skrywer word as wat hy/sy was. As skryf nog altyd jou droom was, is die kanse goed dat 'n onderliggende talent by jou sluimer wat ontwikkel kan word.

Kan 'n mens regtig by iemand anders leer skryf?

Ons studieleiers/mentor is mense wat self op hul dag moes leer skryf en op die terugvoer en ondersteuning van ander bekwame mense staatgemaak het. Gedurende ons skryfkursusse word jou natuurlike skryftalent en kreatiwiteit ontsluit en ontwikkel m.b.v. voorbeelde uit die literatuur, beproefde hulpmiddels, en veral die terugvoer, voorstelle, wenke en leiding deur ervare, vernuftige studieleiers. Die doel met hierdie proses is om jou sodanig toe te rus dat jy, teen die einde van jou kursus, 'n prikkelende, markgerigte storie of artikel op jou rekenaar sal hê wat jy met selfvertroue aan 'n uitgewer of tydskrif kan stuur vir oorweging.

Hoe werk Skryfgeheime se afstandskryfkursusse? Waar en hoe studeer ek, en wanneer kan ek begin?

Jy werk per e-pos teen jou eie pas vanuit jou eie huis en kan enige tyd van die jaar begin, aangesien jy op 'n een-tot-een basis saam met jou kursusleier werk, van storievonk tot publikasie.

Watter kwalifikasies het ek nodig en wie mag inskryf?

Geen spesiale kwalifikasies is nodig nie, net 'n passie vir woorde, stories en skryf. Natuurlik is 'n rekenaar, e-pos en toegang tot die internet noodsaaklik vir alle vryskutskrywers. En enigeen mag inskryf. Ons kreatiewe skryfkursusse en skryfdienste is geskik vir beginners sowel as bestaande skrywers wat hul skryfvaardighede wil ontwikkel en slyp, of wat terugvoer op bestaande stories soek. 

Hoe lank vat dit om 'n boek te skryf?

Die tydsduur sal grootliks afhang van die ervaringsvlak van die skrywer, die genre en die mark vir wie jy skryf. Onervare skrywers wat nog met storiekennis en skryftegniek sukkel, kan maande lank met 'n tydskrifverhaal van 1 500 woorde stoei. Geoefende skrywers van ligte ontspanningsmateriaal soos liefdesverhale en speurverhale voltooi twee of selfs drie boeke per jaar. Geoefende romanskrywers (dik, komplekse boeke) kan tot vyf jaar, of selfs langer met een projek besig wees. Ons doelstelling is om jou te help om jou skryfvoete so gou moontlik te vind sodat jy optimaal as skrywer kan funksioneer.

Hoe kry ek 'n uitgewer in Suid-Afrika?

Dis 'n plan om 'n onvergeetlike verhaal te skryf, die manuskrip keurig af te rond en dan in boekwinkels rond te krap op soek na 'n uitgewer wat daardie genre publiseer. 'n Beter plan sal wees om in te skryf vir een van ons kursusse en op 'n gestruktureerde manier te werk te gaan om jou boek op die rakke te kry.

Help julle my om my manuskrip vir publikasie voor te berei en aan 'n uitgewer te stuur?

Ja, jy ontvang hulp met die keuse van 'n geskikte uitgewer of tydskrif, asook met die voorbereiding van jou manuskrip vir voorlegging. Dis ook ons doelstelling om jou sodanig te ontwikkel dat jy jou as vryskut kan handhaaf en onafhanklik van ons kan funksioneer. Jy leer dus om markgerigte verhale of artikels te skryf wat jy langs die regte kanale aan gerekende uitgewers en tydskrifte kan stuur, en waarmee jy potensieel, as vryskutskrywer of vryskutjoernalis, 'n gereelde inkomstestroom kan opbou.

Bied julle enige waarborge?

Ons waarborg beslis dat jy kundige, verpersoonlikte terugvoer direk op jou skryfstukke binne sewe dae sal ontvang, en dat jy tot vyf jaar het om jou kursus te voltooi. Publikasie kan ongelukkig nie gewaarborg word nie, aangesien daar te veel veranderlikes is wat buite ons beheer is. Ons doen wel ons bes omdat jou sukses ook ons sukses is. Die studiemateriaal en terugvoer is motiverend van aard sodat jy jou skryfkursus sal geniet, sal voltooi en in 'n suksesvolle vryskutskrywer sal ontwikkel. 

Wat kos 'n Afrikaanse skryfkursus en kan ek julle kursusse afbetaal?

Ons bied verskillende, bekostigbare betaalplanne wat wissel van R375 vir die taalopknapper tot ongeveer R8 000 eenmalig vir die Algemene Kreatiewe Skryfkursus. Indien jy ’n eenmalige betaling maak, ontvang jy outomaties 'n ingeboude korting op die betaalplanne. Jy kan ook jou skryfkursus per maand afbetaal. In alle gevalle kan jy jou skryfopleiding enige tyd staak en later hervat sonder enige verdere bybetalings, solank dit binne jou vyfjaarperiode is. Wanneer jy navraag oor 'n spesifieke kursus doen, sal jy die volledige betaalplanne en betaalprosedure per e-pos ontvang.

Wat as iets gebeur sodat ek nie kan voortgaan met my skryfkursus nie?

Wees gerus, jy kan enige tyd oor meer tyd met jou kursusleier gesels. Onthou dat jy in elk geval vyf jaar het om jou kursus te voltooi teen die bedrag waarteen jy oorspronklik ingeskryf het. Dis normaalweg oorgenoeg tyd om enige kursus rustig te voltooi, selfs indien daar onverwagse onderbrekings is. Hou maar net die kommunikasiekanale oop. Ons besef dat die lewe soms skeefloop en dat ekstra tyd soms nodig is om jou skryfopleiding te voltooi. 

Min of meer hoeveel tyd moet ek aan my skryfkursus afstaan?

Die meeste van ons skryfstudente is werkende mense wat deeltyds teen hul eie pas aan hul kursusmateriaal en skryfwerk werk. Normaalweg behoort 2-4 ure per week voldoende te wees om een module per maand te voltooi.

Wat is die einddoel van elke kursus?

Elke skryfkursus lei jou van die vind van 'n geskikte storievonk tot 'n voltooide, markgerigte manuskrip, gereed vir voorlegging aan 'n gepaste uitgewer of tydskrif.

Kry ek 'n sertifikaat?

Ja, ná voltooiing van jou skryfkursus ontvang jy 'n sertifikaat van Skryfgeheime as voltooiingsbewys. Ons skryfopleiding gaan egter oor veel meer as sertifikate. Dit gaan veral oor die unieke afrigting wat jy ontvang en die feit dat jy teen die einde van jou opleiding 'n beter, sterker en meer doeltreffende skrywer sal wees, toegerus met kennis oor die skryfbedryf waarvan ander vryskutte na dekades van vryskutwerk nog onbewus is. 

Wat kos dit om 'n storie of boek te laat publiseer?

Niks. Absoluut niks. Indien jou manuskrip aanvaar word deur 'n bona fide uitgewer (soos Lapa Uitgewers, Penguin Random House, NB Uitgewers, Oxford University Press, e.a.) of 'n bona fide tydskrif (soos Huisgenoot, rooi rose, Landbouweekblad, e.a.) dra daardie instansie alle publikasiekostes, nie jy as skrywer nie. Bemarking, verspreiding en verkope is ook die uitgewer se taak, nie joune nie, en hulle dra alle kostes in daardie verband. Inderwaarheid sal jy, as skrywer van boeke, een of twee keer per jaar outeursgeld ontvang wat op jou boek se verkope gebaseer is. Skrywers van tydskrifverhale en -artikels word amper onmiddellik deur die tydskrif vergoed. 

Wat dan van selfpublikasie en uitgewers wat verwag jy moet help betaal?

Oor die algemeen is dit veiliger om instansies wat selfpublikasie aanbied te vermy. Hierdie instansies het dikwels indrukwekkende name en lyste dienste wat op die oog af vertroue inboesem, maar daar is selde enige ware bewyse van kwaliteitwerk wat op 'n gereelde basis daar gedoen word. Skryfgeheime sal jou nooit na 'n "uitgewer" verwys wat verwag dat jy as skrywer vir hulle as uitgewer moet betaal - en dan geen ware diens lewer nie. Ons streef na uitnemendheid en publikasie by die bestes sodat ons skrywers trots kan wees op die eindproduk en ook met hulle skryfwerk kan begin verdien.

Ontvang ek Afrikaanse studiemateriaal? Hoe?

Sudiemateriaal word in keurige Afrikaans geskryf en per e-pos aan jou gestuur. Elke skryfkursus bestaan uit ’n vaste getal modules wat alle nodige aspekte van skryf en die publikasieproses dek. Elke module bevat teoretiese gedeeltes asook selfdoentake met uitgewerkte antwoorde wat jou help om die nodige tegnieke in te oefen. Elke module eindig in ’n werkstuk wat jy moet instuur vir persoonlike terugvoer wat jou binne sewe dae sal bereik. Saam met jou terugvoer ontvang jy ook die volgende module van jou skryfkursus. Indien jy gedrukte materiaal verkies, kan jy jou modules enige tyd tuis druk of laat druk.

Vertel my oor die terugvoer.

Terugvoer deur kundige, gepubliseerde, bekroonde mentors is breedvoerig, spesifiek én simpatiek en geskied direk op jou werkstukke m.b.v.  spoorveranderings en kommentaarblokkies. Die vraag-antwoord-tegniek word dikwels ingespan. So sien jy presies wát jy moet verander, wáárom en ook hóé. Terugvoer dek alle aspekte van die skryfkuns: dialoog, fokalisering, storieopbou, karakterontwikkeling, spanningslyn, taalgebruik, ens. Hierdie ingeligte, besonder gedetailleerde terugvoer is eie aan die Skryfgeheime-skryfskool.

Wanneer kan ek die terugvoer op my werkstukke verwag?

In jou inkassie binne 7 dae nadat jy jou werkstuk ingestuur het.

Wat van kopiereg op my skryfwerk, is my skryfwerk veilig by julle?

Jy behou volle kopiereg op alles wat jy skep en jy mag alle wenke en voorstelle wat jy gedurende jou skryfopleiding ontvang as jou eie gebruik. Dis in ons beste belang om jou skryfwerk deurgaans as vertroulik te behandel en jou kopiereg deurgaans te respekteer - en dis dan ook wat ons doen.

Hoe publiseer ek my manuskrip?

'n Professionele voorlegging by 'n gerekende uitgewer of tydskrif sal jou kans op publikasie en sukses 'n stywe hupstoot gee. Gevolglik bevat elke kursus 'n afdeling wat dit in detail bespreek sodat jy 'n professionele voorlegging kan voorberei. Jy ontvang ook terugvoer deur jou mentor op jou voorlegging.

Wat gebeur indien my manuskrip iewers aanvaar word?

Aangesien elke nuwe boek in werklikheid 'n splinternuwe produk is wat uit niks ontwikkel word en aan spesifieke standaarde moet voldoen, is die skrywer se werk selde klaar na aanvaarding van die manuskrip. Die kanse is baie goed dat die uitgewer jou sal kontak met verdere voorstelle vir die verbetering en verstewiging daarvan. Daar is ook 'n uitgewerskontrak wat wedersyds aanvaar en geteken moet word voordat die manuskrip in produksie kan gaan.

Wie bemark die boeke sodat ek outeursgeld kan verdien?

Hoewel groot uitgewers hulle eie bemarkings- en verkoopspanne het wat met boekwinkels, biblioteke en ander instansies onderhandel, is dit 'n goeie idee om pro-aktief te wees en jou boek ook self te bevorder in skole, by leeskringe en op sosiale media, ensomeer. Gesels gerus met jou uitgewer oor hul bemarkingstrategie en verneem hoe jy daarby kan inskakel en wat jy op eie stoom kan doen.

Is daar enige waarborg dat my manuskrip gepubliseer sal word?

Al ons kreatiewe en mediakursusse fokus skerp op die ontwikkeling van publiseerbare materiaal - en ons doen baie moeite vir ons studente. Maar daar is ongelukkig geen waarborg dat jou werk deur 'n gerekende nasionale uitgewer of tydskrif vir publikasie aanvaar sal word nie, daardie besluit is in hulle hande. 

Moet ek kan teken om 'n prenteboek te kan skryf?

Nee, jy hoef nie 'n kunstenaar te wees om prenteboeke te kan skryf nie.  Die illustrering van kinder- en prenteboeke is inderdaad 'n heel ander studierigting. Gedurende ons prenteboekkursus gaan jy leer hoe om 'n geslaagde storie vir 2-7-jariges te skryf. Indien jou manuskrip vir publikasie aanvaar word, sal jou uitgewer 'n illustreerder uit hul stal kies wat opgewasse en geskik is vir daardie spesifieke taak.

Ek is 'n suksesvolle kunstenaar, kan ek my eie prenteboek illustreer?

Ja en nee! Dis beter om geduldig te wees en eers jou eerste manuskrip suksesvol deur die aanvaardingsproses te stuur voordat jy navraag doen oor die moontlikheid om jou eie illustrasies te ontwikkel. Indien jy sterk daaroor voel, kan jy jou tekeninge saam met jou teks instuur, maar onthou, indien jou illustrasies nie op standaard is nie, kan dit jou manuskrip se kans op aanvaarding benadeel. Maar natuurlik kan en mag enige kunstenaar 'n professionele voorlegging saamstel en hul portefeulje aan die uitgewer van hul keuse stuur sodat daardie uitgewer hul tekenstyl kan bestudeer. En dit lei dalk tot 'n illustrasie- of voorbladopdrag, wie weet? 


Het jy nog vrae?

Kontak ons gerus. Ons help graag voornemende skrywers om die regte kursus te kies, ongeag of dit die eerste kortverhaal, kinderboek, prenteverhaal of roman is wat jy wil skryf. 

Note: Please fill out the fields marked with an asterisk.