Lees oor van ons Skryfgeheime-studente wat die kollig steel as suksesvolle, gepubliseerde Afrikaanse skrywers wat naam maak. Hulle wen skryfkompetisies, verower pryse en toekennings, en hul artikels, kortverhale en boeke word deur gerekende tydskrifte en uitgewers uitgegee.
Jy kan ook by hierdie groeiende groep gepubliseerde Afrikaanse skrywers aansluit. Verwerf die nodige kundigheid en vaardighede deur 'n Afrikaanse skryfkursus met mentorbegeleiding by ons te volg.
Met die nodige skryfopleiding sal jou natuurlike skryftalent en kreatiwiteit ontsluit en afgerond word. Gedurende jou skryfkursus sal jy die nodige hulp en terugvoer ontvang sodat jy ook die lekkerte van publikasie kan smaak en jou naam in druk sien.

Celia du Plessis skryf: “Sedert ek die Algemene Kreatiewe Skryfkursus
voltooi het, het 'n tweede Afrikaanse verhaal deur my geskryf in Kuier verskyn, hierdie keer in die
29 Januarie 2026-uitgawe. Die titel is 'Hoop is ’n werkwoord'.
"Ek is tans besig met ’n verhaal oor vergifnis met die werkstitel: 'Knip die tou'. Ek benodig kommentaar op die storielyn, karakters en tema. Of dalk moet dit eerder geredigeer word? Ek stuur dit in vir jou opinie."

Liz-Marie van der Westhuizen skryf: "Dis nou nie massive nie, en ook 'n bietjie laat in die dag, maar ek dag ek laat weet jou ek het 2025 se ATKV-Digiskryf gewen, afdeling vir volwassenes.
"My kortverhaal se titel is: 'Breek dan die mure'.

"Ek moet eers 'n bietjie spog,” skryf Brigette Labuschagne.
“My kinderboek, Vreesvanger, verskyn in Junie op die rakke en my manuskrip, Bleeksiele kan brul, is as wenner van Jonathan Ball se 2026-Jeugboekkompetisie aangewys, kategorie 8-12-jarige lesers.”
Hierdie suksesse het nie oornag gebeur nie.
Ná matriek het Brigette elke maand 'n kortverhaal aan Sarie gestuur. Soms twee op ’n slag. “Die storie-idees was daar,” vertel Brigette, "maar nie die kennis oor hoe om dit neer te pen nie. André le Roux, destyds Sarie se verhaleredakteur, het my later jammer gekry en vir my skryfwenke begin gee!”

Jeanette Hendriks se keurige, vermaaklike Kaapse stories gee 'n blik op lewens en skep insigte wat andersins vir baie lesers verborge sal bly.
Haar karakters is warm en eg, en die storie-problematiek wat in elke kortverhaal op die voorgrond is, sal jou telkens verras, dikwels ruk en veral bybly. Deurentyd is die trant positief en hoopvol, sonder vooroordeel of sentimentaliteit.
Kontak Jeanette gerus by [email protected]. Sy het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus 'n jaar of drie terug voltooi.
In 2019 het Brigette die Algemene Kreatiewe Skryfkursus aangepak. “Voorheen het ek net geskryf, maar hiér het ek geleer om struktuur te bou met ’n oortuigende storielyn, karakters wat gemotiveerd optree, wendings, krisis, klimaks, ontknoping ... om maar net enkele aspekte te noem.”
En toe volg die lang pad.
“My eerste probeerslag was ’n totale flop. Toe nog een. En nóg een ...”
Brigette het aangehou tot sy uiteindelik twee jaar terug die top-tien langlys gehaal het. En in 2026 wen sy die eerste prys. “Skryf is nie glamorous nie,” vertel sy. “Dis harde werk wat min of meer so verloop: 'Plak Boude Op Stoel. Skrýf'.”
Die twee kategoriewenners (uit 103 inskrywings) het prysgeld van R50 000 elk ontvang. Beoordeling was anoniem, dus kon gevestigde en debuutskrywers op gelyke vlak meeding. En daar was gedugte kompetisie - maar Brigette het oor dit alles getriomfeer.

Martelize Faber sprei haar skryfvlerke nog wyer oop ...
Sy skryf: "Ek wil net laat weet dat my Afrikaanse kortverhaal 'Toffieappel' in Huisgenoot van 22 Januarie verskyn het."
Martelize het die laaste klompie jare bekendheid verwerf vir haar gereelde bydraes tot veral die Afrikaanse kinderliteratuur. In 2025 is sy saam met 12 ander SA skrywers na Rusland genooi om Suid-Afrika te verteenwoordig gedurende die Internasionale Boekefees. Martelize fokus op toeganklike, verbeeldingryke stories vir jong lesers, dikwels met ’n speelse toon en sterk visuele samewerking met illustreerders. Sy blink ook toenemend uit as skryfster van kortverhale en tydskrifverhale wat lesers laat dink. Martelize het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus voltooi en verskeie van haar verhale ingestuur vir redigering.
Coen Basson skryf: My US Woordfees-suksesse is soos volg: In 2018 haal my kortverhaal "Bemagtiging" die Woordfeesbundel en in 2021 was my verhaal "Eenzaamheid" die algehele wenverhaal. Wat ’n groot lekkerte was dit nie!
Intussen het Stefaans Coetzee my laasjaar genooi om saam met Albert Short (ook ’n oudstudent van jou) 'n kortverhaal te skryf vir sy kortverhaalbundel Sewe Sondes. Elke verhaal in die bundel het twee skrywers wat daaraan saamwerk. My en Albert se poging "Die wolpers" het besonder goeie terugvoer gekry. Dit was 'n ervaring om saam met 'n jong, oorsese skryfmaat te skryf: ek die gedeeltes oor die Karoo-veeplaas en hy die seksgedeeltes.
Destyds, veral in 2021, was al die skryfgeheime nog vars in my gemoed – en ek ook vol moed! My skrik het gekom toe Stefaans my onlangs nooi vir 'n bundel waarby Litnet betrokke is. Die verhale word deur Litnet gekeur – en daar val my storie uit. Wat 'n selfondersoek ...
So blaai ek toe terug in my verlede en kom weer by Skryfgeheime uit. En ek besluit ek moet my skryfopleiding en my kursus voltooi. Veral noudat ek meer tyd het hier op Onrus. Ek wil ook weet waarom my verhaal deur LitNet afgeskiet is – Skryfgeheime sal vir my kan sê. Ons praat dus gou weer.
Uitgewers kan amper nie byhou by Troula Goosen se konsekwente skryftempo en aanbod van vermaaklike, knap geskrewe leesboeke vir jong en ouer tieners nie.
Haar jongste manuskrip, Die kasteel van die blou draak, is onlangs deur Lapa Uitgewers aanvaar en sal in Februarie 2026 op die rakke wees.
Met Die kasteel van die blou draak slaan Troula 'n nuwe rigting in met 'n genreboek waarmee sy bestaande lesers opnuut gaan meesleur terwyl sy nuwe lesers met haar prikkelende idees en lewenslus oorrompel.
Troula het Skryfgeheime se kinder-en-jeugboekkursus suksesvol afgehandel. Haar kursusverhaal, Spooksoene, het 'n ATKV-prys verower. Sy het as beginnerskrywer meermale gebruik gemaak van ons redigeringsdiens, maar baie gou het sy totaal onafhanklik begin werk.
Madelein Steyn het haar kursusverhaal ("Ai, Lallie") vir oorweging na Vivlia Uitgewers gestuur en is aangenaam verras deur hul terugvoer. Die uitgewer het haar laat weet hulle gaan haar naam op hul databasis plaas en haar storie "op ys hou" totdat die regte publikasiegeleentheid hom voordoen.
Vivlia werk ten nouste saam met die Departement van Onderwys en verskeie Skryfgeheime-studente is al deur hulle gepubliseer.
Madelein is tans besig met die Prenteboekkursus sowel as die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Madeleine Louw Blignault skryf: "Ek deel graag hierdie goeie nuus met jou en jou studente sodat hulle kan moed skep en waardering vir en vertroue in julle kursus kan hê. My eerste Afrikaanse roman, Die huis op die hoek, is deur LUCA van Penguin Random House gepubliseer. Dis op 1 Mei vanjaar vrygestel en is alreeds weke lank op die Nielson-lys as een van die topverkopers. Baie dankie vir al die raad wat jy aan my as skrywer gegee het. Sonder jou waardevolle insette sou ek dit nie kon doen nie."
Madeleine is ’n nuwe Suid-Afrikaanse skrywer met ’n agtergrond in huishoudkunde en verbruikerswetenskap. Sy is ’n ervare opvoeder en akademikus en aktief betrokke by Bybelstudie en kerkwerk. Sy smee haar akademiese en geestelike roeping saam in haar skryfwerk. Haar debuutroman, Die huis op die hoek, speel af op Oudtshoorn en loop uit op ’n sluipmoordaanval wat familiegeheime blootlê. Sy het die manuskrip ontwikkel terwyl sy die Algemene Kreatiewe Skryfkursus voltooi het. Bestel haar boek hier.
Toe Troula Goosen, ná ’n aktiewe lewe as onder meer predikantsvrou en binneversierder, uiteindelik op Bettysbaai aftree, het sy haar jeugdroom doelgerig begin nastreef. Sy was een van Skryfgeheime se eerste skryfstudente en het ontwikkel in een van die suksesvolste skrywers uit ons stal.
Troula se debuutjeugroman en kursusverhaal, Spooksoene, verskyn in 2015 en word bekroon met ’n ATKV-Woordveertjie. Daarna word ’n veelsydige versameling verhale uit haar pen gepubliseer, waaronder die histories-avontuurlike Raaisel-reeks (Raaiselklip in 2018, Raaiselster in 2019 en Raaiselsee in 2020), asook die bekroonde Maanligmeermin en die betowerende reeks oor die Sproetebessies.
Sy daag jong lesers uit om hul verbeelding en intellek te gebruik en het ’n bekende en geliefde naam in die Afrikaanse jeugliteratuur geword.
Fantasi spesialiseer in die uitgee van ou en nuwe stories – van bekende sprokies tot oorspronklike skeppings. Ko-produksies saam met oorsese uitgewers is ook op die agenda, asook die koop en verkoop van internasionale regte. Fundi is ’n druknaam wat op leesstof vir ouer kinderlesers fokus. Fantasidigi bied ’n tuiste vir luisterboeke en digitale uitgawes. Lees meer ...
Dawie Louw se jeugroman Spookeffek het pas verskyn. Dis deel van 'n reeks van drie en Dawie is reeds besig met die tweede boek. Dawie is ook die skrywer van eMajuba, 'n roman wat 'n aweregse kykie op die Boereoorlog en die nadraai daarvan bied. Dawie het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus suksesvol voltooi.
DeWet Bisschoff se Afrikaanse debuutroman, Die kubermoorde, is op die rakke. ’n Plaasaanval ruk die Oos-Kaap, terselfdertyd vind ’n kuberinbraak plaas by ’n staatsdepartement en sabotasie by ’n elektriese opwekkingsfasiliteit. Mac, 'n rekenaarspesialis wat die kuberaanval probeer uitpluis, kom af op 'n internasionale komplot.
DeWet skryf: “Ek het die storielyn ontwikkel gedurende die Algemene Kreatiewe Skryfkursus en dit gefinaliseer nadat ek die kursus voltooi het. Hierdie aanlyn skryfkursus het my van al die boublokke voorsien om die manuskrip met selfvertroue af te handel. Jou professionele leiding en kursus het my in staat gestel om hierdie mylpaal te bereik. Ek is diep dankbaar vir jou hulp.” Lees hier meer
Vier Afrikaanse kortverhale geskryf deur vier Skryfgeheime-studente is gekeur vir gebruik in Impact Independent High se klaskamers om lees en leesbegrip te bevorder.
Die vier gekeurdes is, kloksgewys van links bo: Jo-Mari Haarhoff met “Skoenlapperkind”, Jeanette Hendriks met “Nuwe nommers”, Karien Nortjé met “Vertrekpunt” en Neandra Bresler met “Tot die laaste druppel”.
Neandra Bresler (die wenner van ons distopiese kortverhaalkompetisie) skryf: “Dit is baie lekker motivering om weer aan die werk te spring en te begin skryf. Vandat ek begin werk het, kry ek net nie daardie skryflus terug nie, maar ek sit met 'n storie in my kop ...” Besoek ons storieblad HIER en lees saam
Drie kortverhale geskryf deur Skryfgeheime-studente is gekeur vir SwitchedOn Education se aanlyn onderwysprogram.
Die kortverhale sal in die 2025-leerplanne verskyn vir die bevordering van lees en leesbegrip in grade 8 – 12.
Ons drie suksesse is op die ry af: Annatjie de Bruyn met “Swart spieël”, Wilmarie Myburgh met “Die draadkar”en Karien Nortjé met “Vertrekpunt”.
Klik en geniet hierdie stories en nog vele ander.
De Wet Hugo se kinderboek Die doodgewone bure is die wenner van NB-Uitgewers se 2024-skryfkompetisie in die kategorie vir 8-12-jarige lesers.
Die verhaal word beskryf as 'n (g)riller met heerlike tong-in-die-kies humor, absurde situasies, eksentrieke karakters en 'n storie oor vriendskap wat die grense tussen lewe en dood oorbrug.
De Wet het Skryfgeheime se kinder-en-jeugboekkursus gevolg en sy naam verskyn kort-kort in druk. Bestel hierdie prettige storieboek gerus.
Albert Short slaan 60 episodes los by RSG! Dis seker enigeen se droom om 'n vervolgverhaal vir die radio te skryf. En 'n nog groter droom om uiteindelik self na die opnames te kan luister. En raai wat? Jy kan ook! Albert nooi almal om op 18 September 2024 op RSG in te skakel vir die eerste episode van Sonsak oor Verlatensrus.
Volgens Albert (links op foto, die RSG-span verskyn regs) was die skryf van Sonsak groot pret, maar ook glad nie maklik nie. Maar met karakters soos Vrot Rot wat in die dorp se rioolstelsel vir die gereg skuil, klink die verhaal uiters kreatief en opwindend en na heerlike luistergenot. En dink net - daar is 60 lekkerluister episodes!
Lees meer by hierdie skakel.
Nes Ilze Beukes (hieronder) het Albert die kinder-en-jeugboekkursus voltooi.
Sedertdien skryf beide oor genres heen.
Ilze Beukes presteer weer en weer. Haar nuutste vollengte liefdesverhaal het onlangs by Lapa Uitgewers verskyn as deel van hulle Romanza-reeks. Twee ander liefdesverhale deur haar geskryf, het by NB Uitgewers verskyn as deel van die Hartklop-reeks. Ilze het begin as kinderboekskrywer, sy fokus nou op die skryf van Romanzas.
Juliana Griessel (links) se artikel "Wat die hart van vol is" het in Kuier verskyn, Madeleine Blignault (middel) se kortverhaal "Tuindoepa" pronk in Huisgenoot en Desirée Botha (regs) deel haar suksesse by Upwork.
Juliana skryf: “Kuier publiseer een van my skryfstukke hierdie week. Ek is so opgewonde, ek is uit my vel! Een van die boeke wat ek tans skryf, gaan oor my ongeluk as kind, waarna ek ook in die artikel verwys. Eerlik, ek weet nie hoe om daardie boek te skryf nie, maar ek wil dit bitter graag daarbuite hê om mense te inspireer." Juliana het onlangs ingeskryf vir die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Madeleine skryf: "My kortverhaal, 'Tuindoepa', verskyn in Huisgenoot se uitgawe van 23 Mei 2024. Dis ’n groot inspirasie vir my om nog harder te werk. Baie dankie vir al jou hulp.” Madeleine het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus suksesvol afgehandel.
Desirée skryf: "'n Tyd terug het ek my CV geplaas op die webtuiste Upwork, waar werk vir vryskutte adverteer word. Omdat ek in daardie stadium redelik baie skryfondervinding
gehad het, het ek heelwat aanbiedinge gekry. Ek het al saamgewerk met mense uit verskeie lande, een van hulle was die uitgewer van my boek The Complete Guide to Boerboels. Ek het ook
opdragte gekry om draaiboeke vir YouTube-videos te skryf. Dis kreatiewe werk, nogal stabiel en meestal in Engels. Dis heerlik om voltyds te kan skryf en my brood en botter so te verdien."
Desirée het die Kinder-en-jeugboekkursus suksesvol voltooi.
Julanda van der Merwe (links), Ammie Walters (middel) en Brigette Langford/Labuschagne (regs) is finaliste in NB-Uitgewers se groot kinder- en jeugboekkompetisie.
Julanda se manuskrip is op die langlys vir jeugboeke, terwyl Ammie en Brigette elk 'n tweekuns behaal het met 'n manuskrip op die langlyste vir kinderboeke sowel as jeugboeke. Aanhouers en kansvatters wen voorwaar!
Julanda skryf: "Nogmaals baie dankie vir jou puik kinder-en-jeugboekkursus wat ek gevolg en so baie geniet het."
Ammie skryf: "Ek het op ’n Skryfgeheime-nuusbrief gesien dat ’n kompetisie aangebied word en toe my manuskripte ingestuur. Ek verwag geensins om te wen nie, dis vir my alreeds ’n prestasie net om gekeur te wees ... publikasie sal egter 'n droom wees wat waar word."
Brigette skryf: "Ek was oortuig NB-Uitgewers se skryfkompetisie is ver bo my vuurmaakplek, maar ek het nietemin ingeskryf. Toe albei verhale in die toptien beland, was ek van voor af begeesterd."
Ammie en Brigette het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus gevolg.
Twee Skryfgeheime-skrywers pronk op die 2024-kortlyste van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, naamlik Martelize Faber met Daar’s ’n towerponie in my bed (Lapa Uitgewers) vir die Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur, en Maritha Broschk met Wanneer woorde asemhaal (Turksvy Uitgewers) vir die Eugène Marais-prys (poësie/drama).
Martelize Faber (regs) skryf: “Ek was omtrent uit die veld geslaan. Ek was besig op die rekenaar toe daar 'n boodskap van 'n skrywersvriendin kom met 'n skakel na 'n webblad. Ek het die aankondiging weer en weer gelees, want ek kon dit nie glo nie. Ek het intussen uitgevind dat my uitgewer by LAPA my vir die prys ingeskryf het.”
Maritha Broschk (links) skryf: “Ek het glad nie die nominasie verwag nie. Die uitslag word eers op 19 April 2024 bekend gemaak. Aarde, ek wil so graag my kursus klaarmaak, dit jaag my, maar ek vat nie grond nie.”
Martelize het die kinder-en-jeugboekkursus voltooi en Maritha is besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Celeste Loriston (links), met Pagama vir die Six, is 'n kortlysfinalis in NB Uitgewers se 2023-Jeugboekkompetisie. Die verhaal het ontstaan uit stories van haar dramakinders by New Orleans Sekondêr oor hulle lewe en ervarings. Celeste is ook ’n kortlysfinalis in NB Uitgewers se kinderboekkompetisie met Kwini-Lee en die kuberkraker. Kwini-Lee was ’n by-karakter in haar Skryfgeheime-kursusverhaal en het, aldus Celeste, vir ’n eie storie gesmeek.
JC Alderson (middel) se manuskrip Die geheime van Bergstroom is op die langlys vir NB Uitgewers se jeugboekkompetisie. Sy skryf: “Terwyl ek steeds as ‘carer’ werk, het ek weer begin studeer aan my LLB en ook my manuskrip klaargemaak. Ek het dit ingestuur vir NB se jeugboekkompetisie, waaroor jy ons ingelig het, en kyk nou! Ek voel soos ’n wenner!"
De Wet Hugo se verhaal Die doodgelukkige bure is ook op die kortlys vir NB Uitgewers se kinderboekkompetisie. De Wet en Celeste is al gevestigde,
bekroonde skrywers wat hulleself gereeld laat geld. Vir JC was dit 'n eerste probeerslag - en wat 'n probeerslag!
Celeste en De Wet het die Kinder-en-jeugboekkursus gevolg en JC is besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Johanè Snyders se inspirerende artikel “Skielik verlam – toe God se plan” het
pas in Juig verskyn. Dit handel oor die ondervinding van Christel van Zyl wat skielik verlam is net om ’n jaar later net so plotseling te herstel.
Johanè skryf: "Ek het dit vreeslik geniet om 'n pad saam met Skryfgeheime te stap. Ek waardeer die hulp met die artikel ongelooflik baie." Sy het die Kursus in Tydskrifjoernalistiek voltooi.
Tosca de Villiers skryf: "Dis vir my lekker om te vertel dat 'n kortverhaal ('Met 'n ompad') wat ek destyds vir jou liefdesverhaal-kompetisie ingestuur het, onlangs gekeur is om in rooi rose van Januarie 2024 te verskyn.
"Die handleiding wat ek daardie tyd as deel van die kompetisiemateriaal ontvang het, het my baie gehelp, maar dit was jou opbouende terugvoer op die storie wat die knoop deurgehak het."
Ansie Nel skryf: "Ek deel 'n bietjie van my lekkerte. My kortverhale word op 17 en 24 Desember deur 'Slaapstories vir Grootmense' op Spotify uitgesaai."
Ansie het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus suksesvol
voltooi en presteer sedertdien gereeld met haar skryfwerk. Klik en geniet haar "slaapstories".
WENK: Kry blootstelling as skrywer deur 'n storie deur jou geskryf per e-pos na [email protected] te stuur vir keuring.
Abongile Tyopo wrote: "I want to share my latest success on my journey with you at WriteSmarter that started a few years ago. And once again, thanks so much for your invaluable input into my writing and your patience in guiding me and teaching me to harness the craft of short story telling.
"I recently won a short story competition facilitated by the UKZN Centre for the Arts. My story 'Going Home' will be published in March 2024 as part of an anthology that will be launched at the Time of the Writer Festival in Durban.
"And then there is a second story and a second anthology! This anthology is called 320 days of sunshine - stories and memoirs from KwaZulu-Natal. My story is called 'Crocodiles don't eat
children'. This anthology was launched at the Durban International Book Festival earlier this year." Abongile het die Creative Writing Course voltooi en word sedertdien kort-kort gepubliseer.
WOORDFEESWENNERS! Uit 374 inskrywings is vier Skryfgeheime-skrywers se verhale aanvaar vir Borrel, die 2023-Woordfeesbundel. Hulle is Antoinette Diedericks, Ingrid Lehmensich, Johan de Nysschen en Jaco van der Merwe. Antoinette het die kinder-en-jeugboekkursus voltooi en Ingrid, Johan en Jaco die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Heléne de Clercq skryf: "Wou jou net laat weet, my tweede boek, Die emmerskoplys, word op 27 Oktober vrygestel deur Best Books (NB Uitgewers). Johann Strauss het die
pragtigste illustrasies geskep."
Heléne het die kinder-en-jeugboekkursus voltooi en daarna as skolebemarker by NB Uitgewers begin werk.
Die UITSLAG van SKRYFGEHEIME se MOORDSTORIEKOMPETISIE
Die wenners van ons 2023-moordstorie-kortkursus-kompetisie is pas aangewys deur 'n paneel van 41 deelnemers, wat elk 5 stories uit 'n langlys van 12 moes benoem. En was dit 'n moeilike taak ... maar dis met vreugde afgehandel en die uitslag is soos volg:
Riekie Greyling (in die middel van die foto) bevind haar baie duidelik en welverdiend in die eerste plek met 31 stemme vir "Die dood van Stefanus Roos". In die tweede plek is Eugene Pienaar (links bo) met 25 stemme vir "Moordvlug 728", in die derde plek is Stefaans Coetzee (tweede van links bo) met 24 stemme vir "Vrek soos 'n kakkerlak", vierde is Julanda van der Merwe met 22 stemme vir "Die swart hond" en vyfde is Adri van der Westhuizen met 20 stemme vir "Mag van bo". Met die uitsondering van Stefaans is almal Skryfgeheime-studente.
Die ander lede van die langlys is soos volg, kloksgewys van regs na links en in geen spesifieke volgorde nie: Elmien Ackerman met "Dodelike impak", Rika Wolfaardt met "Skuldgrens", Dawie Louw met "Die paaldanseres (en 'n nagadder)", Gert Hanekom met "Vaevuur", Karen van Vuuren met "Eerste indrukke", Ansie Nel met "Owerspel is geen speletjie nie" en Madi Hanekom met "Bloedspoor".
Hartlik geluk aan julle almal, ook diegene wat teleurgesteld voel. Die kompetisie was vanjaar besonder straf, julle kan met reg trots wees op julleself.
Bertha Lewis (links op foto) behaal 'n eerste plek in haar kategorie met haar inskrywing vir die ATKV-digiskryfkompetisie.
Adellé von Rönge Kotzé behaal die eerste plek in die Afrifiksie-skryfkompetisie met haar wetenskapfantasie "Tussen wêrelde". Chantal Pretorius behaal die eerste plek in die kategorie vir wetenskapfiksie met "Bewakers van die ruimte". Jaco van der Merwe spog met eervolle vermelding vir sy inskrywing "Die ridder".
Troula Goosen se opvolgjeugboek Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis het onlangs by NB Uitgewers verskyn. Troula was een van Skryfgeheime se eerste skryfstudente en presteer al jare lank oor grense heen. Die spookmis-storie is haar sewende jeugboek. Troula is ook 'n ATKV-wenner met Spooksoene wat destyds by Protea Boekhuis verskyn het.
Judy de Bruin se kortverhaal "Etiket" verskyn in die Huisgenoot.
Sowel Troula as Judy het Skryfgeheime se kinder-en-jeugboekkursus voltooi.
Tosca de Villiers skryf: "Dis so lekker om die goeie nuus met jou te deel: Daar is in Mei weer een van my verhale in rooi rose gepubliseer.
"Met die skryf van hierdie verhaal het ek swaar gesteun op die raad en wenke wat jy vir my gegee het met die skryf en herskryf van my verhale vir die Skryfgeheime-liefdesverhaalkompetisie verlede jaar.
"Nogmaals baie dankie."
Petra Gauntlett skryf dat sy ’n Kersfees-musiekblyspel geskryf het wat 'n vol saal getrek het. Dit het haar laat voel dat sy ’n verskil gemaak het. Daarna het sy ’n tweede kort produksie vir Paasfees geskryf met dieselfde gehoorreaksie. Sy is tans besig met ’n boek en geniet dit om alles toe te pas wat sy al geleer het." Petra is tans besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Amory Smith se digbundel met die titel Sielskos het pas verskyn. Amory se liefde vir die digkuns is aangewakker deur haar gereelde deelname aan die FAK Internasionale Afrikaans-Ekspo waar sy gereeld as ’n wenner aangewys is. Sy is onder meer deur die ATKV-onderwyskongres uitgenooi om van haar gedigte daar voor te lees. Amory het oor die jare van haar gedigte aan Skryfgeheime gestuur vir terugvoer en redigering.
Martelize Faber se verhaal Daar’s ‘n towerponie in my bed is onlangs deur Lapa Uitgewers in boekvorm gepubliseer.
Martelize het hierdie prettige ontvlugtingsverhaal aan Skryfgeheime gestuur vir terugvoer en redigering.
Sy het die Prenteboekkursus voltooi en is tans besig met die Kursus in Vryskutjoernalistiek.
Wess van der Westhuizen se boek, Spore in die sand, oor sy wedervaringe op sy motorfiets het onlangs verskyn.
Wess skryf: “Ek wil my opregte dank en waardering aan jou oordra. A.g.v. jou kursus het my skryfstyl heeltemal verander. Boonop is ek gemotiveer om my grense te oorskry en veel meer te bereik as wat ek oorspronklik beplan het.”
Wess het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus suksesvol afgehandel en daarna sy skryfwerk met groot entoesiasme voortgesit. Kontak hom gerus by [email protected].
Esmé Cupido skryf: "Ek laat weet jou net gou dat my kortverhaal 'Iemand vir Josephine' volgende week in Huisgenoot gepubliseer word. Ek is verheug! Baie dankie vir alles wat ek by jou leer."
Esmé is al verskeie kere gepubliseer, onder meer deur Kuier en Son, laasgenoemde onder die vaandal van "oom Sonnie se stukke". Sy is tans besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Madeleen Theron skryf: "My liefdesverhaal, 'Soos 'n seemeeu op die wind' is in die Huisgenoot gepubliseer.
"Ongelukkig is ek eers onlangs daarvan in kennnis gestel ... die persoon wat my moes laat weet het, was glo eers met verlof en kort daarna met siekverlof.
"Baie dankie vir al jou raad en bystand en ook die maandelikse nuusbriewe met bruikbare inligting en voorstelle. Die beste van alles is egter jou deurlopende ondersteuning en aanmoediging."
Judy de Bruin se verhaal "Die ooreenkoms" verskyn op 19 Januarie in Huisgenoot. Judy is 'n raakvatter uit wie se pen alreeds meer as tien stories in Huisgenoot verskyn het. Judy is tans besig met Skryfgeheime se kinderboekkursus.
'n Kortverhaal geskryf deur Skryfgeheime-oudstudent Driekie Grobler het onlangs in Huisgenoot verskyn en is opgevolg deur nog 'n kortverhaal ("Die aankommers") in dieselfde tydskrif.
Driekie skryf: "Ek het vanjaar vir die tweede agtereenvolgende keer die trofee vir die beste Afrikaanse rubriek vir die jaar by INK Skryf verower. Sonder die kursus wat ek by Skryfgeheime gevolg het, sou ek nooit hierdie hoogtes bereik het nie."
Driekie is 'n veelsydige skryfster wat haar nie tot een genre beperk nie. Luister HIER na haar voorlesing van haar gedig: "Ingeperk".
Martelize Faber skryf: "Ek het my skrywerskopieë van Op die blaarboot ontvang! Ek hou my eie boeke vas! Hier staan ek met Mica se storie in Afrikaans, Engels, Setswana, IsiXhosa en Sesotho.
"Wat dit vir my ekstraspesiaal maak, is dat die storie in al 11 landstale vertaal word.
"Op die blaarboot is 'n eerste leesboek vir kinders wat besig is om te leer lees. Dis nogal 'n uitdaging om 'n volledige storie in minder as 200 woorde te vertel."
Martelize se verhaal word deur Qualibooks uitgegee met Elanie Bielt as illustreerder. Martelize het die Prenteboekkursus voltooi en is tans besig met die Kursus in Vryskutjoernalistiek.
Kobus Breyl skryf: My eerste boek word eersdaags gepubliseer. Ek gee in die boek erkenning aan jou en die kursus wat ek by jou gevolg het. Dit het lank geneem, maar die ink is nou nat. Baie dankie vir jou nuttige wenke en leiding. Kobus se debuut Paaie deur die Karoo en ander stories is tans beskikbaar. Kobus het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus gevolg.
Hannes Pieterse skryf: “Ek het goeie nuus van RSG gekry. My radiodrama 'Die dood van 'n skrywer', was onder die top 18 in die RSG-kompetisie. Dit word in die Kaapstadse Seepunt-ateljee opgeneem met Bettie Kemp as regisseur en op 10 November om 20:00 uitgesaai.”
Hannes het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus gevolg.
Melanie Pienaar skryf: “Ek het onlangs ’n bietjie goeie nuus gekry: Twee van my gedigte, ‘Ons is nie meer dapper nie’ en ‘Oggendlig’, word in Inkspraak 3 gepubliseer, en my graad 3-boekies vir Oxford se Aitsa-leesreeks is ook vir publikasie aanvaar. Dit voel baie onwerklik - en niks daarvan sou moontlik gewees het sonder jou kursusse nie."
Melanie het die Prenteboekkursus en die Kursus in Vryskutjoernalistiek gevolg.
Rodeen Visser skryf: "Ek het met my luisterstories voortgegaan en het tans 49 kinderstories op my YouTube-kanaal. Maroela Media het in Desember 2021 'n storie oor Sprokieland geplaas en een van my verhaaltjies 'Wie vat ons kos' is op RSG uitgesaai. Ek is baie dankbaar oor dit alles."
Rodeen is tans besig met die Kinder-en-jeugboekkursus.
Jacques le Roux skryf: “Goeie nuus! My manuskrip, Anderkant Helshoogte, is deur Turksvy aanvaar.
"Ek het aan die flapteks begin dink. Die skryfproses is moeilik, maar die flapteks is veel moeiliker! Is dit moontlik dat jy kommentaar kan verskaf, ek sal graag jou mening wil hoor.”
Jacques het sy manuskrip na Skryfgeheime gestuur vir redigering voordat hy dit aan Turksvy voorgelê het.
Die wenners van Skryfgeheime se kompetisie vir liefdesverhale is, kloksgewys van links bo: Elsabe Fouche in die eerste plek met "Kissie van onthou", Helene Pretorius in die tweede plek met "Skoene met strikke" en in die gesamentlike derde plek, Tosca de Villiers met "Die hart se snare", Louis Lategan met "Gemmerkoekie" en Christine Stoman met "Skynduiwel".
Tosca skryf: "Die feit dat daar met hierdie skryfkompetisie terugvoer gegee is, het 'n enorme verskil gemaak. Ek gee regtig nie om om voor te begin en oor te skryf nie - mits ek rigting het."
Helena Gunter het Skryfgeheime se Algemene Kreatiewe Skryfkursus voltooi. Daarna het sy nagraads by die Universiteit Stellenbosch onder leiding van Marlene van Niekerk gestudeer. Sedertdien gaan sy van krag tot krag. Kom gesels met Helena by hierdie heuglike boekeoggend.
RSVP: Carla 021 882 9105
Jaco van der Merwe skryf: "Een van die stukkies goud wat jy heel aan die begin van die Algemene Kreatiewe Skryfkursus met ons deel, is om vir kompetisies in te skryf.
"Beste advies, maar ek moet erken, daardie onsuksesvolle inskrywings maak 'n bietjie seer. Dis veral uitdagend wanneer ek in genres rondbeweeg waarin ek minder tuis is, soos die fantasie-genre, wat wetenskapfiksie en die stedelike fantasie insluit.
"Nie dat dit my afskrik nie! Ek takel enigiets!
"Gelukkig vir my ego was ek 'n Woordfees-finalis met my storie oor zombieskape. En dit nogal met die karakter wat ek gedurende my kursus geskep het. Ek het ook laasjaar ingeskryf vir Afrifiksie se novellekompetisie en pas gehoor ek deel die eerste posisie.
"Het myself toe verder uitgedaag deur 'n tweede novelle as opvolg te skryf. Saam gesien, is dit 'n stewige verhaal van ongeveer 250 bladsye. Selfde wêreld (eerder heelal), selfde karakters.
"Dis vir my heerlik om my selfgeskepte storiewêreld weer en weer te besoek: karakters raak vriende, die wêreld word 'n tuiste. Sonder Skryfgeheime sou ek nie tyd bestee het met hedendaagse towenaars, monsters en Fae nie. Om nie te praat van huursoldate wat in die heelal rondreis, slawehandelaars takel en teen bonatuurlike magte te staan kom nie."
Jaco het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus aangepak en voltooi en dit opgevolg met 'n groeiende versameling suksesverhale.
DeWet Bisschoff se gedig "Bosoggend-voetpad" is gepubliseer in SA Jagters.
Dis 'n groot prestasie, aangesien dit geen geringe taak is om eerstens 'n publiseerbare gedig te skryf en tweedens die regte publikasieplatform daarvoor te vind nie.
DeWet is tans besig met die Algemene Kreatiewe Skryfkursus.
Adelle van Wyk skryf: "Ek het gedink om jou te laat weet ek het Saterdag die Writers' Guild of South Africa se Muse Award gekry vir my RSG-radiodrama (Makkie onthou).
"Ek is ook een van PEN se vyf Toegang-wenners met my kortverhaal, 'Hipoksie'. Ek het besef dat die gedeelte van die kursus wat ek reeds by jou afgelê het my baie help, ek moet eenvoudig die tyd 'maak' om dit te voltooi."
Die beoordelaars van die PEN-kompetisie beskryf die meerderheid inskrywings as vindingryk, aangrypend en dikwels baie slim uitgewerk. Wat die vyf wenverhale laat uitstyg bo die ander 285 inskrywings is hul eerlikheid, deernis en tydloosheid, en die feit dat hulle in die beoordelaars se gemoed bly vassteek.
Karen Olivier skryf: "Nal'ibali het een van my stories gekies vir hulle opvoedkundige leesprogram. Die stories word in verskeie Afrika-tale vertaal en sodat soveel moontlik kinders gratis leesstof kan kry. Die titel van my verhaal is 'Sespootskool hou atletiek'."
"Diegene wat belangstel, kan gerus stories van tussen 800 en 900 woorde, wat vir 5-8-jariges geskik is, skryf en skenk. Daar is geen vergoeding aan verbonde nie, maar jy ontvang wel erkenning as outeur.
Judy de Bruin se kortverhaal "Bolle en knolle" verskyn in Huisgenoot.
Judy is 'n uitskieter, sowat agt van haar verhale is alreeds deur Huisgenoot gepubliseer. Sy is tans besig met Skryfgeheime se kinder-en-jeugboekkursus.
Judy skryf: "Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp."
Skryfgeheime-skrywers wie se verhale vir hierdie bundels gekeur is, sluit in: De Wet Hugo, Celia du Plessis, Elrien Scheepers, Helene de Clercq, Ilze Beukes en Renera Ferreira.
Klik vir Die skool vir rampspoedige talente
Klik vir Blinkertjies in Pa se baard
|
|
Esmé Cupido het daarin geslaag om vir haar 'n nis te skep by Son. Sy skryf: Ek skryf sedert verlede jaar verhale onder die vaandal van "oom Sonnie se stukke". Hulle het seker al agt gepubliseer. Ek is dankbaar, want ek sukkel om my stories by Kuier in te kry, alhoewel hulle darem twee van my artikels geplaas het. My nuutste verhaal "Van starters tot poeding" verskyn eerskomende week in Son. Dankie, Son, en die teksredakteur wat my as opkomende skrywer 'n platform bied vir my skryfwerk.
Esmé het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus gevolg.
Melanie Pienaar skryf: Ek het vir Maroela Media 'n artikel oor diereskuilings geskryf, wat die storie van die aanneming van ons eie hondjies insluit. Ek kan nog steeds nie glo dis werklik gepubliseer nie - dit sou glad nie gebeur het sonder Skryfgeheime nie. Melanie het die Prenteboekkursus sowel as die Kursus in Vryskutjoernalistiek suksesvol afgehandel en spring sedertdien deur hoepels.
Petra van Tonder skryf: My suksesse sluit in my storie "Die gekkespul" wat gekies is om in FAK se Flink te verskyn, tesame met 'n storie oor 'n seemeeu wat op 'n standbeeld se kop sit. In Januarie het Litnet my artikel oor joernaalterapie gepubliseer. Vir hierdie artikel was ek bevoorreg om 'n onderhoud met Amor van der Westhuyzen te voer.
Vir Flink het ek oor die invloed van musiek op die demensielyer geskryf. As gevolg daarvan is ek gevra om 'n praatjie by 'n kerk te lewer en dit was regtig die grootste pret, alhoewel dit my eerste ingewing was om "nee" te sê.
Ek blog ook en werk aan 'n boek oor joernaalskryf. Tans werk ek saam met Liezl aan 'n artikel oor menopousale vetjies.
Petra het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus voltooi en het ook die Kursus in Vryskutjoernalistiek aangepak. Sy gryp elke geleentheid aan en vind dat die een ding na die volgende lei.
Troula Goosen spog met nog 'n nuwe publikasie. Sy het die kinder-en-jeugboekkursus 'n klompie jare gelede voltooi en word sedertdien op 'n gereelde basis gepubliseer. Sy is 'n bekroonde skrywer en het 'n ATKV-veertjie verower vir haar Skryfgeheime-kursusverhaal, wat as Spooksoene deur Protea Boekhuis uitgegee is.
Haar nuwe boek, Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos, sal in Mei aanlyn en op die winkelrakke beskikbaar wees. Die uitgewers is Human & Rousseau, 'n NB-druknaam. Ons sien uit na hierdie spannende speurverhaal met die vreemde kinkel ...
Jan Bonthuys skryf: "Ek is nou baie opgewonde. Baie, baie later... na vele kere se herskryf, kan ek hierdie item afmerk: My boek is in die finale redigeringstadium. Die omslag is afgehandel. Dit behoort in Feb/Maart gepubliseer te word. Skryfgeheime was die sleutel wat die skryfdeur vir my oopgesluit het."
Marissa Fourie het in 2021 gematrikuleer en haar naam is alreeds in druk. Sy toets haarself gereeld aan die skryfmark deur 'n aktiewe deelname aan skryfkompetisies:
Sy is die wenner van die Skole Poësie-afdeling en Poësie Skoletrofee, aangebied deur die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, en een van haar gedigte is in hul bundel opgeneem.
Sy verower die tweede plek in die Ink Skryf in Afrikaans Skryfkompetisie, en drie van haar gedigte verskyn in hul bundel. Nog 'n gedig deur haar geskryf, is opgeneem in 'n bundel van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns Poort-skryfkompetisie.
Marissa het die Praktiese Kreatiewe Skryfkursus voltooi en studeer vanjaar verder aan die NWU.
Albert Short is tans besig met Skryfgeheime se kinder-en-jeugboekkursus en skryf alreeds oor genres heen. Hy neem deel aan die RSG-radiodramakompetisie (2021) en ontvang die tweede prys van R25 000 vir sy hoorspel "Naand Josef", 'n luisterspel oor twee eensame, bejaarde susters wat 'n spook oproep. Die beoordelaars beskryf hierdie makabere riller as "komies, briljant en uitstekend".
Luister hier na van Albert se hoorspele:
Uit 'n totaal van 366 inskrywings landswyd is twee Skryfgeheime-studente se kortverhale gekeur vir opname in die Woordfees-kortverhaalbundel. Veels geluk, Helena Gunter en Antoinette Diedericks met hierdie groot prestasie.
Helena het die Algemene Kreatiewe Skryfkursus 'n klompie jare gelede voltooi en Antoinette die Kinder-en-jeugboekkursus.
Hierdie skryfkompetisie is besonder gewild, onder meer oor die groot prysgeld wat die algehele wenners sowel as alle gekeurde inskrywings ontvang.
Lees HIER meer
Vier nuwe Oxford University Press-skrywers is gebore, naamlik: Soné Vollgraaff (links bo), Madeleen Theron (regs bo), Molly Lubbinge (regs onder) en Melanie Pienaar (links onder). Hulle het deelgeneem aan 'n kreatiewe leesboekprojek.
Melanie Pienaar skryf: "Ek het vier boekies vir fase 1 en twee vir fase 2 geskryf. Dit voel nog onwerklik om die woorde te tik, maar die kontrakte is geteken. Die projek was vir my as beginner 'n geweldige uitdaging, maar ook 'n reddingsboei en 'n ligpunt in 'n besonder moeilike jaar. Dankie vir die geleentheid."
Elsie Fourie (op foto) presteer met 'n inspirerende artikel by LiG-tydskrif. Haar kursusartikel is tans vir oorweging by Lééf-tydskrif. Sy skryf: "Dit was 'n wonderlike geleentheid om die vryskutjoernalistieke kursus te volg. Dit was 'n absolute fees."
Driekie Grobler en Marieta McGrath verskyn op die kortlys van Versindaba se Persiese kwatryn-kompetisie en word saam met 15 ander finaliste en die 3 wenners by die Afrikaanse Taalmonument vereer. Lees meer.
Troula Goosen (links onder), Renera Ferreira (links bo), Helene de Clercq (regs bo) en Ilze Beukes (regs onder) het pas die heuglike nuus ontvang dat hulle verhale opgeneem word in die Penguin-Lapa-bundels wat in April/Mei 2022 gaan verskyn en in plaaslike skole bemark gaan word.
Troula het "Oeps, waar is die maan heen?" geskryf, Renera spog met 'n humoristiese drama, "Die Willeblombende en die wêreldwye web", Helene met "Die smaak van oorwinning" en Ilze met "Dit is goed" en "Die weeskind en die sneeuheks".
NUUSBRIEF:
Suksesse
Kompetisies
Promosies
Maandeliks
Ek wil net vertel van die vrugte van my Skryfgeheime-kursus. My eerste Afrikaanse roman (en kursusverhaal), Die huis op die hoek, is deur Penguin Random House gepubliseer. Dis al weke lank op die Nielson-lys as een van die topverkopers. Sonder jou raad en insette sou ek dit nie kon doen nie. Ek deel hierdie nuus met jou en jou studente sodat hulle waardering vir en vertroue in julle kursusse kan hê. Madeleine Louw Blignault
O, ek geniet die prentestories vreeslik baie! Ek is 74 en my dogter 43 en ek deel kort-kort iets met haar. Dit bring soveel heerlike herinneringe terug. Ek was 'n bibliotekaresse wat baie storie-ure aangebied het. Griet Pretorius
Ek het tyd spandeer om weer deur die modules, voorbeelde en terugvoer te werk en het opnuut waardering gekry vir jou aanslag, eerlikheid en kennis. Jou terugvoer is objektief en opbouend. Baie dankie daarvoor. Corrie Botha
Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap om my kortverhaal en dekbrief vir jou te stuur. Dankie vir die terugvoer en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit. Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie. Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou wenke is die vuurhoutjies wat my kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Jou kursus bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk, wenke sowel as motivering. Jan Bonthuys
Die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie verhaal werk. Antoinette Venter
Die Skryfgeheime-kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek is 'n Afrikaans onderwyseres en gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het ook geweldig baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit. Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie. Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde. Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie. Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraag-teken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adélle von Ronge Kotzé
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers
