Baie geluk aan die wenners van Skryfgeheime se distopiese wedstryd, wat amper epiese afmetings aangeneem en my stoutste verwagtinge oortref het. Die inskrywings was uiteenlopend en die verskeidenheid temas en benaderings het my aangenaam verras.
Ek het hierdie ietwat onkonvensionele wedstryd baie geniet, dit was aansienlik gewilder as wat ek verwag het en heelwat meer werk vir my as wat ek voorsien het. Definitief het iets omtrent die onderwerp tot 'n groot groep mense gespreek - wat presies, laat ek maar aan die verbeelding oor.
Hierdie bladsy is tydelik beskikbaar aan alle deelnemers en gaan kort na die naweek gesluit word - lees dus dadelik. Tegnies is die stories wat hieronder verskyn dus nie "gepubliseer" nie en die wenners kan hul geredigeerde stories steeds vir enige kompetisie inskryf of vir enige tydskrif of platform stuur.
Ongelukkig het die idee vir hierdie wedstryd 'n bietjie laat in die dag by my begin groei - wat beteken dat ons nie die Woordfees-paal kon haal nie. Maar so leer 'n mens, en gelukkig is daar (gewoonlik) altyd 'n volgende keer.
Die drie wenners was bitter moeilik om aan te wys. My redding was die - myns insiens - briljante ingewing om die verhale op die kortlys na diegene te stuur wat wel 'n storie ingestuur het vir die wedstryd - want nie almal het nie(!)
Die betrokke deelnemers het so flink gestem dat hulle twee verhale in die derde plek aangewys het, wat beteken ek moes vier (eintlik vyf) verhale redigeer - wat 'n groot plesier was.
EN DIT IS HOE JULLE GESTEM HET:
Eerste plek: Neandra Bresler met "Tot die laaste druppel".
Tweede plek: Renda Fourie met "Die waarde van hoop".
Derde plek: Cecilia Hofmeyr met "Blootstelling" en Riaan Conradie met "Die laaste trein
uit Vryheid".
En op die ererol: "Raakvrate" deur Marelize Swanepoel.
BAIE BAIE GELUK AAN JULLE ALMAL, DIT IS WELVERDIEN.
Aan diegene wat hierdie keer uitgeval het - daar is altyd 'n volgende keer om jou staal te wys. Geniet die wenstories wat hieronder verskyn. Lees dit. Herkou dit. Leer daaruit. En probeer weer.
Tot die laaste druppel
Neandra Bresler
“Dis afgesny, die varke! Vier dae voor die einde van die maand.” Kelby slinger die knyperbord tussen die rye waterkanne in. “Het Ma gehoor? Dis blerrie twee duisend ses honderd rand se water.”
“Ek het gehoor.” Brigit druk sy hand saggies. Die laaste middagson stort teen die trappe van die ondergrondse stoor af en vlam op in Kelby se hare. Haar eie hare is nog dieselfde diep koperkleur as syne, al is sy al aan die ander kant van veertig. Sy sug. “Hulle het seker weer die tariewe opgestoot – sonder waarskuwing. Die Sederville Munisipaliteit stel ook nooit teleur om óns teleur te stel nie, nes iemand anders wat ons ken.” Sy aarsel. “Wag 'n bietjie, jy dink nie hy ...?”
“Dis nie onmoontlik nie, hy is die laaste tyd glibberiger as ooit én hy het ’n sleutel. Ek sal by Kobus uitvis, sy meisie werk by die Munisipaliteit.”
“Nooit gedink die woorde sal uit my mond kom nie, maar ek hoop regtig dis die tariewe. Maak seker al die krane is toe, en laat ons toesluit, dis amper tyd dat hy huis toe kom.”
“Asof ek nie weet nie.” Kelby probeer nie eens die wrewel in sy stem keer nie. “Kan Ma weer vir my ’n ekstra bord uitskep?”
“Ek het nie nou die energie, maar wanneer ek jou die dag hieroor uitvra, moet jy liewer nie vir my lieg nie.” Sy kyk vas in die onskuldige oë van haar rooikopseuntjie van vergete. “Ek los dit vir jou in die oond soos die ander aand.”
* * *
Brigit pak die groente in linies op die kapbord. “Hier was vandag ’n man, glo gehoor hier is iemand wat hom kan uithelp met ’n paar liter. Sal betaal, sê hy. Weet jy iets daarvan, Stein?” Dis al maande dat haar wederhelf dieselfde gevoel in haar wakker maak as Sederville se Munisipaliteit.
“Ek praat met jou.” ’n Hoop groente lê kop-af onder die kapmes in Brigit se hand.
“Bliksem, vroumens! Kan ’n mens nie in vrede ’n drankie geniet in hierdie huis nie? Ons moet geld maak, vrou! Maar elke armlastige Piet en sy maat kry dit verniet by jou.”
“Ek het gevra of jy iets daarmee te doen het, Stein?”
“Moenie met my praat of ek ’n kind is nie, vroumens. Ek is nie Kelby nie, ek sal jou bliksem!” Die glasstukke versplinter agter Brigit. “Nog ’n glas in sy moer, is jy nou tevrede? Ons het ’n bliksemse fontein op ons erf, Brigit. Ons is ryk! Ons is veronderstel om soos Blackwell te leef, of soos Miesies Styx in haar paleis.” Stein se bles blink in die lamplig, sy maag stoot deur die knope soos die weersin in haar keel.
Haar woorde is afgemete: “Jy het presies geweet waarvoor jy jou inlaat voor jy sak en pak hier ingetrek het, Stein Veldman. Toe was liefde kamstig genoeg vir jou. Jy moet my nou mooi verstaan, dis mý fontein, nie ons s’n nie. Dis mý familie se grond, mý reëls.”
“Moenie weer daarmee begin nie, Brigit.” Stein se tjankstem pas perfek by sy figuur. “Jy is regtig onredelik. Jy wil nie eens vir ons ’n spoeltoilet laat insit nie. Is dit te veel gevra vir ’n man om sy besigheid in gemak te wil doen?”
Brigit kastreer die groente met een beweging van haar pols. “Jy sal nog dink jy doen jou besigheid in gemak, dan is die Naaldekokers hier om uit te snuffel waar die geld vandaan gekom het. Die loodgieters is almal omgekoop.” Sy besef eers sy praat met die mure toe sy die enjin hoor.
Kelby gril toe hy instap en die glasstukke onder sy skoene versplinter. “Ek sal eerder nie vra wat hier gebeur het nie. Maar ek sien daar is ’n nuwe rotstuin agter die aalwyne.”
“Ja. Hier was vandag ’n man.”
* * *
Dis die negende jaar sonder reën in Sederville, tien tot elf jaar in ander streke, twintig jaar in ander lande. Brigit se oë soek tussen die gloeiende aalwyne en kom tot rus op die hopies pienk en geel vygies.
Ses jaar terug is die eerste twee rotstuine tussen die aalwyne geskep. ’n Lewe geoffer en ’n ander gevat, reg langs die fontein se oog. Daardie dag het sy die liefde van haar lewe onder ’n stapel klippe gegroet. Elke keer wanneer sy gaan loer of daar nog water in die fontein is, hou sy haar asem op. Daar gaan ’n dag kom dat die fontein genoeg gegee het, maar tot dan sal sy die water met haar lewe beskerm, nes Kelby se pa daardie dag.
“Dis die laaste een. Ek hoop jy besef watter verskil jou maandelikse bydrae maak, Brigit.”
Brigit se oë verlaat nie die helderkleurige hopie nie. “Dis twintig duisend liter, K.B. Watter verskil kan dit regtig maak?” Brigit voel skielik klein toe K.B. voor haar kom staan, elke bult en gleuf van sy goed gedefinieerde spiere sigbaar deur sy natgeswete hemp. Jare se saamwerk om vars water aan behoeftiges te voorsien het ’n hegte band tussen hulle laat vorm, tog weet hulle maar min van mekaar.
“Jy’t nie daai kinders se magies gesien nie, jy wil ook nie. Opgeswel van die bilharzia. Dis mense soos jy wat hulle ’n kans op beter gesondheid gee.” K.B. se stem kontrasteer skerp met sy outokratiese statuur.
“Ek het gehoor van die gekontamineerde water wat op die swartmark gekoop is. Dit was ’n gesin van Lelieslaagte, as ek reg onthou.”
“Lelieslaagte, ja. Ten duurste aan die water betaal sodat Burgemeesteres Styx en haar Naaldekokers nie moet uitvind dat hulle geld geërf het nie.”
Brigit sug. “Nog agt maande voor die verkiesing! Styx se sponsie het nou al te lank en te veel opgesuig. Almal sê generaal Blackwell en sy party gaan tot ons redding kom.” Sy ken nie Sederville se polisie-generaal nie, en sy het ’n vrees dat die Party vir Almal geen verskil gaan maak nie en net die laaste bietjie bloed wat Styx agterlaat uit Sederville sal suig.
K.B. vee die sweet van sy voorkop af. “Genoeg daarvan, hoe gaan dit met jou? Lyk of iets jou byt.”
“Nie gedink jy ken my so goed nie. Ek het jou hulp nodig met iets, ek het inligting nodig. Help my gou om die skerm voor die ingang te beveilig, ek het nou die dag ’n hommeltuig gesien.”
Brigit stap vooruit, haar hande natgesweet. Haar seun Kelby en sy oorlede pa was die enigstes vir wie sy ten volle vertrou het. Dis tyd dat sy ’n kans op nog iemand waag. “Jy ken mos mense wat – hoe sal ek dit stel – ander mense dophou.” Sy sukkel eers om die woorde uit te kry, maar K.B. se rustigheid gee haar vertroue. “Dis Stein, hy steek iets vir my weg.”
* * *
“Daar was baie meer mense by die diens as laas Sondag. Ek sien jy en Talia is danig met mekaar. Het sy of haar pa al werk gekry?” Brigit gaan sit met haar beker tee in die hand tussen Kelby en Stein op hul stoep. Interessant dat die aalwyne vanjaar soveel dowwer as gewoonlik is. Ook dors. Soos almal.
“Nee, Ma, nog niks, dit gaan maar rof met hulle. Sy gaan sny nou en dan iemand se hare by hulle huise, maar dit lyk nie of die haarsalonne ooit weer gaan oopmaak nie. Haar pa gaan dalk saam ons by die plantasie kom werk.”
Stein gee ’n onsimpatieke snork. “Hy moes nooit daai bevordering geweier het nie. Almal weet as jy soos hy werk, word jy bevorder. Dis hoekom ons ander net doen waarvoor ons betaal word, niks meer nie.”
“Hoe moes hy geweet het hulle gaan hom afdank? Hulle het mos geweet die salarisverhoging gaan hom in ’n hoër vlak plaas. Hy sou oor die sewe rand ’n liter moes betaal en sy ma bly ook nog by hulle!” Die hitte kruip op in Brigit se nek, haar rug is natgesweet onder die dik vlegsel. Sy sukkel die laaste tyd omtrent om haar irritasie weg te steek.
“Nou ja, laat hy maar ’n voorbeeld vir ander wees, hoor jy, Kelby? Mense praat reeds oor jou oortydwerkery. Jy moet ook nie te gemaklik raak met Talia nie, kry eerder enetjie wat vir haarself kan sorg.”
Brigit sit haar leë beker neer op die tafel voor haar. “Bly net weg van daai Sahara,” sê sy smalend. “Vanoggend geruik of sy in Chanel gebad het. Wie aan dié kant van die plantasie kan deesdae nog parfuum bekostig?”
Sy geniet dit toe Stein hom dadelik vererg. “Niks fout met ’n vrou wat wil lekker ruik nie. Dalk het sy dit geskenk gekry. Jy besef seker die tonge is net so lekker los oor jou hare. Wie aan hierdie kant van die plantasie kan dit deesdae bekostig om sulke lang hare te versorg?”
Stein se woorde koggel nog op die stoep toe smyt Brigit die dik vlegsel voor hom op die tafel en steek dit vas met ’n mes.
“Is jy van jou kop af, vroumens? Gaan drink ’n Valium. Ruk jou reg! Ek loop nou!”
Kelby wag tot die geluid van die enjin dof raak in die verte voor hy uitbars van die lag. “Ma is ’n regte drama queen, was dit nou nodig?”
Brigit grinnik. “Ek dreig al hoe lank om my hare af te sny. Het nog net nie die regte motivering gehad nie.” Sy wikkel die mes los uit die koperdrade en vryf geamuseerd oor die lem. Haar impulsiwiteit verbaas haar lank al nie meer nie.
“Moet erken, die kyk op sy gesig was dit werd. Ek sal vir Talia vra om oor te kom en iets aan Ma se kapsel te doen.”
* * *
’n Bondel pers vygies verdwyn saam met Brigit se tuinhandskoene in ’n swart sak toe K.B. se voertuig om die draai kom.
Hy klim uit en druk ’n koevert in haar hand. “Ek weet nie wat jy omtrent hierdie inligting gaan doen nie, Brigit, maar Stein is besig om jou lewe in gevaar te stel. Wat jy ook besluit, wees versigtig en onthou, jy ken my nie, K.B. bestaan nie.” Sy groot hand sluit om haar skouer. “Jy moet jou spore deeglik toevee, hoor, ek praat nou nie net van Stein nie. Die Naaldekokers is besig om van huis tot huis te gaan. Hulle keer elke plek om terwyl hulle ouditeur die bankstate nagaan. Van daai gesinne is vermoor, Brigit, kinders en al. Oordosis natrium in hulle drinkwater.”
Die koevert bewe skielik in haar hand. “Dis hipernatremie. Styx het hulle vergiftig. Hoe kan ons dit stop, K.B.? Hoe kan ons toelaat dat hulle ons een vir een afmaai? Die verkiesing kan nie gou genoeg paasvind nie. Binnekort gaan daar niemand oor wees om vir Blackwell te stem nie.”
“Bly jy net veilig, Brigit.” Sy hand beweeg van haar skouer na haar nek. “Kort hare pas jou.”
“Ek het ’n voertuig sien wegry, wie was dit?” Kelby se oë vernou agterdogtig.
“Iemand wat my met iets gehelp het. Hoekom is jy so vroeg tuis?” Brigit laat glip die koevert onder haar skootrekenaar in, haar vingers krap onwillekeurig deur haar kort hare.
“Iemand het op Kobus geklik. Hy het by ’n informant gehoor dat die trokke vanaand tussen die ou seders gaan waterhaal. Hulle het almal ontruim en die rottweilers ingejaag. Die Vader weet, hy was so naby daaraan om Styx en haar trawante se waterverduistering oop te vlek.”
“Hulle steel nog al die jare ons water. Die plantasie maak dit makliker om daarmee weg te kom.”
“Ek hoop hy oorleef dit, ek het nog niks van hom gehoor nie.” Kelby gooi sy foon op die kombuistafel neer – langs die sak vygies. “En dit, Ma?” Hy kyk onrustig na haar. “Moenie vir my sê daar is nog ’n rotstuin tussen die aalwyne nie, Ma kan nie so voortgaan nie.” Hy stap na die venster, sy oë soekend.
“Die pers kleur sal ’n mooi kontras vorm.” Sy gaan staan langs hom. Sê gedemp: “Dit was ’n Naaldekoker. My gistermiddag kom lastig val met lugfoto’s.” Sy kyk stip na hom. “Daardie hommeltuig wat ek gehoor het … My aalwyne staan glo uit, en hy wou kom kyk of hier dalk ’n ondergrondse waterbron is.” Sy vee oor haar stomp hare. “Hy kon nie my ystee weerstaan nie.”
Kelby skud sy kop.
“Ma besef dat nie almal van ystee hou nie. Bring daai flippen vygies, ek het nou tyd, die klippe kan nie so kaal daar lê nie.”
* * *
“Dis nou die soveelste maand dat ons water vroeg afgesny word. Die tariewe het nie verhoog nie, ek het seker gemaak by die munisipaliteit. Boonop raak daar elke maand van my houers weg. Jy weet wat ’n mens daarvoor op die swartmark kry! Waarmee hou jy jou besig, Stein? Of moet ek eerder vra met wíé is jy besig?” Brigit kan haarself nie langer beteuel nie, sy hét nou die bewyse.
“Vra jou seuntjie, hy’s nie so onskuldig soos jy dalk dink nie. Ek het daai Talia al ’n paar keer hier sien rondsluip. Dit gaan rof daar by hulle.”
“Gee my stel sleutels terug en voertsek uit my lewe uit.”
Stein haal die bos sleutels stadig uit sy broeksak en swaai dit voor haar rond. “So maklik raak jy nie van my ontslae nie, vroumens. Net een oproep, dan sit julle twee op straat – of in die tronk. Ek gaan uit, moenie wakker bly nie.” Hy sit die sleutels net so stadig terug en stap uit.
* * *
“Middag, mevrou, generaal Blackwell is hier om u te spreek.”
Brigit knik kalm vir die jong konstabel wat voor haar deur staan. Sy het hierdie oomblik al herhaaldelik in haar gedagtes laat afspeel. Eintlik voel sy geëerd dat die Generaal self gekom het om haar in hegtenis te neem.
“Generaal Blackwell, mevrou.”
Die konstabel tree agteruit en Brigit sluk die woorde terug wat oor haar lippe wil spring toe die man met die perfekte uniform aan naderkom en vir haar met sy mond beduie om stil te bly.
Hy steek sy hand uit. “Blackwell, generaal Kano Blackwell, bly te kenne.”
Brigit trek haar asem skerp in. So dít is dan die ware identiteit van haar jare lange vriend en vennoot.
“Ons vra om verskoning dat ons u onder hierdie omstandighede lastig val. Ons is hier in verband met die ondersoek na die verdwyning van u man, Stein Veldman. U het hom twee dae gelede as vermis aangemeld, as my inligting korrek is.” K.B. se stem is buitengewoon hard en saaklik.
“U inligting is korrek.” Sy voel hoe hy haar hand ’n drukkie gee en die kyk in sy oë verseker haar dat hierdie indrukwekkende man inderdaad haar vriend is.
“Ons het genoegsame bewyse dat hy betrokke was by die onwettige koop en verkoop van water. Ons het beslag gelê op twee honderd vyf en sewentig duisend rand in kontant wat hy weggesteek het by ’n vriendin, Sahara Jansen. Mevrou, daar is ook bewyse dat u man en Sahara in ’n romantiese verhouding betrokke was. Sy is tans in aanhouding. Ek is baie jammer om hierdie nuus met u te deel. Die harde waarheid is dat ons u man miskien nooit sal opspoor nie. Nie lewend of dood nie. Die swartmark waarby u man betrokke was, is inderdaad ’n duister wêreld. Ons hou u op hoogte van enige verwikkelinge en verwag dieselfde van u.”
Brigit besef sy hou nog heeltyd haar asem op. “Ek ... ek weet nie wat om te sê nie. Ek dink … dankie. Dat julle laat weet het, bedoel ek.”
“Ek verstaan u bedoeling, mevrou. Sterkte.” Haar vertroueling se oë versag toe hy sy besigheidskaartjie in haar hand druk.
Terwyl hy wegstap, vloei die laaste bietjie onsekerheid uit Brigit se liggaam, saam met die vars geskinkte ystee wat sy in die wasbak uitkeer.
* * *
“Ma moenie Ma se vygies op hierdie een mors nie, kaktusse is reg.” Kelby rol nog ’n klip nader. “Ons moet seker die munisipaliteit in kennis stel dat ons nou net vir twee persone water benodig.”
Brigit trek ’n doring uit haar tuinhandskoen. “Vir wat? Ons is mos steeds drie. Talia kan in die vervolg haar bord kos saans saam met ons aan tafel kom eet.”
“Ek het vermoed Ma weet van haar.”
Emosie stoei in Brigit se gemoed. Sy is moeg, uitgebrand, maar die vrede van verligting is groter as dit alles en laat haar amper opgewonde voel. “Jy moet my net een ding belowe, my seun.”
Kelby steek die tuinvurk diep tussen die kaktusse in. “Wat, Ma?”
“Dat ons water altyd in die regte hande sal wees.”
Brigit onderskep ’n wegholtraan. Met haar seun se arm om haar skouers aanskou sy die hopies tussen die aalwyne se vlamme. Sommiges is met helder vygies beplant, ander met kaktusse. Afhangend.
Kelby knik. “Ek belowe, Ma. Tot die laaste druppel toe.”
Die waarde van hoop
Renda Fourie
“Ons moet ernstig daaraan dink om wetgewing daar te stel om kinders op ’n vroeë leeftyd uit hulle huise te verwyder,” sê Kirsten Mareus. “Daar is nog steeds te veel beïnvloeding deur sommige ouers.”
Lander kan nie die opruk van sy kop keer nie en word koud toe hy Mareus se spekulatiewe blik onderskep. Is dit ’n waarskuwing? Hy kyk af na die breekgoed wat hy besig is om op ’n skinkbord te pak en rangskik sy gelaatstrekke. Lyk dom. Beweeg stadig. Kry ’n verveelde uitdrukking op jou gesig. Die moeilikste is die oë. Hoe haal jy die intelligensie uit die oë?
Hy stap met die volgelaaide skinkbord uit die raadsaal waar die Kring van Wetgewers vergader is. Sy hande bewe toe hy die skinkbord in die kombuis neersit.
Dankie tog, dis amper tyd om huis toe te gaan. Hy tap water in die wasbak. Hoe wens hy nie dat hy so ’n luukse vir sy ma beskikbaar kon stel nie. Net die regeringsamptenare se geboue en huise het al die mod cons. Oordadige geriewe, word gefluister.
Wie is Kirsten Mareus werklik? Blykbaar ’n briljante regsgeleerde in die Ou Orde, voor die Groot Oorlog. Wat was in sy blik? ’n Waarskuwing dat hy nie moet wys dat hy geluister het nie, of ’n besef dat Lander te veel gehoor het? Maar watter soort mens wil kinders wegneem van hul ouers?
Toe hy klaar is, gaan hy na die klokkamer waar Jakka agterstevoor op ’n omgedraaide stoel sit by die tafel waar die register gehou word. “Ek moet elke dag vir jou wag,” raas sy. “Al die ander is reeds weg. As dit weer gebeur, rapporteer ek jou.”
Sou Jakka al van die versamelnaam ‘werknemers’ gehoor het? “Jammer. Daar was vandag baie raadslede en ek moes alles skoonmaak.”
Jakka se gewone meerderwaardige grinnik pronk op sy gesig. “Die kastig briljante wiskundige ... of wetenskaplike. Wat ook al. En kyk wat doen hy nou?”
Lander bly stil. Een maal ’n boelie, altyd ’n boelie. Jakka probeer al die afgelope twee jaar ’n konfrontasie uitlok. Geen twyfel by Lander dat hy tweede sal kom nie.
Hy kon dit nog altyd regkry om Jakka se uittartings te ignoreer, maar nie vandag nie. Nie nadat hy vanoggend sy ma met ’n koppie koffie in die hand by die kombuisvenster sien uitstaar het nie. Op daardie oomblik het die ou wrewel van hom besit geneem en kon hy dit nie afskud nie. Afskud? Verkeerde woord. Onderdruk, ja. Afskud kon hy nog nooit.
Wat was op haar gesig geskryf? Moedverlorenheid, verlange, vasgekeerdheid?
Hy klap die register toe en stap uit, Jakka se woorde steeds voorop in sy gedagtes: “En kyk wat doen jy nou.” Jakka wat dit so graag invryf, hom gedurig herinner aan die tweede slegste dag van sy twintigjarige bestaan: beroepsbeslissings op die laaste dag van hul skoolloopbaan. Volgens sy ma was daar in die Ou Orde prysuitdelings. Die beste presteerders is beloon. Nie nóú meer nie. Nou mag niemand beter wees as die res nie.
Die skoolhoof met ’n lys in sy hande. “Soos julle reeds weet, hoor julle vandag wat ons agbare Sekretariaat van Onderwys en Loopbaanontwikkeling oor julle toekoms besluit het. Ek wil julle weer eens maan om ons landsleuse te onthou: Eenheid en gelykheid in Menseregte. Menseregte is absoluut en belangriker as die reg op lewe. ’n Mens wie se reg op aanvaarding geskend word, is ’n geestelik en sielkundig geknoude mens wat nooit van daardie trauma sal herstel nie. Die vyand is diegene wat met meerderwaardigheid neerkyk op hulle volksgenote. Onthou dit as jy ontevrede voel met die posisie wat vir jou gekies is en waarmee jy jou land en volk moet dien.” Sy blik het ’n oomblik op Lander gerus.
Hy kan elke oomblik onthou. Die spanning in sy lyf. Sy natgeswete hande. Die name van klasgenote wat onwerklik in golwe oor hom spoel. Die algehele fokus op die uitroep van sy naam.
En toe. Uiteindelik. “Lander Devonte.” Opstaan, uitskuif by sy ry, die vyf trappies op na die verhoog. En deurentyd die smeking by ’n God wat nie meer aanbid mag word nie: Asseblief asseblief asseblief ...
Met bewende hande het hy die dokumente waarin sy toekoms uitgestippel is by mevrou Hexona ontvang. Hy was nooit een van haar gunstelinge nie. Hy het later opgehou om vrae te vra in die fisikaklas. Koue spot in haar oë. Sy blik soekend na mevrou Wilgens. Sy het vrae oor wiskunde verwelkom. Sagte oë wat met hartseer en empatie na hom kyk, net om haarself orent te trek, haar gesig uitdrukkingloos te maak. Toe het hy geweet. Emosieloos en regop tot by die skoolhoof. Wagtend vir die swaard om te val.
“Kantoorskoonmaker by die Sekretariaat van Justisie. Geluk, Lander.”
Skok op skok toe hy hoor wie die uitverkorenes is wat universiteit toe mag gaan. Leedvermaak in baie oë.
Hy skuif sy gedagtes op die agtergrond. Buite wag Alten vir hom, besig om ongeërg ’n botteltjie water te drink. Hy begin aanstap en Lander volg hom. Hy sal eers na ’n blok of twee by Alten aansluit. Behalwe jou familie mag jy nie wys dat jy een persoon bo ’n ander verkies nie.
Alten is buitengewoon teruggetrokke.
“Wat’s fout?” vra Lander.
Alten kyk rond, maak seker dat niemand naby is nie. Vra sag: “Het jy vandag se Weekpos gelees?”
“Nee? Wat staan daarin?”
“Nog ‘n gesin het verdwyn.”
Koue rillings hardloop teen sy ruggraat af. “Weet hulle al waarheen? Of wat hulle gedoen het nie?”
“Die Sekretariaat van Sekuriteit ontken hulle betrokkenheid.”
“Ken jy die mense wat verdwyn het?”
Alten skud sy kop.
“Waarom pla dit jou dan so erg?”
Alten se stem word nog sagter. “Ek glo nie die polisie nie. En ek wonder wie is volgende.” Hy aarsel ’n paar oomblikke lank. “John Power het ’n berig geplaas oor die kunsuitstalling.”
Lander sug. Dís dan die probleem. “Ja? Het hy iets gesê oor jou werk?”
“Hy het ’n swak foto saam met baie beter foto’s van ander beelde geplaas en Smagting uitmekaar getrek.”
Lander se vuiste bal. “Ek hoop jy glo dit nie, Alten!”
“Sjuut!” Alten kyk vlugtig rond. “Jy praat te hard. En ons is naby aan die kameras op die Menseregtegebou. Jou beurt om terug te val.”
Lander verslap sy pas. Drentel soos elke middag koponderstebo verby die kameras. Buite sig van die kameras versnel hy sy pas.
“Alten,” sê hy toe hy weer by hom aansluit, “ek het dit nie voorheen vir jou gesê nie want ek wou nie sentimenteel klink nie, maar toe ek Smagting die eerste keer gesien het, kon ek nie asem kry nie. Dis asof jy my gevoelens in klei uitgebeeld het: Hande smagtend uitgestrek, beurend teen die kettings wat ons gevange hou. Die emosie op die gesig. Die hunkering na ’n vrye wêreld.
“Alten, jy het ’n wonderlike talent ontvang. En jy ken John Power. Hy kraak die briljantes af en hemel die swakkes op. Ek kan nie glo dat daar iemand kan wees wat nié deur Smagting aangeraak word nie.”
Alten se mond vertrek en Lander raak vlugtig aan sy skouer en loop stil langs hom tot hy weer beheer oor sy emosies het.
Hulle kom by die straat waarin beide se huise is. Eenderse boksies. Eenderse groen grasperkies. Sy ma het jare gelede blomplantjies in die veld gaan uitspit en voor die huis geplant. Vygies en varkore.
Die Menswaardigheidspolisie het dit uitgepluk en haar in hegtenis geneem. Sy het voor
die hof verskyn op ’n aanklag van algemene aantasting van menseregte.
“Maar hoe tas ek enige regte aan?” wou sy ontredderd by die staatsaanklaer weet.
Sy dink sy verdien beter, sy moet die leuse onthou: Eenheid en gelykheid. Sy is met ’n waarskuwing vrygelaat. ’n Paar weke later was die Menseregtepolisie daar. Daar was baie klagtes omdat sy in haar fisikaklas kinders uitsonder vir wie sy meer gevorderde lesse buite die sillabus aanbied. Hoe moet die ander leerlinge voel? Almal is tog gelyk.
Maar die leerlinge het gevra daarvoor. En sy het tog almal ingesluit in haar uitnodiging om die gevorderde klasse by te woon? Nee, sy moes geweet het sommige leerlinge het nie die vereiste vermoë nie. Eenheid en gelykheid. Een met almal. Almal dieselfde. Liefde vir jou naaste. Voel hulle pyn as hulle verwerp word. Niemand word uitgesonder nie, niemand mag minderwaardig voel nie. Sy is uit haar onderwyspos verwyder en moes beheer neem van die wasgoed by die hospitaal.
Mevrou Hexona woon verder af in hulle straat. Sy het nooit daarvan gehou as die leerlinge na sy ma se klas stroom nie. Ook nie as sy ma haar wys op foute in haar vraestelle nie.
“Kom in vir ’n koffie,” nooi Lander.
Alten het geaarsel. “Ons is daarbuite so versigtig om nie te wys ons is vriende nie, ons sal in ons straat ook versigtiger moet word. Jy weet nooit wie jou dophou nie.”
“Ja, jy’s reg. En binnekort word meer kameras in elke straat geïnstalleer. Maar kom drink koffie terwyl ons nog kan.”
Hulle stap in en maak hulle tuis by die kombuistafel.
Skril stemme buite. Die voordeur word oopgestamp. Hulle stoele skiet agtertoe soos hulle opspring. Koffie spat oor die tafel. Hulle hardloop sitkamer toe.
Eunika en Franceska steier na binne met Magni wat aan haar arms tussen hulle hang. Bloed loop teen haar gesig af. Haar linkerwang is opgehewe.
Alten haas hom na Magni, stoot Eunika weg, en slaan sy arm om Magni wat gedemp kreun: “My voet ... my voet ...”
Alten en Franceska help haar op die bank.
Lander gaan haal die noodhulpkissie in die badkamer. Die meisies praat gelyk. Magni lyk verslae.
“Wag nou,” sê Lander toe hy terugkom. “Eers Eunika. Wat het gebeur?”
Haar stem is gejaag. “Die man van die Sekretariaat van Kommunikasie. Die een wat elke dag op televisie praat en menseregte in ons kele afdruk. Sergio. Hy’t by ons gestop en gesê hy sal nie ’n klag lê oor ons drie is wat saamstap nie, maar dan moet Magni saam met hom gaan.”
“Maar sy wou nie,” voeg Franceska by. “Ons het haar weggetrek van hom af. Hy’t haar geslaan en so hard gestamp dat sy geval het.”
“Hy’t gesê hy sal my weer sien – in die hof,” sê Magni.
“Die hof?” vra Alten met gebalde vuiste. “Ja, jy sal hom in die hof sien, Magni, omdat jý ’n klag teen hóm gaan lê.”
“Dit sal nie help nie, Alten,” sê Lander. “Hy gaan ’n klag lê dat hulle drie saamgestap het én dat Magni hom sy regte ontsê en minderwaardig laat voel het. Dit mos wat tel. Ek weet wat met my pa gebeur het. En my ma. Ons sal aan iets anders moet dink.”
“Waar was die polisie?” vra Alten aggressief. “Ons hoor gedurig daar is geen misdaad nie omdat elkeen van die straatkameras glo beman word.”
“Hulle het nie gekom nie. Seker gesien wie is betrokke,” sê Eunika.
Net toe kom Lander se ma by die voordeur in. Die moeë uitdrukking op haar gesig verander in skok. Met ’n uitroep kniel sy langs Magni en omhels haar terwyl baie monde die storie herhaal.
Alten neem Magni se hand en Lander sien die uitdrukking op sy gesig. Sy vermoede word ’n sekerheid: Alten gee om vir sy mooi suster.
Sy ma staan op. “Kom, Eunika en Franceska, help my gou om vir almal koffie te maak en dan moet julle huis toe gaan. Jy ook, Alten. Ek is bang ons word verkla – hier is reeds meer as die toegelate twee nie-inwoners in die huis, netnou is almal in die moeilikheid. Ek en Lander en Magni waardeer julle hulp en ondersteuning oneindig baie.”
Hy sal wag tot almal weg is voor hy vir sy ma vertel wat Kirsten Mareus vanmiddag gesê het en hoe hy na hom gekyk het. Sy ma het baie jare gelede vir Kristen Mareus geken en hom soos volg opgesom: ’n Briljante en goeie man. Sy verstaan nie hoe hy sy integriteit so kon prysgee nie.
Vanaand wil die slaap nie kom nie. Niks wat in die skool by hom ingedruis is, maak sin nie. Hoe kan menseregte net een kant toe werk? Sergio kan ’n saak uitmaak dat Magni hom verwerp en in sy eer gekrenk het, sy waardigheid aangetas het – dis seker die punte wat hy sal noem? Wat van Magni se reg om veilig te wees, om te kies saam met wie sy wil wees? Waarom tel sommige regte meer as ander? Waarom tel sommige mense se regte meer as ander mense s’n?
Waarom het sý regte om sy potensiaal te verwesenlik, om sy land en sy volk te dien met sy vermoëns, minder getel as die regte van Jakka en baie ander wat saam met hom op skool was? Waarom is hý verwerp, maar ander mag nie verwerp voel nie?
Waarom word dokters stelselmatig uitgewis? Sy pa wat nag vir nag opgestaan het om siek mense te gaan help. Hy het al die hofbevele en waarskuwings verontagsaam, want die eed wat hy afgelê het en sy deernis vir sy medemens laat hom nie toe om mense in nood weg te wys nie, het hy in die hof gesê.
Hy dink hy is belangriker as ander, dat net hý mense kan help. Hy verontagsaam die opdrag dat hy by sy dagure moet hou.
Maar die dokters wat snags aan diens is, ignoreer oproepe om hulp?
’n Land kan nie regeer word as mense dink hulle is groter en belangriker as die heersers nie. Gevolglik is hy ter dood veroordeel. Dit was vier jaar gelede. Die dag van sy pa se dood is steeds die slegste dag van sy bestaan.
Waarom is mense sogenaamd nie in staat om verwerping te hanteer en te verwerk nie? Waarom sal hulle vir altyd daarna sielkundige probleme hê? Hy en sy ma en suster moes sy onskuldige pa se dood verwerk. Die menslike gees kan bo alle probleme uitstyg. Sy ma het.
Die Kring van Wetgewers vergader weer die volgende dag. Lander dra die skinkbord met drinkgoed in. Die wetgewers praat heftig en opgewonde met mekaar. Almal het die videotoneel gesien wat deur die kameras opgeneem is. Arme Sergio wat so verneder is.
Maar wat eintlik hulle aandag hou: Waarheen verdwyn hele gesinne? Ondersoeke wys Staatsekuriteit het niks daarmee te doen nie. Daar moet ’n ondergrondse beweging wees.
Lander skink koffie en deel dit uit. Kirsten Mareus is aan die woord, die ander se stemme word stil. Hy het dit al voorheen opgemerk: As Mareus praat, luister die res.
“Dit is onaanvaarbaar wat Sergio moes deurmaak. Die ergste aantasting van menseregte is wanneer een persoon bo ’n ander verkies word.”
Van die wetgewers frons. Een waag dit om te vra: “Maar wie het iemand bo ’n ander verkies? Daar was nie nog ’n man daar nie, was daar?”
“Die meisie, wie sy ook al is. Sy verkies duidelik iemand bo Sergio, al was die persoon nie daar nie.”
Lander kyk op. Die spotlaggie in Mareus se oë maak plek vir iets anders toe hy uitdruklik na hom kyk. Plek vir wat?
Hy stap uit, sy gedagtes besig met wat in die raadsaal gebeur het. Waarom kry hy die gevoel dat daar ’n boodskap in Mareus se oë was? Oor en oor dink hy aan wat hy gehoor het. Herhaal die woorde by homself: “... wanneer een persoon bo ’n ander verkies word ...” Herleef gisteraand se gebeure. Totdat insig hom soos ’n hamerslag tref. Dit wás ’n boodskap.
Al wat hy moet doen, is om vir Eunika en Franceska te oortuig om ’n klag teen Sergio te lê en met pryswennerstoneelspel vorendag te kom.
Vir die eerste keer in vier jaar ervaar hy hoop. Verstaan hy dat ’n saak van alle kante en uit alle perspektiewe benader moet word. Voel hy proaktief. Weet hy dat hy ’n rol kan speel om ’n beter toekoms te bewerkstellig. En wie weet? Dalk die hele siek spul om te swaai.
Met as vertrekpunt, hierdie vraag: Hoe durf Sergio vir Magni bo Eunika en Franceska verkies?
Blootstelling
Cecilia Hofmeyr
Die eerste tekens dat daar probleme met die databasis is, is ’n waarskuwingsliggie wat op ’n paneel begin flikker. Die operateur trek ’n venster oop, kyk na die syfers en maak veranderings aan sommige van die instellings. Die waarskuwingsliggie gaan af. Tevrede dat dit nie ’n krisis is nie, maak die operateur dit toe.
Drie verdiepings daaronder, in ’n tenk vol vloeibare nitro, verrig die metabolomes hulle taak: die manipulasie en storing van data teen ’n duiselingwekkende tempo. Vandag is daar egter ’n aantal DNS-molekules wat nie reageer soos hulle geprogrammeer is nie. Die verstellings wat die operateur gemaak het, het kortstondig verhoed dat die datalekkasie voortgaan, maar ’n zettabyte het deurgeglip en is losgelaat. Die regte persoon moet net op die regte plek kyk.
* * * *
Bia Meyer wag dat haar wooneenheid agter haar sluit en stap dan die kort entjie na die stasie waar sy ’n blitstrein neem na die middestad. Sy groet ’n aantal bekende gesigte, maar haar kop is reeds by die werksdag wat voorlê. Op agt en twintig is sy een van die jongste datakontrolleerders in die land en het pas bevordering gekry na ’n nuwe afdeling.
By die stasie naaste aan die Suidelike Biblioteek klim sy af en stap die kort entjie tot by die imposante gebou. Sy staan in die tou om deur die DNS-skandeerder te beweeg, kry die groen lig en drafstap na die hysbak wat haar na die tiende verdieping neem. By haar werkstasie aktiveer sy sonder meer die dataskerm en begin met die enorme taak om data van die ou stelsel na die nuwe DNS-databasis te skuif.
“Môre, môre! Ek sien jy is al weer vasgevang voor jou nuwe speelding.”
Bia kyk weg van die dataskerm en glimlag vir die vrou wat spektraal tussen die neutrale kleure uitstaan. Waar die meeste ander die alledaagse androgene swart of blou klere aanhet, dra Petra slegs skokgeel, skokrooi of skokoranje.
“Ek sal dit nie regtig ’n speelding noem nie,” antwoord Bia. “Dis immers een van die nuutste werkstasies met alles wat ’n nerd soos ek begeer.”
“Ja, ja. Jy weet wat ek bedoel.” Petra lag. “Ek is eintlik hier om jou te herinner aan ons afspraak vanaand.”
Bia begin protesteer, maar Petra spring haar voor. “Jy het belowe. Onthou. Ek vat nie ‘nee’ vir ’n antwoord nie.” Sy leun oor en soen Bia liggies op die wang. “Jy het dit nodig. Sien jou sewe-uur.” Sonder meer stap sy uit.
Bia kyk met ’n sug terug na die konsole. Haar werk is haar lewe. Tyd vir verhoudings vorm nie deel van haar planne vir die nabye toekoms nie. Net jammer dat Petra so vasberade is om die status quo te verander en Bia aan iemand voor te stel.
Sy sug en probeer om nie weer aan die afspraak te dink nie. Gou word sy meegesleur deur die data en kort voor lank is sy weer verdiep in haar werk.
Ná werk moet Bia haarself forseer om nie summier huis toe te gaan nie. Sy klim op die metrobus wat haar na ’n area buite die middestad neem. By die restaurant stap sy deur die DNS-skandeerder. Haar oë soek Petra tussen die mense, wat almal met ’n drankie rondstaan.
“Bia!”
Die neonoranje hare is duidelik herkenbaar in die monotone skare. Bia forseer haarself om te glimlag, stap na die tafel en skuif langs Petra in, wat haar voorstel aan die twee mans oorkant hulle.
“Dit is my liefste vriendin, Bia, wat gedwing moet word om haar werkstasie te verlaat vir een aand se plesier.”
’n Man wat lyk asof hy Petra se tweeling kan wees, lig sy hand in ’n groet. “Xander, aangename kennis. Ek verstaan jou benadering. Nie almal gaan so lig deur die lewe soos my liewe sus nie.”
Bia glimlag. “Ek is bly daar is nog mense wat verstaan dat sommige van ons ons werk geniet.”
Die man langs Xander lig sy hand. “Willem.”
’n Man van min woorde, dink Bia, geamuseerd.
Nog voor sy kan besluit wat om te bestel neem Petra die leiding en haal ’n drankie uit die kitsmasjien langs die tafel. “Hier, moenie stry nie, probeer dit net.”
Bia vat ’n slukkie van die gekleurde vloeistof en is dankbaar toe dit nie haar asem wegslaan nie.
“So,” sê Xander. “Ek verstaan jy werk by die Suidelike Biblioteek? Wat presies doen jy?”
Bia wil antwoord, maar weer eens spring Petra haar voor: “Ek het mos gesê dit is vreeslik konfidensieel. Onse Bia is een van die bevoorregtes wat met die nuutste tegnologie werk, maar om uit te vind wat presies sy doen, is soos tande trek.”
Bia glimlag. Dis nie die eerste keer dat hulle hierdie gesprek voer nie. En in elk geval is Petra net besig om met haar die spot te dryf. Vir seker sal sy nie haarself in die voet skiet deur haar werk met sommer enigiemand te bespreek nie.
“Dit moet ’n geweldig eensame werk wees,” sê Willem.
Bia dink voor sy antwoord. Die feit is, hy is reg, maar sy sal dit nie sommer teenoor ’n vreemdeling erken nie. “Dit klink dalk so,” antwoord sy versigtig, “maar dis regtig interessant. En ek verkies data bo mense.” Sy voel ’n bietjie skuldig. Dit was vir seker ’n kortaf respons, maar wat maak dit saak? Sy is bloot daar om Petra van haar nek af te kry, hoe gouer die aand verby is, hoe beter.
Petra slaan haar arm om Bia se skouers. “Ek het julle mos gesê. Sy is nie jou average ray of sunshine nie, maar glo my, onder hierdie hardekwasgeit kruip daar ’n vrolike mens weg wat ek nog gaan laat uitkom!” Sy gee Bia ‘n dwars soen op die wang en gesels dan weer met die twee mans.
Die tyd gaan gouer verby as wat Bia verwag het en tot haar verbasing begin sy ontspan en die geselskap geniet. Sy verskoon haarself egter so gou moontlik en is dankbaar toe sy op die blitstrein sit op pad huis toe.
Net voor die laaste stasie kom die trein skielik tot stilstand. ’n Sirene gaan af, die lug gons en met ’n skok besef sy dat hulle deur hommeltuie omring word.
Almal ken die prosedure en sit roerloos terwyl die masjiene elkeen metodies skandeer. Alhoewel Bia weet dat sy veilig is, is dit nogtans elke keer vir haar ’n ontstellende ervaring. Wat gaan hierdie keer gebeur? Die uitkoms is altyd onseker, wie jy ook al mag wees Soos elke keer kalmeer sy haarself deur stadig en reëlmatig asem te haal, maar ten spyte daarvan versnel haar hartklop en raak haar handpalms klam en sweterig.
Ten spyte van haar doelbewuste beheerstheid ruk sy toe iemand plotseling gil: “Julle lieg! Ek makeer niks! Ek is gesond!” Bia sluit haar oë, sy wil nie sien wat volgende gebeur nie, maar sy kan nie die geluide ignoreer nie en buitendien weet sy wat om te verwag.
Die stomp klank van ’n laserpistool knip die man se jammerlike protes kort.
Bia maak haar oë op skrefies oop terwyl die lewelose ligaam deur twee hommeltuie van die trein af verwyder word. Die treinwa begin weer beweeg, en soos al die ander passasiers kyk sy stip voor haar en ignoreer alles en almal om haar.
By haar wooneenheid klim sy af en beweeg so vinnig moontlik na binne. Sy ontspan eers toe die deur agter haar toeklik. Sy leun ’n oomblik daarteen en stap dan na die kitsmasjien: “Chenin. Vol glas.”
Sy haal die wynglas uit die masjien en ledig dit met een groot sluk. Daarop stap sy wankelrig na die venster en kyk uit op die rustige wêreld daar buite. ’n Misleidende rustigheid.
Haar voorouers het geslagte gelede besluit om hulle te laat vaksineer toe ’n siekte genaamd Covid-19 handuit geruk het en ’n groot gedeelte van die wêreld se populasie uitgewis is. Vandag is die merker wat die vaksine gelaat het, sigbaar in haar gene en daarom kan sy vreesloos deur enige skandeerder stap.
Diegene wat afstammelinge is van die sogenaamde anti-vaksineerders, word steeds nie toegelaat om vryelik tussen ander mense te beweeg nie, uit vrees dat hulle ’n nuwe pandemie sal veroorsaak. Alhoewel sy self geen uiterlike teken van die genetiese merker toon nie, is dit bykans onmoontlik om rond te gaan sonder om kort-kort deur ’n DNS-skandeerder te loop. Op dié manier word die wêreld gevrywaar van ’n herhaling van die gevreesde pandemie.
Bia pak die leë wynglas in die kitsmasjien en gaan sit by haar ruimtebesparende lessenaar. ’n Konsole verskyn voor haar en sy blaai deur die dag se nuusgebeure. Soos sy verwag het, word daar geen melding gemaak van die aand se insident nie. Wat wel haar aandag trek, is ’n berig oor ’n groep mense wat in hegtenis geneem is nadat hulle by ’n databank ingebreek het. Die leier van die groep beweer dat die virus deur tropimmuniteit in bedwang gehou word en dat daar geen moontlikheid bestaan dat dit weer tot ’n pandemie kan lei nie.
Bia skud haar kop ergerlik. Die projek by haar werk behels die verskuiwing van al die inligting op die ou metabolomes-stelsel na die nuwe DNS-gebaseerde storingsfasiliteit. In die proses leer sy geweldig baie oor die geskiedenis van die tydperk tussen 2019 en 2025 toe die mens op die randjie van uitwissing gestaan het.
Die blote gedagte dat daar mense is wat glo dat die virus nooit weer tot ’n pandemie kan lei nie, is vir haar onverstaanbaar. Hoe naïef kan mense nie wees nie? Hoe stiksienig? Hoe selfsugtig om nie verantwoordelikheid te neem en jou deel te doen ter wille van jou medemens nie? Met ’n sug staan sy op en en maak gereed om te gaan slaap.
* * *
Die volgende dag besluit Bia om data wat sy onlangs geskuif het weer deur te gaan. Iets wat sy gisteraand in die nuusberig gelees het, knaag aan haar. As sy net haar vinger daarop kan lê. Sy maak die konsole oop en soek ’n spesifieke datagreep. Niks wat sy daar lees, prikkel egter haar gedagtes nie.
Tydens haar etensuur gaan loer sy by Petra in. Tot haar verbasing wemel die gang voor Petra se kantoor. Daar sit ’n vreemde vrou agter Petra se werkstasie en Bia besluit om geen aandag op haarself te vestig nie en eerder in stilte verby te stap.
Terug voor haar eie rekenaar probeer sy om so normaal moontlik verder te werk, maar haar hande bewe, en sy moet haarself forseer om voor te gee dat niks verkeerd is nie, dit terwyl sy ongemaklik bewus is van die kameras wat haar monitor. Met inspanning bedwing sy haarself en fokus daarop om so natuurlik moontlik voort te gaan met haar werk. In haar agterkop draai die gedagte: Het iemand haar gesien?
* * *
Dis met ’n kriewelrige gevoel tussen haar blaaie dat Bia haar later huis toe haas. Sy beheer haarself met inspanning toe sy uit die trein klim en na haar wooneenheid begin aanstap.
Die volgende oomblik val iemand langs haar in. Sy snak na asem en versnel amper outomaties haar pas. Wie is dit, wat gaan aan? Sy is te angstig om te kyk.
“Hou aan met loop. Moenie praat nie.”
Iets aan die stemtoon laat Bia stilswyend toegee. Sy stap deur die skandeerder voor haar wooneenheid en tot haar skok glip die persoon saam met haar na binne en stoot die deur agter hulle toe.
“Jy! Wat dink jy doen jy? Weet jy hoe gevaar –”
“Sjuut.” Willem hou sy vinger voor sy lippe.
Bia roer nie, terwyl Willem in die sak oor sy skouer grawe, ’n swart instrumentjie uithaal en dit in die middel van die vertrek neersit. Hy manipuleer ’n kontrole voor hy na Bia kyk. “Dis nou veilig om te praat.”
Bia trek dadelik los. “Wat de duiwel is fout met jou? Jy kan nie sommer net by my plek instorm nie!”
Hy ignoreer dit. “Het jy vandag vir Petra gesien?” vra hy
Die vraag en die stip uitdrukking op sy gesig veroorsaak dat sy dadelik koud word. “Wat is fout?”
“Het jy haar vandag gesien?” vra hy weer, hierdie keer dringend.
“Nee. Sy was nie op kantoor nie.” Bia besluit om vir eers stil te bly oor wat sy in die gang gesien het.
Willem gaan sit op ’n stoel in die kompakte oopplan woonvertrekkie en laat sak sy kop in sy hande. “Dis alles my skuld.”
Bia gaan sit so ver as moontlik van hom af. Sy is intens bewus van die instrument wat in die middel van haar woonvertrek staan. “Waarvan praat jy?” fluister sy.
Hy antwoord nie. “Ek is nie seker wat om volgende te doen nie.” Hy kyk weer stip na haar en sy kan sien hoe die gedagtes deur sy kop spoel. Dan haal hy diep asem. “Ek weet nie of ek jou in in die moeilikheid gaan bring nie, maar ek het regtig niemand anders wat ek kan vertrou nie. Petra het vertroue gehad in jou, sy het geglo dat jy oorgehaal kan word.”
“Oorgehaal?” Bia kyk hom vraend aan. Waarom gebruik hy die verlede tydsvorm?
Dit lyk of Willem weer twyfel, maar dan begin hy praat, dringendheid in sy stem. “Dit is alles ’n leuen.” Hy aarsel en Bia begin om iets te sê, maar hy hou sy hand op. “Die hele storie rondom mense wat nié die DNS-merker het nie en die pandemie kan laat opvlam – dit is alles gebaseer op leuens.”
Bia kan nie glo wat sy hoor nie. Sy wéét wat die waarheid is, hierdie tipe stompsinnigheid is amper onmoontlik om te verduur.
Willem haal ’n konsole uit die skouersak en skuif die data rond. “Lees hier.” Hy gee dit aan.
Sy vat dit versigtig en lees die berig met groeiende ongeloof. En dan kom die insig. Hy, Willem, is die leier van die rebelle wat probeer het om die inligting te steel. Sy onthou iets wat hy die vorige aand gesê het en besef dat dít die rafel is waarna sy heeldag gesoek het.
“Jy is mal!” roep sy uit en druk die konsole terug in sy hande en spring van hom af weg. “Jy moet dadelik loop!”
“Hulle het Petra en Xander in hegtenis geneem. As ons niks doen nie, word hulle doodgemaak.”
Bia se bene swik onder haar en sy sak neer op die stoel. “Beweer jy dat Petra deel is van hierdie waansin?”
“Sy en Xander. Ons het jou hulp nodig om die waarheid oop te vlek. Jy het toegang tot die databasis en as ek jou sê waar om te kyk kan jy die bewyse kry.”
Bia is so geskok sy kan nie ’n woord uitkry nie. Dan bars dit uit haar: “Is jy van jou sinne beroof? Jy weet dis strafbaar met die dood!” Angstig kyk sy rond asof die DNS-polisie enige oomblik by haar wooneenheid gaan instorm.
“Hulle kan niks sien of hoor nie.” Willem wys na die instrumentjie in die middel van die vloer. “Dit is ’n blokkeerder.” Hy sug. “Bia, ek besef dit alles is ’n groot skok vir jou. Al wat ek vra, is dat jy na spesifieke data kyk. As jy daarna steeds dink alles is ’n klug, sal ek dit so aanvaar.” Hy haal ’n dataskyfie uit sy binnesak en druk dit in haar hand. “Hou dit veilig. My kontakbesonderhede is ook daarop.”
Hy beduie na die blokkeerder. “Ek los dit eers daar. Tot siens.” Voor sy nog iets kan sê, stap hy uit.
Lank sit Bia roerloos op die stoel. Alles wat sy op Willem se konsole gelees het, warrel deur haar kop en hoe meer sy dit probeer onderdruk, hoe meer onwerklik word die gedagte. Sy staan op en gaan sit agter haar lessenaar. Versigtig, asof dit breekbaar is, plaas sy Willem se dataskyfie langs haar rekenaar. Die konsole gaan oop en sy blaai tot by die berig wat haar nog heeltyd ontwyk het.
Die aand by die restaurant het Willem en Xander gepraat van hul toer in Wes-Afrika. Die berig handel oor die soektog na die bende wat data uit die Westelike Biblioteek wou steel. Die tydlyn pas perfek en sy weet instinktief dat dit hulle was.
Haar gedagtes gaan terug na die inligting wat Willem vir haar op sy eie konsole gewys het. Op die ingewing van die oomblik soek sy verder. Al is dit dan net om hulle verkeerd te bewys. Met geoefende sekerheid blaai sy tussen die datagrepe rond. Uiteindelik kry sy ’n flenter van ’n berig wat haar met ’n snak laat regop sit.
Die Verenigde Nasies bevestig dat tropimmuniteit uiteindelik oor die grootste gedeelte van die wêreld bereik is en dat die koronaviruspandemie finaal onder beheer is. Die virus het intussen in so ’n mate gemuteer dat die ongevaksineerders nie meer as die oorsaak van verdere sterftes beskou kan word nie. Die VN bevestig dat hierdie inligting teruggehou word as gevolg van druk deur die groot farmaseutiese maatskappye wat die skandering en beheer van DNS hanteer.
Bia staar na die berig voor haar. Dit maak net geen sin nie. Sy lees dit weer. Stadig begin die werklikheid insink. Die wêreld word al dekades lank mislei vir korporatiewe winste. Dis onaanvaarbaar. Verwoed blaai sy verder langs hierdie spoor en die een berig na die ander gaan oop tot sy later verbluf voor haar uitstaar.
Hoe lank sy vasgenael daar gesit het, weet sy nie, maar haar kop wil ontplof. ‘n Verbete woede begin in haar groei. Hoeveel ander mense soos Petra het die waarheid vermoed of probeer ontbloot en is eenvoudig uit die samelewing verwyder? Hoeveel mense se lewe word deur hierdie … hierdie … komplot geaffekteer?
Sy dink ’n ruk daaroor na. Duidelik elke lewe.
Dit moet stop.
Die dataskyfie wat Willem vir haar gegee het, lê nog net waar sy dit neergesit het. Met ’n kil gevoel van onafwendbaarheid koppel sy dit aan haar rekenaar. Willem se stil gesig verskyn op die skerm.
“Waar begin ons?” vra sy.
Die laaste trein uit Vryheid
Riaan Conradie
Die winterswind kerf deur my jas, daar waar ek gemasker en gemerk wag vir die dagbreektrein om my weg voer. Die horison word liggies ingekleur, maar die son sal eers na twee stasies sy kop uitsteek om te kyk of ons die nag oorleef het. Ek sal enkele oomblikke in die sonlig steel tot ek by my kantoor instap en myself vasketting aan my selfopgelegde verpligtinge. Daar sal ek my asem opoffer tot anderkant die daglig en dan weer met die uitgetrapte pad terugsluip en ritmies klik-klak na hierdie oomblik toe.
Môre herhaal ons die kleedrepetisie.
Ek oefen om te lewe, maar ek neem nooit deel nie.
‘n Onrustigheid vat pos en die agtergrond van my lewe ontwikkel die krakies en skerwe van ‘n alternatiewe werklikheid. Dit maak my benoud en laat vrees deur my gedagtes sluip. Vroegoggend wag ek al vir die wekker.
Vandag is daar meer oë wat die snerpende wind saam met my aandurf. Elkeen merkbaar gewikkel in sy eie kokon van wol en verpligtinge. Elke week is daar nuwe spookgesigte wat die trein gebruik.
Ek kategoriseer hulle in my gedagtes as ‘n warboel blare in ‘n dwarrelwind wat oomblikke lank fladder en draai en skielik weg is. Ek warrel ook soos ’n blaar verby hulle. Gou vergete. Anoniem te midde van die massa.
Gee ons enigsins om vir die mense waartussen ons beweeg?
Daar stap ’n man verby met ’n swart pak, vars swart skoene en ‘n bypassende masker wat sy hele gesig verbloem, behalwe sy oë en die QR-brandmerk op sy regterslaap. Paspoort wat bewys dat hy beveilig is teen die virus. Toegangskaartjie.
Die interkom mompel met ‘n krapperige stem: TRAIN APPROACHING. PLEASE STAND BACK FROM THE PLATFORM EDGE.
As ek my hand uitsteek, sal ek aan die trein kan vat soos hy voor my deur die koue kloof klief. Hoeveel mense het dit al oorweeg om daardie twee treë te gee wat alles tot stilstand sal bring? Twee treë van verlossing af. Twee treë wat jou wêreld sal laat stop. Twee fatale treë wat chaos sal ontketen en vreemde mense se gille sal laat uitsnik tot net die Stilte oorbly wat jou wegsus die verlede in.
Sal jy dit voel? Sal dit seer wees? Sal jy voel hoe jou laaste asem verdwyn? Sal enigiemand omgee?
Die trein kom tot stilstand en die geel liggie op die deur begin flikker. ’n Passasier druk die knoppie en die elektroniese deure skuif geluidloos oop. ’n Braaksel mense borrel by die deur uit en spoel oor die platform. Die uitgewerptes vloei weg, die laaste druppels volg spoeg-spoeg. Die volgende groep siele word opgeslurp om gekou en geskommel te word tot by die volgende stasie waar hulle ook uitgebraak gaan word.
Ek stap in. Die groot vensters laat my toe om dwarsdeur die trein te kyk na die anderkant van die stasie waar daar nog ander wag wat wil gaan waar ons trein vandaan kom. Binne is daar nog ‘n redelike hoeveelheid oop sitplekke. Dis opvallend dat gereelde passasiers elke dag op dieselfde plekke probeer sit.
So bly ons verslaaf aan gewoontes en roetines. Ons is ons eie gevangenes, vasgegrendel aan ons verlede wat ons daagliks oor en oor beleef.
Ek klim op die trein en die elektroniese slotte aktiveer hoorbaar agter my. Ek vind my pad na ’n sitplek van waar ek soveel moontlik kan sien met genoegsame asemspasie. Vandag is dit dieselfde sitplek as gister. My verlede herhaal homself.
Ek sit in die middel langs die voetpaadjie. Daar is twee oop sitplekke aan my linkerkant met uitsig deur ’n groot venster. Mense verkies dit om by vensters te sit. Ek het ook, toe ek nog op die trein gelees het. Deesdae los ek daardie sitplekke oop en lees die oë om my. Hier waar ek in die verlede in kyk terwyl die trein my vorentoe sleep, voel ek veilig. Oudergewoonte lees ek die kennisgewing bokant die deur: Passengers may be subjected to CCTV surveillance. Dis ontstellend gerusstellend.
Die trein vertrek en die stasieligte flikker oor my. Die mis hang halfdeursigtig oor die geboue, in skakerings van vaalgrys en vuilbruin.
Soos die wasige geboue is die gesigte om my ook geskakeerd en kruip grys en bruin agter bleek, eenvormige maskers weg. Die enigste kleur word verleen deur die verbleikte blou en wit patrone op die vaal gesitte sitplekke en uitgetrapte matte.
Ons is vreemdelinge wat dit nie waag om te lank na mekaar te kyk nie. Die ongeskrewe reëlboek hou ons in toom. Ons is deursigtige siele en bleek asems wat vir ’n wyle dieselfde spasie deel. Anoniem en onbekend.
Die werkslawe staan gereed by die deure om haastig by die stasie uit te snel sodra ons tot stilstand kom. Die kompartementligte flikker onwillekeurig saam met die ritmiese klik-klak van die wiele op die spoor. Die son is steeds net ‘n illusie van lig agter die misgordyn. Waar daar gewoonlik ‘n vrolike oggendsonstraal deur die venster geval het, is daar nou net spookagtige silhoeëtte.
Die laaste bietjie kleur in die sitplekke en gesigte kwyn weg en spoel na die vloer. Depressie werp sy swaar kombers oor die trein en sy insittendes. Al die oë word gryser, ouer, dood. Die ritmiese klik-klak van die wiele beur gewelddadig na my bewussyn. Die stil oggendreis word ‘n kakofonie van klanke en duisternisse.
Skielik verhelder die trein en ‘n opgewekte stem sê oor die Interkom: “APPROACHING NEXT STATION.” Die ligte hou op flikker en die mis verdamp voor die son.
’n Diep inaseming vloei regdeur die trein net voor die deure geruisloos oopskuif en hul kieste leegbraak oor die perron.
Tussen die braaksels deur vang my oog die glinstering van ‘n sekuriteitswag met ‘n vuurwapen wat afwagtend grond toe staar. Hy verdwyn agter die anonieme gesigte en die deure skuif weer geluidloos toe en klik op slot.
Daar is nuwe leë grys oë wat die trein vol pak. Al die sitplekke word gevul. Angstige lyke staan saamgedruk by die deure. Vlug hulle dalk? Is dit waarvan hulle af wegvlug die rede dat die sekuriteitswagte vuurwapens dra?
Die trein se vertrek word aangemeld met ’n skril gefluit. Ek het die fluitjie al voorheen gehoor, dit word nie gereeld gebruik nie. Die stasie beweeg verby die vensters en die wiele klik-klak al hoe harder. ’n Onaangename reuk van gebrande rubber en sweet het saam met die vars spooklyke ingeklim. Ek bekyk my nuwe medereisigers, hopelik ongemerk, maar hul dooie oë verklik niks.
Ek kyk op my horlosie. Hoe lank gaan ek nog vasgevang wees in hierdie trein voor ek verlos word?
Die trein tel stelselmatig spoed op en die wiele begin met hul gelykmatige roetine. Al wat ek hoor, is die gedreun van die wiele, geen stemme nie. Almal staar stip deur lykgrys splete voor hulle uit. Versigtig om nie die skynlyke se aandag te trek, loer ek om my rond, vreesbevange dat ek ook in een van hulle gaan verander as ons oogkontak sou maak.
’n Sekuriteitswag kom die treinwa binne. Van agter. Dis nie buitengewoon nie, maar hierdie een het ’n vuurwapen wat hy bedreigend dra. Hy dwing sy pad vorentoe tussen die skare deur.
Die trein se ligte is af. Seker afgeskakel op die laaste stasie toe die passasiers gewissel het. Dis steeds neerdrukkend daar buite. Die mis steeds dig.
Afgesny van die son se vreugde storm ons deur ’n tonnel waar die venster in ‘n donker plaat verander. Alle kontak met die lewende wêreld word tydelik opgeskort. Al wat verklik dat daar lewe deur die toneel beweeg, is die flikkering van lig deur die gaatjies in die bakwerk.
“APPROACHING NEXT STATION.”
Die aankondiging laat my skrik. Die tonnel se ligte flits verby terwyl ek probeer om deur die gleuwe in die bakwerk te kyk. Ek kan niks vind om op te fokus nie. Ek sien net beweging en lig en donker. Die trein se brieke skree skril terwyl ons spoed afwerp en tot stilstand kom. Daar is ‘n laaste stuiptrekking en die staande passasiers trap rond en gryp na mekaar toe die trein skielik tot ruste skud. Die metaalknip voor die deure klap oop en staal skree op staal soos hulle van buite oopgeskuif word.
Van die passasiers val uit. ’n Vrou struikel toe haar hakskoen vassteek in die gaping tussen die trein en die perron. Sy word opgepluk deur ’n sekuriteitswag met ’n vol pistoolsak aan sy sy. Hy het die ondersteuning van nog ’n paar sekuriteitswagte en benut die geleentheid om te vat waar hy wil.
’n Manspassasier spring uit en snel haar te hulp, maar hy val amper onmiddellik weer terug en verdwyn ’n oomblik uit my sig voor ek hom weer sien waar hy dubbeld gevou teen die ander passasiers struikel op sy terugtog in die trein.
Nuwe passasiers sluit by ons aan en swerm deur die wa op soek na veilige staanplekke. Daar is nie meer sitplekke oor nie. Elke sitplek is vervang deur ’n grys siel.
Arms, heupe, skouers en elmboë van onbekende lyke druk teen my. Vir seker voel hulle hoe my geraamte in hulle boor. Die gemeenskaplike smagting na lug word moeisaam en stram, die asem van die trein bedompig en swaar. Die mis bly klou aan die staalpanele wat die bakwerk vorm. Ek wurm myself pynlik nader aan die deur en kry ’n geleentheid om uit te kyk en myself te verbeel die lug is effens varser daar waar ek nou voor ’n toe ruit staan.
Buite word die passasiers wat uitgespoeg is in rye deur die draaihek gemaal. Ek kyk stip, maar ’n sekuriteitswag sien dat ek doelbewus rondkyk en lig die loop van sy geweer in my rigting.
KLIK, KLIK, KLIK-KLIK, KLIK-KLIK, KLIK-KLAK, KLIK-KLAK, KLIK-KLAK-KLA
Ritmies versnel die gedraai van die wiele en dieper word elmboë in my gepen terwyl ek rondval en skud saam met die ander gevangenes.
“Waar gaan ons heen?”
“Wat gaan van ons word?”
“Weet jy wat aangaan?”
In sterwensangs kyk paniekerige oë rond in die hoop om iets of iemand te sien wat antwoorde kan gee, maar daar is niks. Al wat seker is, is dat die trein ons met die spoor langs wegvoer, al verder van dit wat bekend is.
“Waar gaan ons stop?”
“Sal ons kan afklim?”
Nog meer vrae, nog minder antwoorde.
Die liggame so styf teen mekaar genereer meer hitte as wat ons kan verduur en ek ruik die sweet wat van ons lywe af drup tot op die vloer van die benoude wa. Ek kan nie my hande beweeg om my neus toe te druk nie, ek is vasgepen.
Hoe lank voor iemand sterf en regop bly hang tussen die ander liggame, net om te val en te breek wanneer die trein begin leegloop?
Daar is paniek om my. Ek voel ’n koue sproei op my gesig en kyk boontoe. Reëndruppels lek deur die roesgate in die treinwa se dak. Dit reën in die winter in ons somerreënvalstreek. Niks maak vandag sin nie.
Die trein beweeg stadiger en skud nog druppels los wat deur die wa versprei soos ons klik-klak na ons onbekende toekoms. Ek kyk na die agterkant van die trein toe, terug na die verlede waar dinge ’n klein bietjie beter was. Hoe verder ons beweeg en die tyd sy arms draai, hoe meer desperaat en benoud word ons situasie.
“APPROACHING NEXT STATION.”
Die trein verloor spoed en ons liggame wieg stamp-stamp teen mekaar. Ek herken die perron waar ek gewoonlik afklim. Miskien laat hulle my toe om uit te klim.
Die trein kom tot stilstand en die elektroniese deure gly geluidloos oop. Ek loop oor die bleekblou mat en stap uit op die geteëlde perron. Die deure skuif vanself toe. Die wiele klik, klik, klik en die elektriese motors sit meer krag uit en voer die trein weg na die volgende stasie.
Deur die vensters van die voortsnellende trein kyk ek na die passasiers wat gemaklik sit en lees of op hulle selfone speel. Verbyster stap ek teen die trappe op na die uitgang. ’n Groep mense het saam met my afgeklim en ek moet in ’n tou staan om my paspoort te skandeer voor ek by die draaihek uit die stasie kan kom.
’n Sekuriteitswag groet my terwyl ek naderstap.
Ten spyte van sy vriendelike gedrag sien ek onheil in sy oë en ‘n pistool aan sy sy.
Die duisternis sak toe en my wêreld verander in ‘n depressiewe uitgelewerdheid aan onderdrukking en vrees. Met ’n oorweldigende angs besef ek dat my voete my teruglei na die spoorlyn waar ek nou net vandaan gekom het.
Ek strompel tussen die trop mense deur wat op hul trein wag. My wêreld het geskeur, ek kan nie meer onderskei tussen die illusie van vrye wil en die werklikheid van intense onderdrukking nie.
Treinrook borrel by die tonnel uit voor die metaalmonster die stasie binnerammel. Verdoof deur die gefluit staar ek verskrik na die verblindende lig wat deur die swart rookwalms klief. Sonder om te dink gee ek daardie fatale twee treë.
Raakvrate
Marelize Swanepoel
“Ek kan nie meer nie.” Ek sak neer op die stoel, my kop val op my arms, dit voel asof ek nie asem kan kry nie.
“Izzie, wat is fout, wat ís dit nou?” Sunette, wat saam met my gestap het om my met die stapel opstelboeke te help is dadelik langs my. Sonder om aan my te raak. Want ek het nagelaat om die klaskamer se deur toe te maak. En netnou sien iemand.
“Dit!”
Ek beduie met my arms. Hoe anders kan ek aan haar oordra wat dit is wat besig is om my tot breekpunt te dryf?
“Wat bedoel jy met ‘dit’?” Verwarring is duidelik te lees op haar gesig.
“Ek weet nie eens waar om te begin nie, Sunette.” Ek vee my gesig met my bloes se mou af. “Ek kan nie meer sonder drukkies nie. Ek kan nie meer verby ’n moedelose kind stap sonder om hulle met ’n hand op die skouer te bemoedig nie. Ek kan nie meer huilende kinders met woorde alleen paai nie.” My kneukels span soos ek myself met ’n omhelsing probeer troos. “Hoe propageer ek sosiale afstand as ek self nie daarin glo nie?”
Dit voel soos gister dat meneer Sweldt ’n noodpersoneelvergadering byeengeroep het. “Goeiemôre, dames en here,” het hy met ’n somber stem gesê, “ons het pas nuwe kommunikasie van die departement ontvang. Enigiemand wat die sosiale afstandreël minag sal dissiplinêr aangekla word – dit sluit onderwysers en leerders in. ‘Raakvrate’, soos die departement hierdie oortreders noem, sal nie langer geduld word nie.”
My moed het tot in my skoene gesak.
Maar dit was nie al nie. Hy het voortgegaan: “Ons is almal bewus daarvan dat die virus deur aanraking versprei word, julle is dus gewaarsku. Addisionele maatstawwe sal ingestel word om die situasie te monitor.”
Ek en Sunette het gelyk met geligte wenkbroue na mekaar gekyk. Sy is een van my beste vriendinne, maar anders as ek, is sy ’n pliggie. Sy verstaan my sienswyse, maar “die regte ding” is tweede natuur vir haar.
Daardie deuntjie eggo nou in my ore, hoewel dit uit my eie mond kom: “Sosiale afstand, outjies! Moenie aan mekaar raak nie!”
Net om om die volgende draai te stap en te sien hoe twee latte bladskud of twee vriendinne mekaar ’n sydrukkie gee. Skuldige ogies wat wegkyk as hulle sien juffrou het hulle gewaar. Ek is veronderstel om hulle te straf – sonder enige waarskuwings. Gevolglik loop ek siende blind in die gange rond. Ek is self skuldig.
“Sunette, hoe straf ek kinders as ek self die sosiale afstandreël verbreek? En nou kan ek my werk verloor?”
Sunette sug. “Izzie, ek weet jy sukkel hiermee. Ek sien hoe dit jou uitmergel en ek verstaan dit in ’n mate. Belowe my jy sal versigtig wees.”
Duidelik het Sunette haar kant gekies.
En ek?
Ek kan nie eens meer ’n lekker Netflix-movie geniet nie. Nie nadat ek met ’n skok besef het dat ek die karakters oordeel as hulle aan mekaar raak of mekaar omhels nie. Hoe het ek hiér gekom? Is ek gewoon ’n tweegesig? Ek reageer al outomaties as ek oortreders sien, maar ek bly onwillig om hulle te straf.
So gekondisioneer is ek al. En ek wíl nie so wees nie. Ek doen my werk, want dis wat van my verwag word, maar agter geslote deure volg ek my hart.
Ek was nog altyd ’n empatieke onderwyser wat my leerders met deernis behandel. Dis tweede natuur vir my om ’n ”vat-vyf”-hand op te hou wanneer my kinders iets goeds doen, om verby ’n tafel te stap en ’n leerder met ’n skouerdrukkie te kalmeer tydens ’n toets, of om ’n sielsongelukkige kind te omhels omdat woorde eenvoudig ontbreek. My liefdestaal is aanraking – om te gee en te ontvang. Dit breek my brein, dit breek my hart, en dit breek my as onderwyser.
Die volgende oggend het die toepassing van die addisionele maatstawwe my totaal geskok. Elke graad is apart saal toe geroep en dienooreenkomstig aangespreek:
“Grade mag nie meer deurmekaar pouse hou nie, ons kan julle nie vertrou om die sosiale afstand te handhaaf nie. Julle sal pouses na julle geallokeerde speelareas toe gaan en van die stoele gebruik maak wat om die geel geverfde kruise staan. Stoele mag nie geskuif word nie. Raakvrate sal nie meer geduld word nie.”
Mnr. Sweldt was ’n baie ongewilde persoon op daardie oomblik. Ek kon nie help om die gefluisterde kommentaar te hoor nie:
“Moet ons nou soos soet eendjies in ’n ry sit?”
“Ek gaan nie op daardie stoel sit nie, wat kan hulle kamma aan my doen?”
“Wat vir ’n ding is ’n raakvraat?”
Daar sal altyd rebelle wees. My registerklas was vol vrae ná die gewraakte saalbyeenkoms.
“Juffrou, verduidelik asseblief vir ons wat ’n ‘raakvraat’ is?” vra Katrien.
“Juffrou, wat gaan gebeur as ons nie op die stoele sit nie?” laat hoor Johan.
“Outjies, sit net eers, asseblief. Raak rustig.” Ek staan voor met my hande in die lug. Dit neem ’n rukkie voordat almal hul sitplekke ingeneem en hul aandag op my gevestig het.
“Katrien, ’n raakvraat is iemand wat nie die sosiale afstandreëls nakom nie. Dis iemand wat heeltyd aan ander mense vat, jy weet soos in drukkies gee en handskud. Jy is mos ’n vraat as jy te veel eet. Jy is nou ’n vraat as jy aan almal raak.”
Ek wurg die woorde uit, ek weet nie of die kinders kan sien dat ek daaraan wil verstik nie. Onderwysers moet uit een mond praat, uit een mond straf.
“Johan, ek wil nie hê ons moet van jou ’n voorbeeld maak nie. Dis voorskrifte wat direk van die onderwysdepartement gekom het. Ek weet jy wil nie dissiplinêr verhoor word nie ...”
“Dissiplinêr verhoor omdat ek nie op ’n stoel wil sit nie, Juffrou?” Johan praat heeltemal te hard en ek skrik vir sy woorde.
“Johan, jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie. Die saak staan so: Die departement probeer julle beskerm teen die oordrag van die virus. Uiterste omstandighede vereis uiterste maatreëls.”
Dis juis hierdie uiterste maatreëls wat my tot breekpunt gebring het. Skoolgee het drasties verander. Ek het oornag van ’n onderwyser in ’n polisievrou verander, ’n oppasser wat iemand soek om te straf, iemand wat heeltyd propaganda uitspoeg. Ek leer om ’n masker te dra. Hoe vertrou jy ’n onderwyser wat agter ’n masker skuil?
Saans kan ek nie meer slaap nie. Ek droom die aakligste drome. Een aand gaan dit oor arms. Dat amper niemand meer met arms gebore word nie. Ander het arms wat afval as hulle aan iemand raak. Ek sien myself in die middel van ’n groep – terwyl my arms deur ’n onsigbare mag agter my rug vasgewerk word. Heeltyd word hierdie één woord herhaal: raakvraat, raakvraat, raakvraat.
Die intensiteit bou op tot ’n staccatorefrein. My snikke en my man se arms om my ruk my uit die nagmerrie. My wange, kussing en slaapklere is deurweek. My bo-laken is om my gedraai soos ’n galgtou. Hierna het ek gesukkel om te slaap en my psigiater moes my medikasie aanpas.
Die ergste oomblik vir my was toe ’n kind ’n ander kind as ’n raakvraat uitkryt. Die departement se woorde, herhaal deur my hoof, dieselfde woord wat oor my lippe gevloei het, word nou as ’n wapen tussen kind en kind gebruik.
Dis nie lank nie of onderwysers begin ook om oortreders “raakvrate” te noem. Raakvraat. Die skeldnaam vir daardie leerders wat nie die “sosiale afstand” respekteer nie.
Raakvrate wil ander aansteek. Raakvrate gee nie om vir ander mense nie. Raakvrate is selfsugtig. Raakvrate is vuil. Raakvrate is reëlbrekers. Leerders word aangemoedig om raakvrate aan te meld by hulle onderwysers en die skoolraad. Aanmelders kry ’n sterretjie. Raakvrate word oor die interkom uitgeroep en summier huis toe gestuur. Hulle moet dokter toe gaan en ’n virustoets ondergaan voor hulle toegelaat word om weer skool toe te kom. Hierdie toets word ook as verswarende omstandigheid gebruik gedurende hul dissiplinêre verhoor.
Ek is sielsongelukkig en wil nie meer ’n juffrou wees nie. Dag na dag moet ek sien hoe my kinders sukkel om die reëls te gehoorsaam, moet ek hulle kondisionering verduur. Ek reken dis wat my aangespoor het om daarteen op te staan. Ek kon nie my kinders oorlaat aan die haatveldtog nie. Ek het ’n trotse raakvraat geword. Ek het die woord my eie gemaak. Ek wou nie toelaat dat ’n blote woord van my besit neem en my verander nie.
My stoorkamer word ’n veilige hawe vir diegene wat vertroosting soek. “Kan ek juffrou in juffrou se stoor sien?” het die kodewoorde geword vir “Juffrou, ek het ‘n drukkie nodig ...”
Ek is gelukkig dat ek nog nie uitgevang is nie.
Tot die dag toe die departement by ons skool opdaag en “onderhoude” met kinders en personeellede begin voer.
“Sunette, het jy gesien daar word elke periode ’n klompie kinders uitgeroep?” vra ek.
Sy knik. “Ja. Hulle kom met rooi gehuilde oë uit die kantoor. Ek wonder wat gaan daar binne aan.”
Ek is net so nuuskierig oor die “onderhoude” en die feit dat die hoof dit alles agter ’n geslote deur doen. “Wat het geword van verteenwoordiging?” vra ek heftig. “Weet die ouers dat die departement met die kinders praat sonder die teenwoordigheid van ’n volwassene?”
“Izzie, wees versigtig wat jy so hard in my klas sê. Jy weet my klaskamer is skaars ’n klipgooi van die personeelkamer af,” skerm Sunette.
“Nou hoekom maak ons nie die deur toe terwyl ons praat nie?” wil ek skoorsoekerig weet. Dis nie die eerste keer dat sy my probeer inrem oor my opinies nie.
“Izzie, moenie so wees nie. Jy weet ons hou ons klasdeure oop omdat die departement dit vereis. Daar moet goeie ventilasie wees om die oordrag van die virus te stuit.”
Sunette klink soos ’n papegaai. Wie se woorde spoeg sy nou vir my terug? Meneer Sweldt s’n of die man van die departement?
Later het ek nie meer by Sunette gaan sit tydens pouses of af periodes nie.
Die departement se teenwoordigheid het vinnig sigbaarder geword. Agent 1 het ’n kantoor in die hoofgebou gekry en Agent 2 is aangestel as die nuwe lewensoriënteringsonderwyser. Aanvanklik het ons niks vermoed nie, maar stuk-stuk het die inhoud van ons gesprekke tydens personeelvergaderings op die lappe gekom.
Ons private gedagtes was nie meer ons eie nie. Ons het gou nie meer geweet vir wie ons mag vertrou nie. Ek het opgehou om personeelkamer toe te gaan. Ek was gestrand op my eie eiland. Dit was net ek en die kinders.
“Juffrou, ons kan nie so aangaan nie!” laat Katrien hoor toe sy voet in my klas sit.
“En nou, Katrien, wat het jou so omgekrap?”
“Juffrou, hierdie ‘pandemie’ om mee te begin. Daai mense van die onderwysdepartment loop soos polisiehonde hier rond en sê vir ons wat ons moet doen. My vriende is bang vir hulle, bang om ’n voetjie skeef neer te sit, bang hulle word ook ingeroep!”
Katrien skep asem. “Juffrou, ons loop soos soldaatjies in rye, ons sit soos eendjies in rye, ons kyk skaars skeef vir mekaar dan moet ons die departementsman in sy kantoor gaan sien. En as nog één persoon vir my sê ek moet oppas of hulle gaan my verkla oor ek ’n ‘raakvraat’ is, gaan ek hulle iets aandoen!”
“Katrien, kom ons gaan praat in my stoorkamer.”
“Nee, Juffrou. Ek kan dit nie meer vat om agter geslote deure te praat nie.”
“Nou ja, toe, wat stel jy dan voor?” Ek besef ek speel op oom Nicklaas se voorstoep, maar ek voel nes Katrien. Ek maak my klas se deur toe en wys vir die leerders om sagter te praat. “Julle, kom ons bespreek die kwessie soos rasionele mense.”
“Wat help dit ons bespreek dit, Juffrou?” vra Johan.
“Dit help om daaroor te praat sodat ons van ons frustrasies kan ontslae raak,” antwoord ek.
“Maar om net te praat en niks daaromtrent te doen nie, is ook frustrerend, Juffrou,” kla Katrien terwyl sy haar tafel met haar vuis slaan.
“Katrien, dit gaan nie help om jou humeur te verloor nie. Ek verstaan jou frustrasie, maar ons moet rasioneel wees. Want wat help dit om ’n bohaai op te skop en al wat gebeur, is dat jy huis toe gestuur word?” Ek haal diep asem en probeer weer. “Kom sien my asseblief eerste pouse, nou moet ons op ons werk fokus.”
Katrien het my inderdaad gedurende die eerste pouse kom sien. Vir die eerste keer in my lewe het ek ’n kind in my vertroue geneem. Ek kon nie meer “die juffrou vs. die kind” wees nie. Ons voel dan dieselfde oor die situasie. Ons plan van aksie was soos volg: Ons kan onsself nie openlik verset nie. Ons moet strategies te werk gaan en uitvind wie ook soos ons voel.
Ek het nooit uitgevind wat ons gaan doen as ons dít eers weet nie, want ek is die volgende dag ingeroep na Agent 1 se kantoor. Iemand het my verkla van aanhitsergedrag en dat ek ’n raakvraat-pedofiel is.
“Mevrou – h’m – ons is bewus daarvan dat jy saam met minderjarige kinders in jou stoorkamer gaan en aan hulle raak,” laat hoor Agent 1 met sy bromstem.
Ek gaap hom aan. “Wat? Dis nie hoegenaamd soos jy dit laat klink nie, ek weet nie waar hierdie aantyging vandaan kom nie! Ek het nog nooit aan enige kind ’gevat’ soos jy dit laat klink nie.” Trane brand agter my oë.
“Soos ek dit laat klink? ’n Hele aantal leerders het by ons kom kla dat jy hulle gereeld na die stoorkamer neem en druk.”
Ek snak na asem. Tegnies is dit waar, maar ek het nog nooit ’n kind onbehoorlik “aangeraak” of “betas” nie, ek ondersteun hulle bloot met ’n drukkie. Nie een kind in my stoor was daar onder protes nie. Elkeen het deur ’n emosionele krisis gegaan en het ondersteuning nodig gehad. Nou word ek bestempel as ’n “raakvraat-pedofiel” omdat ek aan hulle geraak het.
Agent 1 en die skoolhoof het my opsies baie duidelik uitgespel:
1. Ek word aangekla deur die skoolbestuur en die onderwysdepartement.
2. Ek bedank en die aanklag verdwyn.
Die onregverdigheid en onbillikheid van dit alles het my oor die rand gedryf. Ek is daardie selfde middag opgeneem. Dit het nie my saak by die skool verbeter nie. Hulle het aangevoer dat hulle my moes laat gaan, dat ek nie meer die druk van skoolgee kon hanteer nie.
Die “druk” van skoolgee.
Die woordspel verstom my steeds. Amper meer as die stempel van rigiditeit wat tans op leerder én onderwyser afgedruk word. En tog was my pogings nie verniet nie. Ander het in my spore gevolg. Ek was nie die laaste onderwyser wat geforseer was om te bedank nie. Waar dit sal eindig, weet ek nog nie, maar iets het onder die druk begin roer.
NUUSBRIEF:
Suksesse
Kompetisies
Promosies
Maandeliks
Ek wil net vertel van die vrugte van my Skryfgeheime-kursus. My eerste Afrikaanse roman (en kursusverhaal), Die huis op die hoek, is deur Penguin Random House gepubliseer. Dis al weke lank op die Nielson-lys as een van die topverkopers. Sonder jou raad en insette sou ek dit nie kon doen nie. Ek deel hierdie nuus met jou en jou studente sodat hulle waardering vir en vertroue in julle kursusse kan hê. Madeleine Louw Blignault
O, ek geniet die prentestories vreeslik baie! Ek is 74 en my dogter 43 en ek deel kort-kort iets met haar. Dit bring soveel heerlike herinneringe terug. Ek was 'n bibliotekaresse wat baie storie-ure aangebied het. Griet Pretorius
Ek het tyd spandeer om weer deur die modules, voorbeelde en terugvoer te werk en het opnuut waardering gekry vir jou aanslag, eerlikheid en kennis. Jou terugvoer is objektief en opbouend. Baie dankie daarvoor. Corrie Botha
Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap om my kortverhaal en dekbrief vir jou te stuur. Dankie vir die terugvoer en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit. Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie. Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou wenke is die vuurhoutjies wat my kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Jou kursus bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk, wenke sowel as motivering. Jan Bonthuys
Die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie verhaal werk. Antoinette Venter
Die Skryfgeheime-kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek is 'n Afrikaans onderwyseres en gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het ook geweldig baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit. Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie. Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde. Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie. Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraag-teken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adélle von Ronge Kotzé
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers
