Die sinopsis kan deurslaggewend wees wanneer dit kom by die sukses of mislukking van jou voorlegging van die boek waarin jy soveel energie gesteek het. Wanneer jy jou sinopsis skryf, sal jy na alle waarskynlikheid talle leemtes in jou verhaal raaksien wat jou sal motiveer om jou manuskrip te herbesoek en te hersien. Beskou dit as 'n goeie teken.
Wat is die doel van die sinopsis?
Die sinopsis is ...
* 'n rigtinggewende instrument wat skrywers op koers hou wanneer hulle hul manuskrip ontwikkel en skryf.
* 'n diagnostiese instrument wat die keurder by 'n uitgewery help om die hoofstorielyn (main plot) vinnig en maklik te verstaan aangesien dit skerp op die hoofstorie se gebeure fokus.
* 'n bemarkingsinstrument, m.a.w. dit moet 'n treffende, akkurate, prikkelende opsomming wees waarmee die skrywer die keurder se belangstelling so gaande sal maak dat die keurder die volledige manuskrip sal aanvra.
Hoe moet ek my sinopsis skryf?
Die skrywer moet
...
* die sinopsis in dieselfde styl of trant as die manuskrip skryf.
* die sinopsis in die derde persoon en in die teenwoordige tyd skryf.
* die sinopsis kort hou, niks meer nie as een bladsy in enkelspasiëring, Times New Roman 12pt.
* besef dat die sinopsis oor die storie gaan, oor die gebeurtenisse - en nie oor die tema, dieper betekenis of hoe die manuskrip tot stand gekom het nie.
* hou by die kern van die storie met geen dialoog of onnodige detail nie.
* die sinopsis so skryf dat dit samehangend is en die hoofstorielyn en hoofintrige suksesvol belig sodat die keurder 'n sinvolle besluit oor die manuskrip kan neem.
* besef dat die sinopsis nie reklamemateriaal of 'n flapteks is wat lesers moet nuuskierig maak nie, maar dat dit alle geheime moet weggee.
In die praktyk bevat ’n goeie sinopsis hierdie elemente:
* Die hoofkarakter en sy/haar situasie. Die leser moet vinnig weet wie die storie dra en in watter wêreld of omstandighede hulle hulle bevind. Dit sluit ook die karakter se kernprobleem of tekort in.
* Die konflik. Wat gaan verkeerd? Wat ontwrig die karakter se lewe? Dit is die gebeurtenis wat die storie aanvuur en die karakter dwing om op te tree.
* Die doelstelling/s van die karakter. Wat wil die karakter bereik? Dit moet duidelik wees, want dit dryf die storie vorentoe.
* Die struikelblokke en komplikasies. Wat staan in die karakter se pad? Dit kan ander mense, innerlike vrese, omstandighede of geheime wees. Hier wys jy hoe die spanning opbou.
* Die klimaks. Dit is die beslissende oomblik waar alles op die spel is en die karakter ’n keuse moet maak of die grootste uitdaging moet trotseer.
* Die afloop of ontknoping. Wat gebeur uiteindelik? Word die doel bereik of nie? Hoe verander die karakter?
* Karakterontwikkeling. ’n Goeie sinopsis wys nie net wat gebeur nie, maar ook hoe die karakter verander of groei as gevolg van die uitwerking van die gebeure en die karakter se keuses en optrede op die karakter self.
Skryf nou jou sinopsis.
Volg hierdie DRIE STAPPE:
STAP 1:
Som jou verhaal op met 'n kernsin wat skerp op die hoofkarakter (protagonis) en die hoofstorielyn fokus, bv: 'n Fisikus reis terug in die tyd om die apostel Paulus te vermoor. Mik vir uiters 15 woorde en moenie die protagonis (hoofkarakter) se naam in hierdie sin gebruik nie. Gebruik hierdie sin ook later as 'n bemarkingsin reg aan die begin van jou dekbrief aan die uitgewer vir wie jy jou manuskrip wil stuur.
STAP 2:
Beskou jou storie, baie kortweg gestel, as 'n probleem of doelstelling, plus drie rampe en ’n einde.
Hou dit in gedagte en skryf nou ’n 7-sin-paragraaf wat jou hoofstorie opsom.
Skryf die 7-sin-paragraaf so:
Sin 1 is die 15-woord-kernsin in stap 1.
Sin 2 beskryf die karakter (protagonis) se probleem of doelstellings en benoem ook die opponent (antagonis) se betrokkenheid daarby.
Sinne 3-5 beskryf die protagonis en die antagonis se betrokkenheid of rolle by elk van die die "drie rampe" waaruit die hoofintrige in hoofsaak bestaan.
Sin 6 beskryf die krisis of swart oomblik, daardie oomblik of tydperk wanneer die karakter reken sy/hy sal ondergaan, en nooit oor die probleme sal triomfeer nie, of nooit sy/haar doelstellings sal bereik nie. Wat is daardie krisis? Beskryf dit.
Sin 7 beskryf die einde of afloop. Onthou dat die hoofkarakter intens betrokke moet wees by die einde en verkieslik sy/haar probleem of uitdagings self moet oplos (of nié oplos nie).
STAP 3:
Brei nou elke sin uit tot ten minste een volledige paragraaf met 'n onderwerpsin, drie of vier opvolgsinne en 'n slotsin. Sorg dat elke paragraaf kort, kragtig, helder, duidelik en ondubbelsinnig geskryf is.
Is jy klaar?
Lees jou sinopsis weer. Sorg dat alle hoofpunte van die hoofintrige van jou verhaal daarin vervat is en dat alle geheime wat nodig is om die verhaal te kan volg daarin opgeneem is. Sorg ook dat die nodige motivering/redes vir die karakter se optrede of keuses duidelik is.
Hersien dit so goed as wat jy kan met die wete dat skryfwerk nooit absoluut perfek kan wees nie en dat daar 'n oomblik kom wanneer jy 'n streep onderaan moet trek.
NUUSBRIEF:
Kompetisies
Skryfkanse
Promosies
Maandeliks
Ek wil net vertel van die vrugte van Skryfgeheime. My eerste Afrikaanse roman (en kursusverhaal), Die huis op die hoek, is deur Penguin Random House gepubliseer. Dis al weke lank op die Nielson-lys as een van die topverkopers. Sonder jou raad en insette sou ek dit nie kon doen nie. Ek deel hierdie nuus met jou en jou studente sodat hulle waardering vir en vertroue in julle kursusse kan hê. Madeleine Louw Blignault
O, ek geniet die prentestories vreeslik baie! Ek is 74 en my dogter 43 en ek deel kort-kort iets met haar. Dit bring soveel heerlike herinneringe terug. Ek was 'n bibliotekaresse wat baie storie-ure aangebied het. Griet Pretorius
Ek het tyd spandeer om weer deur die modules, voorbeelde en terugvoer te werk en het opnuut waardering gekry vir jou aanslag, eerlikheid en kennis. Jou terugvoer is objektief en opbouend. Baie dankie daarvoor. Corrie Botha
Uiteindelik het ek die moed bymekaar geskraap om my kortverhaal en dekbrief vir jou te stuur. Dankie vir die terugvoer en hoe jy dit gee. Ek vind die kursus interessant, motiverend en uitdagend, en wens net ek het al hierdie inligting al jare terug gehad. Om in te skryf vir jou kursus was een van my beste besluite ooit. Yvette Bester
Jy het geen idee hoe baie ek al klaar geleer het vandat ek met hierdie kursus begin het nie, jy het regtig geen idee nie. So baie dankie vir al jou hulp.
Judy de Bruin
Ek geniet die kreatiewe skryfkursus baie en sien dat dit totaal anders is as om feitelike beriggewing vir die koerant te skryf. Baie dankie vir die goeie kommentaar op die vorige werkstuk. Gert Kruger
Baie dankie vir jou kommentaar, dis in die kol ... ek is oopkop in die ding in, en doen dit absoluut vir die pret en om myself te ontwikkel, en neem nie kritiek persoonlik op nie. Sanél Hopkins
Dis amper soos om 'n nuwe taal aan te leer. Elke konsep wat jy snap, maak skielik tien deure oop! As ek nou die opdrag moes oordoen, sou ek reeds baie dinge verander het. Ek sal 'n paar dae lank rustig deur alles gaan en aan die storie skaaf. Daarna sal ek wegspring met module 2. Sien reeds uit daarna. Molly Lubbinge
Die kinderboekkursus is regtig opwindend en dis my plan om teen die einde ’n volledige manuskrip te hê. Albert Short
Baie dankie vir jou terugvoer, ek het al baie soorte kursusse gevolg en joune staan kop en skouers bo die res uit. Plus, jou terugvoer beantwoord elke keer alles waaroor ek gesit en wonder het terwyl ek skryf. Die enigste probleem is ek wil nie hê die kursus moet ooit ophou nie, ek geniet dit te veel. Melanie Pienaar
Jou wenke is die vuurhoutjies wat my kers aan die brand hou. Celia du Plessis
Jou kursus bring die realiteit na vore sonder om my op moedverloor se vlakte te laat sit, dit laat my vars en anders dink. Beslis die koste deur en deur werd. Elizma Coetzee
My woorde lyk nie meer soos 'n vervelige rytjie wasgoed aan 'n lang draad nie. Elsabé Bester
Lees vir ontspanning ontaard nou in 'n kritiese ontrafeling van teks, karakters en skryfstyl. Ek geniet dit terdeë. Johan Nel
Ek het deur jou terugvoer op my werkstuk gegaan. Dis absoluut wonderlik! Ek is al moedeloos met vriende en familie wat nie objektiewe terugvoer kan gee nie. Ek leer geweldig baie by jou. Erica Pretorius
As stokperdjieskrywer wil ek dankie sê vir al die hulp. Vandag, jare na ek vir die kursus ingeskryf het, blaai ek steeds deur die modules en terugvoer en kry sonder uitsondering nog iets wat my skryfwerk verryk, wenke sowel as motivering. Jan Bonthuys
Die storie wat jy vir my geredigeer het, was van onskatbare waarde, dis ongelooflik hoe baie 'n mens leer wanneer jy deur 'n geredigeerde weergawe van jou eie verhaal werk. Antoinette Venter
Die kursusse het vir my oneindig baie beteken. Ek gebruik elke dag in my werk van die dinge wat ek geleer het. Dit het vir my die moed gegee om te waag en te skep. Ek het ook geweldig baie oor myself geleer. Henriëtte Louw
Almal wat wonder of hulle kan skryf, moet hierdie kursusse volg. Ek het ongelooflik baie selfvertroue gekry en kon met elke module sien hoe my skryfwerk verbeter. Suretha Brits
Ek merk dat die meeste van jou studente melding maak van jou positiewe houding en aanmoediging - dis waar. Marinda van Niekerk
Ek voel dat ek met 'n doel werk en dat elke werkopdrag op 'n gehalteproduk afstuur. Melodie Veldhuizen
Jy verdien 'n pronkveer vir jou skryfkursus. Daar is 'n logiese opbou van module tot module sodat selfs 'n leek soos ek in staat is om die legkaartstukke bymekaar te sit. Rita Hofmeyr
Skryfgeheime voel vir my soos die deurgang na 'n nuwe lewenswyse. Dankie vir jou kommentaar op my werkstukke en vir jou aanmoediging. Willem Fourie
Ek het nog nooit 'n skrywer ontmoet wat my so effektief help nie. Elna Nieuwoudt
Alles wat jy uitgelig het, was presies dit waarmee ek gesukkel het. Dit het heeltyd vir my gevoel daar kort iets, 'n "twist". Ek het ook gevoel my storie benodig ’n opwindende verandering, dit was net te "veilig". Ek is so opgewonde en sien uit daarna om verder daaraan te werk. Yolandi Odendaal
'n Mens is huiwerig om te sien wat iemand anders van jou werk dink, maar nou kan ek nie wag om al die wenke toe te pas nie. Alta van Niekerk
Jy groei baie as mens. In jouself en ook in jou interaksie met mense. Jy leer besef die impak van woorde. Elmarie Schultz
Ek was so verras toe ek die terugvoer kry en sien jy kraak nie 'n ou se werk af nie. Marieta Thünemann
Ek gaan dit geniet om ou breinpatrone uit te vee en nuwes te maak. Ek voel glad nie meer afgetree nie. Troula Goosen
Ek het verskriklik baie geleer oor myself, ander mense én die skryfambag. Jou verbeeldingryke prikkelvrae en praktiese skryftegnieke is die perfekte kombinasie. Riëtte Botma
Die kursus was so insiggewend en verrykend, ek het ongelooflik baie geleer. Myself dikwels bevraagteken en gewonder of ek ooit die ding onder die knie gaan kry. Maar ek is nie iemand wat maklik moed opgee nie en ook nie bang om te waag nie. Dankie vir al die handvashou. Adélle von Ronge Kotzé
Die kursus het ander wêrelde en deure oopgemaak. Hoop om binnekort met die kinderboekkursus of joernalistiek te begin. Monja Beyers
