Is aanlyn kursusse die geld werd?

Of aanlyn kursusse en lesse die geld en moeite werd is, is debatteerbaar. Ook hier geld die ou caveat dat die koper versigtig moet wees, en moeite moet doen om seker te maak van haar saak. Intussen raak aanlyn kursusse al hoe gewilder. Omdat dit deeltyds gevolg kan word, bied dit tydbesparende, bekostigbare opsies aan werkendes om hulle loopbane en kanse op bevordering te verstewig, by te bly met die nuutste tendense, en relevant te bly in die kompeterende arbeidsmark. Verder het nie almal die tyd of die geld om in duur, voltydse akademiese kursusse te belê nie. Vir diesulkes is daar die opsie van e-leer, of te wel aanlyn leer.

 

Waarop moet ’n kandidaat in die besonder let? Kursusse buite klaskamerverband moet goed ontwerp wees en voorsiening maak vir ondersteuning ten einde direkte kontak tussen student en kursusleier te vervang. Maak dus seker jy kry kwaliteit een tot een ondersteuning. En werk deurlopend en gereeld aan jou modules en take, moenie alles tot op die laaste nippertjie uitstel nie. Vra of jy met huidige studente mag kennis maak en maak seker of jy jou geld kan terugkry indien jy ontevrede is met die gehalte van die aanbieding, terugvoer of kursusmateriaal.

 

Is jy ʼn kandidaat vir e-leer? Beantwoord die onderstaande vraelys:

·       Kan jy onafhanklik en op jou eie werk?

·       Is jy gedrewe en gemotiveerd om ʼn sukses van jou studies te maak?

·       Wil jy groei as mens en in jou loopbaan?

·       Het jy ʼn gebrek aan tyd om voltyds te studeer?

·       Het jy ʼn gebrek aan geld om voltyds te studeer?

·       Het jy ʼn begeerte om jou kennisvlakke te verbeter?

·       Het jy ʼn passie vir inligting en kennis?

·       Het jy te veel tyd op jou hande en weet jy nie wat om daarmee te maak nie?   

·       Is jou lewe leeg en vervelig?

·       Is jy toegewyd aan jou loopbaandoelwitte?

 

Indien jou antwoorde meesal positief is, is jy waarskynlik ʼn goeie kandidaat vir e-leer. Gryp die kans aan en benut dit. Die arbeidsmark is kompeterend en dit vat bloedsweet om bo uit te kom. ʼn Aanlyn kursus kan jou daardie hupstoot gee wat jy nodig het om sukses te behaal, en boonop ʼn welkome aanwins op jou Curriculum Vitae wees.   

 

Opgestel deur Anne Marais