Verdiep jou teks so

Kom 'n manuskrip ooit klaar? Bestaan daar iets soos 'n perfek afgeronde manuskrip? Seker nie. Hoewel die skrywer tog in die een of ander stadium met imperfeksie moet vrede maak deur 'n streep onder die werk te trek. Maar nie voor die skrywer die teks met oorleg verdiep en verryk het nie.
 
Lees hierdie kort uittreksel uit 'n roman-in-wording deur J. le Roux, sowel as die kommentaar wat daarop volg: 
Die sonstrale val deur die venster op Emille waar hy sit en lees. Sy bene is uitgestrek voor hom, voete op 'n bankie, Love In The Time Of Cholera vir die soveelste keer oop op sy skoot. Soos in die verlede identifiseer hy met Florentino Ariza se verbintenis om tot die dood toe vir Fermina Daza te veg. En waarom sal hy nie? Florentino se stryd is ook syne. Nou nog meer as ooit tevore in die verlede.
      Peinsend staar hy die verte in. Fermina se droefheid, wat uit haar veelbewoë lewe saam met haar eggenoot spruit, kontrasteer skerp met Florentino se geïntellektualiseerde liefde, wat op sigself ewe standvastig is, hoewel dit op niks anders as verbeelding en verbetenheid gebou is nie. En dan is daar hyself. Hy, Emille. Het hý nie ook maar, soos Florentino, gedurig sy Fermina se optrede só geïnterpreteer dat dit sy fantasieë oor die liefde sal bevestig nie?
       Emille word uit hierdie fiktiewe wêreld gesteur deur ’n kloppie aan die voordeur. Hy staan traag op en stap met die trappe af na die voorportaal.

Kommentaar: Hierdie nuwe skrywer het eers teen die einde van sy manuskrip na Love in the Time of Cholera verwys. Dalk was dit intuïtief, 'n soort skrywersaanvoeling dat sy storie addisionele diepte kort, dat hy iets meers daarvan behoort te maak, dat die paralelle en verskille tussen Gabriel García Márquez se werk en syne verrykend kan inwerk op sy teks.
     En dis goeie aanvoeling, want indien die skrywer daarin sou slaag om van daardie paralelle en verskille sinvol in te weef kan dit sy teks verrassender en betekenisvoller maak. Hierdie inweefproses sal uitdagend wees vir die skrywer, en beteken ook heelwat ekstra werk, maar van ekstra werk mag 'n skrywer nie wegskram nie, aangesien dit die verskil tussen mislukking en publikasiesukses kan beteken.
      Leer by hierdie nuwe skrywer. En besef dat wanneer jy jou storie op papier vasgevang het, is dit nie  noodwendig "klaar" nie. Want nou breek die verdiepingsfase aan, daardie periode waartydens jy moet uitkyk vir die dieper betekenisse wat jy met die werk probeer uitbeeld. Daardie temas moet jy nie net vind nie, jy moet dit ook versterk en uitbou, regdeur die teks. Glo my, dít is die lekkerste deel van skryf, want nóú gaan jy begin voel dat jy besig is om iets te skep wat op vele vlakke die moeite werd is. 

Write a comment

Comments: 0