Karakters & gedagtes

Alida Louw skryf:  Baie dankie vir die volledige terugvoer, ek kan sien dat hierdie kursus baie geleenthede vir groei en ontwikkeling gaan bied. Na aanleiding van jou kommentaar op my werkstuk het ek 'n vraag oor gedagtes.

 

VRAAG:  Jy noem dat karakters nie lank moet loop en dink nie, maar in Bets Smith se jongste twee historiese liefdesverhale (Goue dagbreek en Onder ‘n sterrehemel), loop beide hoofkarakters (Caty en Rudolf) lang tye en dink, in die een boek letterlik vir sewe bladsye. Kan dit afhang van die skrywers se eie styl, die tipe verhaal, of wat is die riglyne?

 

Janie Oosthuysen skryf:   Gedagtes (en beskrywings) in die hande van ’n beginner is dikwels langdradig, of dit gee te veel inligting weg wat eerder op ander interessanter maniere na vore moet kom. Ook gepubliseerde skrywers skryf soms blaaie vol gedagtes. Indien dit funksioneel is, en interessant en vermaaklik geskryf is, is dit heeltemal aanvaarbaar. Ander skrywers (Dan Brown is ’n goeie voorbeeld) gee weer soms blaaie vol agtergrondsmateriaal (back story), maar lesers vergewe Dan, want dis interessante, deeglik nagevorsde materiaal, soos bv. oor die Vatikaanstad.

 

RIGLYNE:  Vra jouself hierdie vrae wanneer jy jou skryfwerk krities bekyk:

·        Is dit noodsaaklike gedagtes, het lesers dit nodig om die verhaal te kan volg?

·        Het lesers dit alles regtig nodig in hierdie stadium van die verhaal?

·        Wat kan ek in hierdie stadium uitlaat, (want dis juis die onbeantwoorde vrae  wat lesers prikkel en lus maak om verder te lees).

·       Is dit prikkelend geskryf of moet ek van die gedagtes op ander, interessanter maniere aanbied, dalk in ’n toneel met handeling en dialoog?

·        Gaan my lesers dit alles lees? Wat gaan hulle oorslaan?

Goue Riglyn:  Minder het dikwels meer trefkrag.


Comments: 0