Hoe leer jy 'n kind skryf?

Natuurlik leer die meeste mense reeds as kind basiese lees- en skryfvaardighede aan, tuis en/of op skool. Maar veral moet elke mens van jongs af 'n liefde vir boeke aankweek. En soos die meeste goeie dinge begin dit tuis.

 

Leer jou kinders ongemerk oor skryf deur hulle eerstens in lesers te omskep. Omring hulle met boeke. Lees gereeld vir hulle uit prettige, prikkelende, goed geskrewe boeke voor, spesifiek daardie stories wat hulle geniet - vertrou jou kind se leessmaak en neem kinders se leesbehoeftes in ag, soos die soeke na ontvlugting, die versugting na outonomie (onafhanklikheid), m.a.w. die kind wil groot voel, en die hunkering na skoonheid, iets moois. Onthou dat kinders die graagste oor ander kinders lees, en wees versigtig vir boeke waarin grootmense oorneem en al die lekker dinge doen.

 

Leer en onderrig ook jouself sodat jy jou kind op storie-elemente kan wys en onopsigtelik kan leer watter elemente in n goeie storie moet wees. Wys aspekte oor skryf terloops uit, soos wie die hoofkarakter is, wat die hoofkarakter wil bereik, of te wel, wat die storiedoel is, wie die karakter se bondgenote is, watter pogings hulle aanwend om te slaag, en  wat die antagonis of teenstander alles doen om die karakter te fnuik.

 

Wys ook op elemente wat spanning bou, en hoe die skrywer oortuigende, lewende karakters skep.  Doen dit bietjie-bietjie en met 'n ligte hand, want jy wil nie 'n lekker leeservaring bederf deur dit in 'n leerervaring te verander nie.