Hoe gemaak met Engelse woorde wanneer ek fiksie skryf?

’n Skryfstudent vra: As ’n mens van Engelse woorde gebruik maak, wanneer skryf jy dit tussen aanhalingstekens, wanneer gebruik jy kursiewe skrif, en wanneer is dit aanvaarbaar om dit net so te vertaal?

 

Ek gee ’n voorbeeld: My pa het altyd ’n drankprobleem gehad, maar vanweë sy goeie hart en bekendheid op die dorp, het almal gemaak of hulle nie daarvan bewus is nie. Hy het sy eie tab by die bar gehad en tydens happy hour saam met die regulars gekuier asof hy een van hulle is, maar teen toemaaktyd was hy weer my pa.

 

Antwoord: Ek sien jy gebruik die ek-verteller-karakter. Goeie keuse as jou karakter ’n sterk eie stem, aweregse opinies en ’n unieke spraakpatroon het. Die ek-karakter-verteller bied interessante geleenthede en uitdagings aan skrywers. In die praktyk word alles in die storie deur hierdie karakter gefilter: dis hoe hierdie karakter dinge sien, hoor, interpreteer en weergee wat tel. Selfs ander karakters se dialoog word inderwaarheid deur die ek-karakter-verteller aangebied. Kortom, ek-karakter-vertellers druk ’n eie stempel op absoluut alles af, aangesien elke woord in die verhaal effektiewelik deur hulle oorgedra word. 

 

Ek-karakter-vertellers het feitlik altyd ’n eiesoortige stem, en vanweë die aard van hierdie vertelshoek, kan hierdie tipe karakters in die teorie praat nes hulle wil. As jou karakter dus van "bar" en "happy hour" praat, dan skryf jy as skrywer dit so neer. En as jou karakter van "you is" en "I are" praat, dan skryf jy dit ook so neer. Mits dit nie hinderlik is en jou lesers sodanig irriteer dat hulle die boek sal neersit nie. En dis waar aanvoeling, belesenheid en terugvoer deur kundiges ter sprake kom.

 

Terug na jou vraag: In fiksie skryf ons Engelse woorde gewoon, m.a.w. nes Afrikaanse woorde, en beslis nie skuins of tussen aanhalingstekens nie, dis net hinderlik. Ons onderstreep ook nie Engelse woorde in manuskripte nie, daardie gebruik het lankal verval.

 

Maar waak in die algemeen teen Engelse woorde, die uitdaging is tog om in Afrikaans te leer skryf, kreatief met die taal om te gaan, en nie op Engels as kruk te steun nie.