Hoe affekteer lengte die sukses van my voorlegging?

Hoe langer hoe beter?

Nuwe skrywers wil dikwels weet hoe lank hulle manuskrip moet wees. Hulle het weke lank geworstel met karakterontwikkeling, intrige en die skryfwerk self en reken hoe langer hoe beter, want kyk hoe dik is die meeste boeke op die winkelrakke dan.

 

Kyk weer. Onthou, dik boeke is gewoonlik werke deur gevestigde skrywers. Hulle het die skryfkuns onder die knie, het al gereelde lesers opgebou en hulle uitgewers verwag dikker werke. As jy krities kyk, sal jy sien dat ook hierdie skrywers se eerste boeke aansienlik dunner as hulle latere werke is. Vergelyk The Hobbit (95,022) met The Fellowship of the Ring (177,227), Two Towers (143,436) en The Return of the King (134,462). Ook die Twilight-reeks vorder van 118,501 na 132,807, 147,930 en 192,196.

 

Nuwe skrywers moet kennis neem dat lengte een van die hoofredes is waarom hulle manuskripte afgekeur word. Dikwels is die intrige net te kompleks, die tempo net te stadig, die skryfwerk net te woordryk en lang verhalende gedeeltes en agtergrondsgeskiedenis net te volop.

 

Hoe word woordtelling in die industrie bereken? Die rekenaarprogram waarmee jy skryf, bereken die woordtelling outomaties en akkuraat. Uitgewers gebruik egter ’n ander metode, naamlik 250 woorde per bladsy, gewoon omdat hulle oor die algemeen met gedrukte manuskripte werk. Moenie dink ’n klein font is die oplossing nie, gebruik Times New Roman 12 pt as jy nie wil hê jou manuskrip moet summier afgekeur word nie.

 

Hoe lank moet jou manuskrip dus wees?

Dit hang alles af van die tipe storie wat jy vertel.

 

Hier is ’n paar riglyne:

* Kort kortverhale en tydskrifstories: minder as 2,500 (let op die tydskrif se riglyne)

* Kortverhale: 2,500 tot 7,500

* Kort novelles: 7,500 tot 20,000

* Novelles (ook liefdesverhale of romanses): 20,000 tot 50,000

* Romans (dik, komplekse boeke) 70,000 tot 90,000

 

Genre beïnvloed ook storielengte:

* Tienerboeke is korter, van 50,000 tot 80,000 woorde.

* Wetenskapfiksie en -fantasie is gewoonlik langer, tot 125,000 woorde.

 

Jy het beslis al dikker boeke as dit gelees, maar dis gevestigde skrywers se werke. As nuwe skrywer moet jou manuskrip se lengte aan die riglyne hierbo voldoen. Waak teen woordrykheid en skrap alles wat oorbodig, herhalend of vervelig is. Sorg dat jou manuskrip netjies en goed versorg is voordat jy dit aan ’n uitgewer stuur, want langer is dalk nie beter nie, maar eerste indrukke tel steeds.

Write a comment

Comments: 0