Leer by die meesters

Kobus Burger skryf: “Baie dankie vir die deeglike terugvoer op my littelosmaker wat my kop letterlik oopgekloof het. Maar ek besef ook hoe baie ek moet weet en soek verdere leiding met twee haakplekke. Ek sukkel met handeling & lyftaal. Dialoog skryf ek redelik goed, maar ek haak vas met wat die karakters doen. Ook met intrige/verhaallyn. Ek kan ’n toneel skryf waar twee mense praat, maar dan ... wat? Is daar ’n manier hoe ek hieraan kan werk?”
 
Janie Oosthuysen antwoord: “Een van die allerbeste wenke, iets wat ek jare lank gedoen het en wat vir my van oneindige waarde was, is: LEER BY DIE MEESTERS. En nou is die vraag natuurlik 'hoe'? Die antwoord is: Kry ’n oefeningboek en leen, koop of neem ’n boek uit deur ’n skrywer soos wie jy graag sou wou skryf. Lees dit eers vinnig vir storie en dan stadig met ’n pen in jou hand. Skryf alle woorde, frases, sinne, paragrawe (handeling en lyftaalgedeeltes, beeldspraak, ens.) wat jou tref as iets unieks of besonders, of sommer net sinvol, onder mekaar neer, en lees daardie lys een keer per dag. Net een keer. En net lees. Nie leer nie. Doen dit met boek na boek.
     “Jy sal self sien hoe van daardie dinge amper vanself in jou skryfwerk begin sypel en hoe jou uitdrukkingsvermoë verbeter. En moet jou nie bekommer oor plagiaat nie, dis iets wat bewustelik gedoen word, jy sal eerder vind dat jy daardie woorde, frases, tegnieke ensomeer, onbewustelik jou eie maak en jou eie stempel daarop afdruk.
     “Gedurende die kursus sal jy presies leer hoe om ’n storie-idee m.b.v. prikkelvrae te ontgin en ’n storielyn te ontwikkel. Maar nou eers vir daardie leeslyste. Dis ontsettend belangrik en een van die sleutels tot my bietjie sukses. Dis ook ’n uitstekende manier om ’n vreemde taal aan te leer. En ek weet dis baie werk, maar dis dit werd.”

 
Kobus Burger skryf: “Dankie, dis perfek. Ek is gek oor Guus Kuijer (Nederlandse kinderboekskrywer) en Protea het juis van sy boeke vertaal. Die boek van alle dinge is fenomenaal en ek het die Polleke-reeks verslind. Ek lees Polleke juis nou weer om onder die indruk te kom van hoe hy skryf. Ek gaan nou dadelik die oefeningboek nadertrek en leer en lees en neerpen en inadem.” Kobus is besig met die Kinder-en-jeugboek-kursus.

Write a comment

Comments: 0