Skryfgeheime- aanlyn skryfskool


Die FINALISTE & WENNERS van ons 2022-liefdesverhaalkompetisie


Ons liefdesverhaalkompetisie is afgehandel en volgens die terugvoer voel die meer as 160 deelnemers dat dit nie net pret was nie, maar dat hulle ook baie uit die hele proses geleer het. En glo my, dit was die idee!

 

'n Groot dankie aan die keurderspaneel wat uit sowat 65 deelnemers bestaan het. Talle het my laat weet dat die keuring uitdagend was, maar dat hulle die lesery baie geniet het. En wie sou nie? Die verhale is uiteenlopend, vermaaklik, prettig, by tye nogal stout en ongemaklik na aan die waarheid, selfs grensverskuiwend. Lees HIER wat skryf van die keurders.

 

Die langlys bestaan uit hierdie innoverende groepie skrywers, alfabeties geplaas: Christine Stoman (Skynduiwel), DeWet Bisschoff (Die reisiger), Elsabé Fouché (Kissie van onthou), Esther Fourie (Koffieman), Helene Pretorius (Skoene met strikke), Johan de Nysschen (Tussen Note), Kuki Botha (Prins Albert - vir altyd), Louis Lategan (Gemmerkoekie), Marinda van Niekerk (Franse vlegsel), Rachelle Best (Haar nommer was 73), Riata Nel (Onrus van die hart), Rika Wolfaardt (Eva se kleed), Tosca de Villiers (Dinsdag; Die hart se snare).

 

Die keurders het soos volg gestem: In die eerste plek Elsabé Fouché (links bo op foto) met "Kissie van onthou", in die tweede plek Helene Pretorius (regs bo) met "Skoene met strikke", en in die gesamentlike derde plek, met presies ewe veel stemme: Christine Stoman (links onder) met "Skynduiwel", Louis Lategan (middel onder) met "Gemmerkoekie" en Tosca de Villiers (regs onder) met "Die hart se snare".

 

Hierdie vyf skrywers sal binnekort 'n volledige redigering van hul stories ontvang en kan dit dan na goeddunke aan enige geskikte wedstryd of tydskrif stuur. Hierdie vyf verhale sal  ook vir 'n kort tydjie op die Skryfgeheime-webblad verskyn.

 

Nogmaals geluk aan die vyf wenners, die mense op die langlys en elke ander deelnemer vir die uiteenlopende verhale wat sulke heerlike ligpunte in my dag was. Glo my, ek weet hoeveel werk dit is om 'n storie uit niks te skep en dan oor en oor te hersien tot dit (hopelik) op elke vlak werk. Ek weet ook hoe moeilik dit is om dan daardie "baba" vir keuring in te stuur. Dankie vir julle groot harte en die uitstekende samewerking, dit het aan hierdie kompetisie sy eie persoonlikheid gegee.


Hierdie kompetisie is nou afgehandel. Kom loer gerus op 'n gereelde basis by Skryfgeheime in ... daar sal vorentoe nog talle prettige skryfkompetisies wees.