2022-liefdesverhaalkompetisie

So gesels van ons keurders


Jaco van der Merwe berig: “Natuurlik voel ek erg gekwets oor ek nie eens die langlys gehaal het nie. Emosionele trauma wat ek nou moet hanteer. Dus ... as ’n egosentriese, selfingenome aspirantskrywer het ek besluit om die ander verhale met die minagting te benader wat hulle toekom.

     "So ... okay, fine, hier kom dit!

     "Wat ’n versameling – en ek bedoel dit goed (sug). Van die meer naïewe sy van die spektrum (naamlik suiwer wensvervulling) tot egte emosiebelaaide toenadering. Van ’n lesbiese verhouding tot ’n universele seksuele loodgietersfantasie. En selfs ’n wetenskapfiksiesielsgenoot wat sekerlik ook soos ek voel dat ’n kortverhaal jou nie genoeg ruimte gee om dinge mooi uit te pluis nie, plus ’n storie wat my eie lewe aanraak. Hier is my topdrie in geen spesifieke volgorde nie: Haar nommer was 73, Skoene met strikke, Gemmerkoekie.”

 

Ansie de Vos berig: Ek was uitstedig en van lyn af en het vanoggend eers die e-pos oor die beoordeling gekry, so op hierdie blou Maandagoggend moes alles eers agterweë bly terwyl ek lees. Natuurlik is ek teleurgesteld dat my storie nie die langlys gehaal het nie, maar ek kon sien die kwaliteit was hoog en die kompetisie straf. Ek sou graag die verhale weer wou lees om seker te maak van my besluit, maar eerste indrukke is seker maar die beste. Dat dit naelskraap was, is gewis. Hier is my lysie van drie: Die hart se snare, Onrus van die hart, Koffieman.”

 

Louis Lategan berig: “Die keuring was allermins maklik. Ek het al die verhale (ook my eie) binne een sessie gelees, ek vind dit makliker om hulle teen mekaar op te weeg as hulle nog vars in my geheue is. Indien dit dus lyk of ek dit bloot vinnig wou afhandel – dis glad nie die geval nie. Ek het baie respek vir my medeskrywers se werk en die tyd en energie wat hulle ingesteek het. My topdrie is: Dinsdag, Kissie van onthou, Skoene met strikke.”

 

Jo-Anne Walsh berig: “Werklik ’n klomp pragtige verhale. Ek het dit so geniet. Soos jy kan sien, het ek lank kop gekrap. Uiteindelik het hierdie drie verhale my hart gevange gehou: Skoene met strikke, Dinsdag, Skynduiwel.”

 

Erik le Roux berig: “Die keuring was ’n moeilike taak, aangesien dit besondere vaardighede verg om objektief te oordeel. Alle oordeel is eintlik maar subjektief indien daar nie spesifieke kriteria is nie – en selfs dan ook nog. Ek het gevind sommige verhale lees maklik omdat die gebeure so 'moontlik' is. Ander rek die geloofwaardigheid ’n bietjie te ver na my sin. Of die vloei van die storie word deur te veel bywoorde en byvoeglike naamwoorde bederf. Dit was nogtans 'n leersame en uitdagende proses. Hier is my lysie: Gemmerkoekie, Skoene met strikke, Kissie van onthou."