Skryfgeheime- aanlyn skryfskool

Skryf 'n sinopsis


Die sinopsis kan deurslaggewend wees wanneer dit kom by die sukses of mislukking van jou voorlegging. Wanneer jy jou sinopsis skryf, sal jy na alle waarskynlikheid talle leemtes in jou verhaal raaksien wat jou sal motiveer om jou manuskrip te herbesoek en te hersien. Beskou dit as 'n goeie teken.

 

Wat is die doel van die sinopsis?

Die sinopsis is ...

* 'n rigtinggewende instrument wat skrywers op koers hou wanneer hulle hul manuskrip ontwikkel en skryf.

* 'n diagnostiese instrument wat die keurder by 'n uitgewery help om die hoofstorielyn (Engels: main plot) vinnig en maklik te verstaan aangesien dit skerp en uitsluitlik op die hoofstorie se intrige (gebeure) fokus.

* 'n bemarkingsinstrument, 'n treffende, akkurate, prikkelende opsomming waarmee die skrywer die keurder se belangstelling gaande maak sodat die keurder die volledige manuskrip sal aanvra.

 

Hoe moet ek my sinopsis skryf?

Met die keurder by 'n uitgewery voorop in jou gedagtes. Hierdie persoon gaan jou sinopsis gebruik as basis vir haar besluit of sy die manuskrip gaan oopslaan en of sy dit sommer met die intrap eenkant toe gaan skuif. 

 

Die skrywer moet ...

* die sinopsis in dieselfde styl of trant as die manuskrip skryf,

* die sinopsis kort hou, niks meer nie as een bladsy in enkelspasiëring, Times New Roman 12pt,

* besef dat die sinopsis oor die storie gaan, oor die gebeurtenisse - en nie oor die tema, dieper betekenis of hoe die manuskrip tot stand gekom het nie,

* besef dat die sinopsis nie reklamemateriaal of 'n flapteks is nie, maar dat dit alle geheime moet weggee,

die sinopsis so skryf dat dit samehangend is en die hoofstorielyn en hoofintrige suksesvol belig sodat die keurder 'n sinvolle besluit oor die manuskrip se lot kan neem.

 

Skryf nou jou sinopsis.

Volg hierdie DRIE STAPPE:

STAP 1: 

Som jou verhaal op met 'n kernsin wat skerp op die hoofkarakter (protagonis) en die hoofstorielyn fokus, bv: 'n Fisikus reis terug in die tyd om die apostel Paulus te vermoor. Mik vir uiters 15 woorde en moenie die protagonis (hoofkarakter) se naam in hierdie sin gebruik nie. Gebruik hierdie sin ook later as 'n bemarkingsin reg aan die begin van jou dekbrief aan die uitgewer aan wie jy jou manuskrip wil stuur.

 

STAP 2: 

Beskou jou storie, baie kortweg gestel, as 'n probleem of doelstelling, plus drie rampe en ’n einde. Hou dit in gedagte en skryf nou ’n 7-sin-paragraaf wat jou hoofstorie opsom.

 

Skryf die 6-sin-paragraaf so:

Sin 1 is die 15-woord-kernsin in stap 1.

Sin 2 beskryf die karakter (protagonis) se probleem of doelstellings en benoem ook die opponent (antagonis) se betrokkenheid daarby. 

Sinne 3-5 beskryf die protagonis en die antagonis se betrokkenheid of rolle by elk van die die "drie rampe" waaruit die hoofintrige in hoofsaak bestaan. 

Sin 6 beskryf die krisis of swart oomblik, daardie oomblik of tydperk wanneer die karakter reken sy/hy sal ondergaan, en nooit oor die probleme sal triomfeer nie, of nooit sy/haar doelstellings sal bereik nie. Wat is daardie krisis? Beskryf dit.

Sin 7 beskryf die einde of afloop. Onthou dat die hoofkarakter intens betrokke moet wees by die einde en verkieslik sy/haar probleem of uitdagings self moet oplos (of nie oplos nie). Die verhaal moet ook verkieslik met en binne-in die hoofkarakter eindig, met sy/haar aksies, gedagtes, dialoog, gevoelens en visie van die toekoms.

 

STAP 3: 

Brei nou elke sin uit tot ten minste een volledige paragraaf met 'n onderwerpsin, drie of vier opvolgsinne en 'n slotsin. Sorg dat elke paragraaf kort, kragtig, helder, duidelik en ondubbelsinnig geskryf is.

 

Is jy klaar? Lees jou sinopsis weer en sorg dat alle hoofpunte van die hoofintrige van jou verhaal daarin vervat is en dat alle geheime wat nodig is om die storie te kan volg daarin opgeneem is. Sorg ook dat die nodige motivering vir die karakter se optrede of keuses duidelik is.

 

Klop jouself nou op die skouer, want jy het so pas 'n werkbare raamwerk vir jou verhaal geskep. Hersien dit so goed as wat jy kan. Doen jou uiterste bes, maar aanvaar ook dat skryfwerk nooit absoluut perfek kan wees nie en dat daar 'n oomblik kom wanneer jy 'n streep onderaan 'n skryfstuk moet trek sodat die volgende fase kan begin.