Hoe leer 'n mens om jou kind te leer skryf?

Hoe 'n mens 'n boek leer skryf, en veral hoe jy leer om jou kind te leer skryf, is vir baie mense 'n uitdaging.  Die meeste mense leer reeds as jong kind die nodige basiese lees- en skryfvaardighede aan. Dis 'n doelbewuste proses van die ABC tot by "kyk en lees". Maar leer ons nie beter wanneer dit amper ongemerk gebeur nie? Indien wel, hoe kan ons vir ons kinders 'n liefde vir boeke, lees en skryf "ongemerk" aanleer?

 

Eerstens, deur jouself, en jou kinders, met lekker boeke te omring en gereeld vir hulle voor te lees, spesifiek daardie stories wat hulle geniet, m.a.w. jy moet jou kind se leessmaak respekteer. 

 

Tweedens, deur nie net jou kind nie, maar ook jouself op te voed: deur boekresensies te lees en bibliotekaresses uit te vra sodat jy jou kind met opwindende nuwe idees, boeke en temas kan uitdaag.

 

Derdens, deur ook jouself uit te daag en meer oor die skryfproses te leer. Sodoende sal jy in die posisie wees om jou kind onopsigtelik te leer hoe om te skryf. In die praktyk beteken dit onder meer die volgende: 1) jy wys sekere aspekte van skryf "terloops" uit terwyl julle lees: soos om die kind te vra wie die hoofkarakter is en wat die hoofkarakter wil bereik, m.a.w. wat die storiedoel is; 2) jy vra jou kind wie die karakter se bondgenote is, en wat die antagonis of teenstander alles doen om die hoofkarakter te belemmer; 3) jy wys op elemente wat spanning bou, en hoe die skrywer oortuigende, lewende karakters skep; 4) jy doen dit alles bietjie-bietjie, met 'n ligte hand, want jy wil nie 'n opwindende lees-ervaring bederf deur dit in 'n vervelige leer-ervaring te verander nie.

 

En vierdens, deur 'n goeie skryfkursus te volg: nie net sal jou kind baie by jou nuutgevonde kennis baat nie, maar jy sal ook persoonlike groei ondergaan en, wie weet, dalk selfs 'n suksesvolle skrywer word.

Write a comment

Comments: 0