Begin met jou jong hoofkarakter
Baie van die mees geslaagde kinder- en jeugboeke begin deur die hoofkarakter dadelik aan die leser bekend te stel. Hierdie karakter moet verkieslik 'n kind of tiener wees van min of meer dieselfde ouderdom as die teikenlesers.
Wanneer 'n storie met die jong hoofkarakter begin, weet lesers onmiddellik wie die belangrikste persoon in die verhaal is. Dit skep vinnig belangstelling en maak dit makliker vir lesers om emosioneel by die storie betrokke te raak. Jong lesers soek dikwels karakters in wie hulle hulself kan herken. Hulle wil die wêreld deur daardie karakter se oë beleef en saam met hom of haar probleme oplos, vrese oorkom en avonture ervaar.
As 'n verhaal met een of meer volwassenes of lang agtergrondsinligting sou begin, is die kanse goed dat dit jou jong lesers sodanig kan verveel dat hulle die boek neersit nog voordat hulle die karakter saam met wie hulle moet reis eens ontmoet het. In die meeste gevalle is dit beter om die hoofkarakter so vroeg moontlik op die verhoog te bring, verkieslik reeds in die eerste paragraaf of toneel.
Dit beteken nie dat volwassenes geen rol in die verhaal mag speel nie. Hulle kan steeds ondersteunende karakters wees. Die fokus moet egter op die jong hoofkarakter se ervarings, gevoelens, uitdagings en ontwikkeling bly.
Vra jouself hierdie tipe vrae wanneer jy 'n kinder- of jeugverhaal skryf: Ontmoet die leser my hoofkarakter vroeg genoeg? Sal 'n jong leser maklik met hierdie karakter kan identifiseer en graag oor hom of haar wil lees? Indien die antwoord "ja" is, het die verhaal sommer met die wegspring 'n sterk grondslag vir lesersbetrokkenheid. En dis mos wat jy as skrywer wil bereik.
'n Sterk begin met 'n geloofwaardige jong hoofkarakter, 'n interessante plek en 'n prikkelende storieprobleem is die eerste sleutel wat die deur na 'n suksesvolle kinder- of jeugverhaal oopsluit.
