Ons bevind ons in vreemde tye, sekerlik vreemder as wat enigeen van ons ons ooit sou kon voorstel, by tye só vreemd dat ons begin wonder of ons ons in 'n wetenskap-fiksie film bevind. Of binne 'n distopiese boek.
Soms voel dit asof ons totaal beheer verloor het oor ons lewe – dis nou indien ons ooit in beheer van enigiets was. Dalk is alles net skyn? Dalk bevind ons ons werklik binne 'n soort matriks. Wêreldgebeure ontvou en verander so vinnig dat ons al hoe meer aan ons eie en ons gesinne se toekoms en oorlewing begin twyfel. Heers daar waansin om ons? Is dit iets nuuts, of was dit nog altyd so? Watter lewenspad moet ons kies? Watter roete sal na vreugde en sukses lei?
Op die meeste van hierdie vrae het ek geen antwoorde nie. Ek weet wel dat stories – in watter vorm ook al – nog altyd met ons was en ook in die toekoms met ons sal wees, hetsy om 'n kampvuur, in 'n boek, op die verhoog, of virtueel.
In watter gedaante ook al, mense sal altyd in stories in ontsnap. Of stories gebruik om sin aan die gebeurtenisse om hulle te gee. Aan stories sal daar altyd 'n behoefte en 'n vraag wees. Dalk is dit tyd dat jý óók ontsnap deur jou pen op te tel en daardie boek wat in jou skuil begin skryf. Want hiervan is ek seker: en dit is dat die vraag na goeie stories net sal groei en daarmee saam die getal lesers wat op soek is na 'n goeie boek om sin te maak van die landskap om hulle.

Write a comment
Martha Laurencia Skrywer (Wednesday, 29 April 2026 02:15)
Ek het n storie geskryf. My storie. Ek is 59 jaar oud. Ek noem dit Dagboek van n Ma. Ek het sewe kinders en twee aangenome seuns. My oudste dogter het in haar finale jaar in 'n diaetiese koma gegaan. As Pastoors paar is ons geloof getoets, veral toe 'n ou liefde van my op die toneel verskyn.Toe ek dit begin skryf, het ek besef dit kan 'n wonderlike sepie wees met ten minste vier seisoene. Daar is die Covid pandemie wat ons moes trotseer. Troues van die kinders. Daar was sterftes. Alle het in 2011 begin. Gemeente is geraak. Kerk is geskud. As u belang stel, kan ek dit 'n formele pitch maak, maar ek weet dis werd om gelees en gekyk te word. Ek het so baie gegroei, moes die vernedering vn 'n egskeiding na 'n huwelik van dertig jaar oorleef, my kaartehuis het inmekaar getuimel met kinders wat op verskillende maniere met die egskeiding gedeal het. Nege jaar na die egskeiding wil die man terugkom, maar ek het die hoofsuk gesluit. Sal ons familie ooit weer heel word? Le heling in die versoening vam die ouers? Of nie?