Wat kan skrywers uit Covid-19 leer?

Fiksie is per definisie iets wat opgemaak is, dis nie regtig nie, ’n boel leuens as jy wil, spesfiek ontwikkel om lesers te verskrik of te verruk, maar altyd met die oogmerk om te vermaak. Om te slaag moet ’n verhaal geloofwaardig en sinvol voorkom: dit moet die leser oortuig dat dit waar sou kon wees, al is die fiktiewe wêreld en die gebeure wat daarin afspeel ook hoe aweregs, absurd of bisar.

     Wie onthou vir Lou Pearlman, die man wat Amerikaanse beleggers uit meer as USD300 miljoen verkul het? Hy was die man wat na bewering gesê het as jy ’n leuen vertel, sorg dat dit goed is – en só groot dat dit eenvoudig waar móét wees. Met "groot" het hy waarskynlik bedoel die ondersteunende data moet ook "goed" wees, so goed soos die limousines, Boy Bands en die fiktiewe Trans Continental Airlines Travel Services Inc. waarmee hy beleggers dekades lank verblind en aan die neus gelei het.

     Wat kan skrywers leer uit Lou Pearlman se loopbaan en die Covid-19-narratief wat tans op die globale verhoog afspeel en mense by tye verward, angstig, ongelowig, verslae, woedend, verbysterd, hoopvol, hopeloos en selfs reddeloos laat voel? Wat kan skrywers leer wanneer karakters en instansies op die globale verhoog geloofwaardigheid inboet en terselfdertyd groot verwarring en verwoesting saai wanneer projeksies en gevolgtrekkings uit konteks aan die groot klok gehang word?

     Hoe het die korona-narratief ontstaan? ’n Aanvanklike projeksie van die gesaghebbende Imperial College of London was dat, sonder regeringsingryping, 40 miljoen mense wêreldwyd in 2020 alleen aan Covid-19 sal beswyk. En dis maar een van talle op die oog af oortuigende projeksies wat, tesame met beeldmateriaal van skarrelende medici in hazmat-pakke, die vrese en verbeelding van owerhede en bevolkings oor die wêreld heen gaande gemaak het. Tans is die globale Covid-19-sterftesyfer steeds 'n fraksie van daardie projeksies, maar steeds word hele bevolkings  ingeperk en regte en vryhede ingrypend ingekort. Wat is die storie?

     Nie alle stories is geslaag nie. Baie is swak geskryf. Talle het ’n onderliggende motief en is niks anders as propganda nie. Nog ander is oordrewe en melodramaties, maar nogtans topverkopers. Lesersmaak is uiteenlopend en tog voorspelbaar.     

     Maar om werklik te slaag, om werklik 'n bydrae te maak moet selfs ’n fantasie aan sekere vereistes voldoen. Dit moet om 'n groot idee wentel, dit moet sinvol wees, dit moet lesers by 'n unieke wêreld betrek en sekere emosies by hulle wakker maak. Dit moet lesers, geskok, verward en angstig, maar ook meegesleur en in vervoering, na die waarheid laat tas. Heeltyd moet lesers 'n balans probeer vind iewers op die grens van vertroue en vertwyfeling, maar met ’n groeiende bereidwilligheid om hulle vertwyfeling op te skort, want wie sê dit kan nie so gebeur nie, wat as?

     En algaande, soos die verhaal ontvou, moet die leser se vertroue in die skrywer as skepper van ’n geloofwaardige, geslaagde eindproduk groei en vestig. Want dis eers wanneer lesers swig voor die vernuf van 'n skrywer-skepper dat hulle ’n grens oorsteek en die boek nie meer wil of kan neersit nie omdat hulle die narratief as "waar" aanvaar.

’n Deel van die geheim is om die gegewe so aan te bied dat lesers dit graag sal wil glo. Om hierdie doelstelling te bereik moet die gegewe tot lesers se diepste vrese en gemosionele behoeftes spreek.

     Binne die grense van ’n veilige moderne bestaan soek mense juis na aktiwiteite, avonture en fiksie wat hulle uitdaag en waaraan hulle hul kan meet. Nes die beste storieboekkarakters wil hulle ontvlug en wegkom van die alledaagse, ’n uitsonderlike lewe lei, voel hoe dit voel om getoets te word en uitvind of hulle daardie toets sal slaag en ’n held sal wees en of hulle sal faal en sal ondergaan, dalk selfs sterf.

     Hierdie behoeftes verklaar ten dele waarom lesers hulle met soveel bereidwilligheid in die hande van ’n bedrewe skrywer sal plaas: 'n verbeeldingsvlug is immers pret, maar selde dodelik, en 'n boek verwoes darem nooit jou hele begroting en jou kinders se toekoms nie.

     Dis die skrywer se taak om ’n gegewe te vind wat lesers se donkerste nagmerries betrek. Dis die skrywer se taak om daardie gegewe met die nodige ondersteunende data te verstewig sodat die eindproduk op elke vlak oortuig. Indien die skrywer die kolletjies so verbind en die grafieke so trek dat die gebeure nie net logies en oortuigend voorkom nie, maar ook prikkelend en meesleurend verloop, dan sal lesers hulle voorbehoude vir die duur van die verhaal opskort en elke insident met gespanne aandag belééf, asof hulle 'n karakter in daardie verhaal is.

     Gepaste data, bestaande uit noukeurig nagevorste, fyn geselekteerde detail wat die narratief ondersteun, speel ’n groot rol in die vestiging van geloofwaardigheid binne enige scenario.

     Gepaste data dra nie net kleur by tot ’n verhaal nie, dit laat sake ook eg en outentiek voorkom en voed sodoende lesersvertroue. Feitefoute, waninterpretasies en logikaprobeme laat lesers vertroue verloor in sowel skrywer as produk. Ter wille van deurlopende lesersbetrokkenheid is dit belangrik dat jy as skrywer nie net goed skryf nie, maar ook deeglike en diepgaande navorsing doen.

     Bostaande geld vir alle genres: fantasieë, wetenskap-fiksie, speur- en spanningsverhale, romanses en grillers. Ook vir Ponz-skemas en piramides van watter aard ook al. Altyd moet die geloofwaardigheid van die wêreld wat jy skep voorop staan.

     Sorg dus dat jy veel meer weet as wat ooit in jou boek sal verskyn. Weet dat jou lesers jou net eenmaal hoef uit te vang om ’n vraagteken oor jou en jou oeuvre te plaas. Indien jy egter daarin sou slaag om ’n prikkelende, geloofwaardige leeservaring te skep met net genoeg versigtig gekose ondersteunende data om jou lesers te oortuig sal hulle nie sal kan wag om om te blaai en verder te lees nie. 

     Met hierdie benadering sal jy jou karakters en jou lesers langs wonderbaarlike, selfs fantasmagoriese of paaie kan lei. En dít is ’n groot verantwoordelikheid.

     Gebruik dus jou magte met oorleg en omsigtigheid. Want altyd moet jy jouself afvra: Wat is my agenda? Wat wil ek hiermee bereik? En slaag ek in my doel en kan my werk dalk selfs op globale vlak 'n impak hê? Maar wat gaan daardie impak wees? Is dit geskryf om te vermaak of om verwoesting te saai?

Write a comment

Comments: 0