Ek wil 'n trilogie of 'n reeks skryf, hoe gemaak?

Vraag:  Ek het ’n keuringsverslag van ’n uitgewer ontvang en daarin word aangedui dat my manuskrip nie “alleenstaande fiksie” is nie. Wat beteken dit?

 

Antwoord:  In hierdie konteks beteken die term “alleenstaande” die manuskrip moet ’n duidelike begin, middel en einde hê, en die einde/afloop moet die probleemstelling wat aan die begin van die verhaal gemaak is bevredigend en effektief aanspreek en afsluit. Die verhaal moet ook oploop na ’n sterk krisis en klimaks wat beslissend in die boek voltrek word. M.a.w. die boek moet op eie bene kan staan en homself kan handhaaf as ’n selfstandige verhaal met ’n eie begin, middel, krisis, klimaks en einde.

 

Indien die boek deel is van ’n reeks of trilogie, moet elke deel steeds ’n volwaardige boek wees met 'n eie begin, middel, krisis, klimaks en einde. Elke boek moet ook uit konteks gelees kan word en steeds sinvol wees.

 

In sommige reekse, soos die Nancy Drew-reeks, kan lesers die boeke heeltemal uit volgorde lees met geen verlies aan leserservaring nie. In hierdie tipe reeks groei en verander die hoofkarakter nie, maar haak vas by ’n bepaalde ouderdom of lewensfase. In ander reekse (soos Harry Potter) groei en ontwikkel die protagonis wel en word met elke boek ouer, slimmer, meer ervare en meer gedug. Hoewel lesers hierdie tipe reeks uit volgorde kan lees, is dit meer bevredigend om by die volgorde te hou en saam met die karakters te groei.

 

Harry Potter as reeks verskil verder van bv. Nancy Drew deurdat dit ook oor ’n oorkoepelende storie beskik, naamlik Harry se stryd om sy aartsvyand Woldemort te vernietig. Hierdie oorkoepelende doelstelling word eers in die heel laaste boek voltrek. Maar steeds staan elke boek in die reeks op eie bene, met ’n eie begin, middel, krisis, klimaks en einde, en ’n eie problematiek wat telkens ’n dramatiese konfrontasie met Woldemort behels, én wat teen die einde van elke boek aangespreek en opgelos word, hoewel telkens net tydelik. Natuurlik geskied die grootste en mees dramatiese konfrontasie met Woldemort in die laaste boek (boek 7), en daarmee word nie net boek 7 se storielyn voltrek nie, maar ook die oorkoepelende storielyn s'n.

 

Die Harry Potter-reeks slaag onder meer daarin om Woldemort uit te beeld as ’n uiters gedugte vyand wat in elke boek in ’n ander, vreesliker gedaante aan Harry verskyn. Met ander woorde, Woldemort muteer en verander en groei in krag. Hierdie eskalasie en onvoorspelbaarheid van die antagonis, tesame met die skrywer se ongewone en uiters innoverende verbeeldingskrag, voorkom dat die opvolgboeke voorspelbaar en vervelig raak.

 

Reekse met ’n oorkoepelende storielyn, soos Harry Potter asook die Twilight-boeke, moenie met ’n vervolgverhaal verwar word nie, waar elke hoofstuk of episode bloot deel is van een groot geheel. Vervolgverhale volg dikwels die reeks-gebeurtenisse-verhaallyn, met ’n mini-klimaks in elke hoofstuk/episode en ’n cliffhanger teen die einde van elke hoofstuk/episode. Vervolgverhale werk gewoonlik beter op die lug, aangesien die gebrek aan ’n sterk klimaks in boekvorm skerp uitstaan.

 

Beginners skryf soms wat hulle ’n "trilogie" noem, naamlik, een "boek" wat die begin van die verhaal dek, ’n tweede wat die middel dek en ’n derde wat die einde dek. Dit is egter geen trilogie nie, maar inderwaarheid net een allemintige dik boek wat gerieflikheidshalwe deur die skrywer in drie verdeel is. The Lord of the Rings deur J.R.R. Tolkien is 'n voorbeeld van 'n allemintige dik boek, hoewel dit allermins deur 'n beginner geskryf is.

 

In die geval van ’n ware trilogie het elke boek ’n eie begin, middel, krisis, klimaks en einde, asook ’n eie problematiek wat voltrek word. Benewens elke boek se onafhanklike storielyn, beskik die trilogie ook oor ’n oorkoepelende tema of verbondenheid wat die drie boeke saamsnoer. 

 

Neem in ag dat jou manuskrip hierdie reeds genoemde elemente moet bevat: begin, middel, krisis, klimaks en einde. Sorg vir 'n sterk spanningslyn en onthou dat jou verhaal op een van drie maniere kan eindig, naamlik, die antagonis gaan onder en die hoofkarakter en sy/haar bondgenote triomfeer; óf die antagonis triomfeer en die hoofkarakter (en bondgenote) gaan onder; óf die antagonis sowel as die hoofkarakter (en bondgenote) gaan onder.

 

Die meeste uitgewers verwag dat ’n roman ’n bevredigende afloop en einde sal hê en as ’n volwaardige verhaal op eie pote kan staan. Die sogenaamde “oop einde” waar lesers in wese moet raai of voorspel hoe die storie gaan eindig, werk beter in “slice of life”-verhale, wat gewoonlik kort is en slegs ’n greep uit ’n karakter se lewe dek, dikwels sonder ’n duidelike aanvang, middel of einde.

 

Beplan jy ’n trilogie of 'n reeks? Of oorweeg jy ’n opvolgboek (of twee of drie) rondom dieselfde tema? Dink mooi voordat jy met so 'n ambiseuse projek wegval. Neem in ag dat uitgewers nie maklik 'n reeks deur 'n onbekende skrywer aanvaar nie, gewoon omdat die skrywer ongetoets en gevolglik 'n groter risiko is. 

 

As jy steeds wil voortgaan, besluit of jy dieselfde karakters in die opvolgboeke wil gebruik, elke keer met ’n totaal ander storie en ’n totaal ander problematiek, soos in die geval van die meeste speurreekse waar dieselfde karakters telkens by ’n ander saak betrokke is. Indien wel, sorg dat jou karakters prikkelend en anders is, sterk tot jou lesers spreek en geskik is vir verdere avonture saam, én dat jy as skrywer oor die idees, energie en die nodige drang beskik om die pad enduit saam met hulle te stap.

 

Wil jy dalk eerder die tema of sentrale krisis van jou eerste boek verder voer en verdere verhale daar rondom skryf? Hiermee voorsien ek probleme. Dis nie enigeen wat JK Rowling dit kan nadoen nie. Wat gaan jý byvoorbeeld doen om jou materiaal telkens nuut, vars en opwindend te laat voel? Hoe gaan jý dit telkens opwindend en anders maak, so opwindend en vars dat die problematiek jou lesers in elke boek onkant sal vang én sal skok en verras?

 

Jy sal baie seker moet wees van jou saak, jou verbeeldingskrag en jou skrywersvernuf vir hierdie uitdaging. Want, soos in die geval van opvolgflims, voel opvolgboeke rondom dieselfde tema alte dikwels flou en “reeds gedoen”. Dis meesal beter om net met iets nuuts te begin of om met jou groot idee te wag tot jy meer ervare is. 

Comments: 0