In watter taal moet ek skryf?

Willem van Rensburg skryf: “Dankie vir die positiewe kommentaar op my littelosmaker. Ek is baie bly ek volg die kursus. ’n Mens dink jy weet min of meer wat om te doen, maar jy besef nie watter verskil die klein goedjies maak en hoe jy dieselfde ding baie opwindender kan maak deur dit net anders te stel nie.

       “Ek is al jare lank besig om ’n tienerroman te skryf soortgelyk aan Hunger Games, Divergent, ens. Ek het dit nooit eens oorweeg om dit in Afrikaans te skryf nie, glo nie daar is ’n mark nie. Hoewel ek tuis is in Engels, is dit soms moeilik om die dialoog en ander elemente reg te kry as Engels nie jou eerste taal is nie. Dink jy ek moet dit in Afrikaans skryf en hoop iemand vertaal dit, of moet ek dit in Afrikaans skryf en later self probeer vertaal? Of moet ek maar volhou met die Engels?” Willem volg die Skryfgeheime-skryfskool se Algemene Kreatiewe Skryfkursus.


Janie Oosthuysen antwoord: "In teenstelling met die enorme Britse en Amerikaanse markte is die Afrikaanse kinder- en jeugboekmark klein en gevolglik redelik konserwatief, in die sin dat uitgewers mooi dink oor wat hulle kan bekostig om uit te gee. Sekere genres (soos liefdes- en spanningsverhale) spreek tot groot getalle lesers en ander (soos fantasieë) weer nie, wat publikasie van daardie genres meer riskant maak. Hoewel die Afrikaanse boekemark verbasend lewendig is (en Afrikaanse skrywers op eie bodem na my mening meer publikasiekanse het as ons Engelse skrywers), is dit steeds nie maklik om gepubliseer te word nie. Om oorsee uitgegee te word, waar jy niemand ken nie en die publikasiekultuur nie verstaan nie, is net nog soveel moeiliker. My beste raad is om die skryfkuns as 'n ambag te beskou wat jy so goed moontlik onder die knie moet kry en om verkieslik in jou moedertaal te leer skryf. As jou boek plaaslik presteer, kan jy weer oor 'n Engelse vertaling van jou werk begin dink, dis nou mits jou uitgewer die vertaling nie namens jou van stapel stuur nie."

Comments: 0