Liezl gesels met Janie Oosthuysen

Onderhoud gevoer deur Liezl Russell 

 

1.       Janie, waar is jy gebore? Waar het jy gematrikuleer? Wat het jy gaan studeer? 

 Dit alles het so lank terug gebeur, ek weet nie of dit nog enigsins relevant is nie! Wat wel steeds relevant is, is dat jy so vroeg moontlik aan jou skryfdroom moet begin werk. Dis egter nie vir almal ewe maklik nie, want blootstelling aan boeke, ouers wat vir jou voorlees en die geleentheid om skryfkursusse te volg is nie almal beskore nie.

My ma het haar vier kinders al vroeg tuis leer lees. Ek was ’n boekwurm wat snags met ’n flits en ’n boek onder die komberse ingekruip het. Badtyd het ek ’n boek op die bad se rand gebalanseer en in die middel van die nag het suutjies in die badkamer gaan lees. My ma het baie vir ons voorgelees, ek onthou hoe sy Winnie the Pooh sommer so vryhand vir my en my boetie vertaal het. Sy het dit self so geniet en plek-plek so hard gelag dat gedeeltes onhoorbaar was. Dit was die grondslag. Die Pooh-boeke is later in Afrikaans vertaal en toe het ons Mienie-die-Poeh en Ottie se bedrywighede van voor af geniet.

Ek kon as kind sommer self na Swellendam se dorpsbiblioteek stap en op Stellenbosch het my pa die dakkamer ingerig as ’n tuiskantoor en -biblioteek – en dáár was baie boeke. 

 

        Wanneer het jy begin om te skryf? 

      Op skool het ek het graag opstelle geskryf, veral die tipe wat ek as humoristies beskou het, maar wat eintlik net vreeslik oordrewe was. My heel eerste poging, wat ek ewe moedig aan ’n uitgewer voorgelê het, het oor ’n rot gehandel, Rip die rot, ek het iets met kort woordjies aangepak. Die terugvoer het vir my in my onkunde onuitvoerbaar gevoel en ek het belangstelling verloor.

Bygesê, my lewe het toe ook ’n paar wendings ondergaan en skryf was nie meer ’n prioriteit nie. ’n Klompie jare later het ek my volgende poging 11 keer aan Human & Rousseau gestuur. (Ek het hulle gekies omdat Leon Rousseau, van Fritz Deelman-faam, as kind my held was.)

Na elke voorlegging het ek probeer om die uitgewer se terugvoer op die storie toe te pas. Maar toe sy aanbeveel dat ek die verhaal verkort van 11 000 na 3 000 woorde het ek besluit genoeg is genoeg en iets anders aangepak. Daardie 11 keer se instuur was egter ’n uitstekende leerskool, want my volgende manuskrip is dadelik vir publikasie aanvaar. Daarna het talle boeke gevolg, ook vir ander hoofstroom- en opvoedkundige uitgewers.

 

      Hoe het jy gevoel toe jy die eerste keer gepubliseer is? 

Baie verras dat ek dit reggekry het. En buitensporig vol selfvertroue dat ek die boekewêreld gaan stormloop en oorrompel.

 

        Hoekom het jy besluit om kinderboeke te skryf?  

Dis maar net die genre vir my. Ek geniet die vryheid, die amperse ongebondenheid. Jy kan jou verbeelding heerlik vrye teuels gee en vreemde wêrelde en karakters skep. Voorbeelde is die rondreisende aktrise tant Potjierol wat aan die Hemelbesem-gesin bemaak word en eenvoudig by hulle intrek, tesame met haar geheimsinnige reisvaatjie – waarin iets groots weggesteek is. En Rosie, wat in ’n karavaan woon en deur die kulkunstenaar oom Flopper deurgesaag gaan word, maar dan ontmoet sy vir Stradivarius Vlooi en sy trawante.

     Ek gebruik die term “amperse ongebondenheid” omdat die karakters en die storielyn, hoe aweregs of bisar ook al, steeds moet oortuig en logies inmekaar moet steek, dit moet ’n samehangende geheel vorm.

     Kinderboeke het ’n lang rakleeftyd en as jou boeke geslaag is, kyk jy na talle herdrukke en ook heruitgawes met heeltemal nuwe illustrasies – herdrukke en heruitgawes is ’n groot lekkerte en ook goed vir die sak. 

 

5.    Hoekom het jy besluit om skryfkursusse aan te bied?  

Ek hou maar daarvan om my eie ding te doen en is nie ’n spanwerker of leier nie. Lank voor e-pos alles so maklik gemaak het, het ek al met die idee van ’n korrespondensieskool gespeel, maar die realiteit van pakkies en koeverte, kortom die hele slakposding, het my afgeskrik.

     Daar is ’n vraag na mentorskap en ingeligte terugvoer op skryfwerk, maar jy moet dit reg doen, jy moet eerstens oor baie kennis beskik en tweedens begrip en empatie hê vir die aspirantskrywer se situasie en gevoelens.

      Dis e-posse soos dit wat ’n glimlag op my gesig plaas en my motiveer: “Hallo Janie, sjoe, hierdie kursus en die terugvoer op elke taak gee my so baie food for thought. Aangeheg my analise van Rosie's Walk – my dogtertjie (3 en 'n half) het dit omtrent geniet en dit het vir ’n groot gegiggel gesorg.”

 

Het jy enige stokperdjies? 

My lewe is ’n stokperdjie, ek woon op my eie planeet.

  

          Wie is jou gunstelingskrywer en hoekom? 

Ek het nie so iets nie. Ek lees ook tans nie genoeg na my sin nie, maar die dae is kort en besig. Ek pik  hier en peusel daar in die genres rond en lees selde meer as een boek van ’n spesifieke skrywer. Philip Pullman het gesê: Read like a butterfly, write like a bee. Dis goeie raad.

 

        Het jy 'n gunstelingkinderboek/boek? 

Daar is tans geen boek wat ek weer en weer besoek nie, hoewel ek enige goed geskrewe boek wat my aangegryp het, vir watter rede ook al, minstens twee keer sal lees, sal hou en dalk later weer sal lees. Ek beweeg maar heeltyd aan.

 

          Watter advies het jy vir mense wat graag wil boeke/kinderboeke skryf? 

Read like a butterfly, write like a bee. Dit moet jou vertrekpunt wees. En dan moet jy hulp kry, want sonder mentorskap gaan jy nie die uitgewerspaal haal nie, soos alle industrieë is die skryfbedryf kompeterend, dis nie net vir gaan sit en skryf nie, daar is baie om te weet en in te oefen. 

 

       Vertel ons meer van die Ouma Hester-reeks wat onlangs 'n nuwe baadjie gekry het? 

Die lekkerte van heruitgawes is dat ’n nuwe produk geskep word sonder dat jy alles van vooraf hoef uit te dink. Bygesê, ek het hard herskryf aan hierdie boeke, en dit so geniet dat ek dit sterk oorweeg om ’n vyfde boek by te skryf.

     Wat die herskrywery aanbetref, moet ek byvoeg dat die oorspronklike reeks 25 jaar oud is, en gevolglik sonder enige teken van selfone, ensomeer. Daardie tipe ding moes alles ingeskryf word om die reeks te moderniseer. My skryfstyl en skryftegniek het ook heeltemal verander, ek skryf net nie meer soos destyds nie, ek het die boeke dus nie net hersien nie, maar herbedink en oorgeskryf.

     Ek is geweldig in my skik met die komiekboekformaat waarin dit aangebied word. Ek voel die reeks bied baie lekker humoristiese, aksiebelaaide, maar ook uitdagende leesstof aan 9-12-jariges. Dis komplekse stories, maar maklik leesbaar met ongelooflike illustrasies.

 

       Hoe kry jy idees vir stories/kinderstories? 

Ek gaan sit eenvoudig en skep ’n groepie interessante karakters en dan vloei die storie daaruit. Of ek begin met ’n idee (soos ’n leuenverklikker) en dan skep ek karakters wat die idee sal kan uitvoer. En heeltyd soos ek skryf, bou ek goedjies in wat die samehang versterk en die spanningslyn uitbou sodat die stories struktureel sterk is en lesers enduit prikkel en meesleur.

 

       Het jy 'n lewensmotto? 

Leave well alone as jy kan.

 

          Wat maak jou opgewonde oor die lewe? 

 

Beslis nie Covid-19 nie. Ek kan nie glo wat die Covid-respons aan die wêreld gedoen het nie. Ouma Hester en haar innovasies is sooo nodig om die ekwilibrium te herstel! Gelukkig het die boekhandelaars destyds kopgehou en gesê dat alle boeke “opvoedkundig” is, die boekebedryf oorleef dus en nuwe boeke word steeds uitgegee, en dis ’n vreugde.

     ’n Heerlike sonskyndag maak my opgewonde, om my kinders en kleinkinders te sien en iets saam met hulle te doen is louter plesier.