Wanneer is konsekwente gedrag bloot simplisties?

Menslike motivering en optrede is kompleks en by tye moeilik verstaanbaar, veral wanneer dit oppervlakkig beskou word. Soms doen ’n kennis, vriend of hooggeplaaste iets wat net nie sinvol of konsekwent voorkom nie. Soos byvoorbeeld die optrede van dr. Catherine Calderwood wat haar bedanking as Skotland se hoof- mediese beampte moes indien nadat sy haar gesin se belange voorop gestel het deur hulle vakansiehuis twee maal gedurende die grendeltyd te besoek. Maar is hierdie indruising teen dit wat sy in die openbaar voorgestaan het noodwendig inkonsekwente optrede?
     Morele regverdiging geskied binne talle kontekste. Selfs net die gedagte aan of die moontlikheid van enige vorm van etiese optrede (soos om vrywilligerswerk te doen of groot persoonlike opofferings vir jou land te maak) kan as regverdiging dien vir optrede wat die persoon andersins as oneties of immoreel sou beskou. “Ons kan altyd aan redes dink waarom 'ek' ’n uitsondering moet wees,” sê die sielkundige, Daniel Effron. “En ons is baie goed daarmee om onsself te oortuig dat daardie redes geldig is.” 
      Maar is morele regverdiging net tot mense beperk? Of kan, en móét, dit ook werksaam wees in storieboekkarakters se gedrag? Tree ’n oortuigende storieboekkarakter, oppervlakkig beskou, deurgaans konsekwent op, of sal hulle hul ook aan regverdiging van hulle eie optrede skuldig maak en sodoende meer "menslik" word?

Write a comment

Comments: 0