My manuskrip. Afrikaans of Suid-Afrikaans?

Is jou boek Afrikaans of Suid-Afrikaans?

VRAAG: Ek besef dat Engelse karakters se dialoog in Afrikaans geskryf word. Dit irriteer my egter grensloos. Soms in so ’n mate dat ek die boek sal neersit en nie verder lees nie. Ek voel as iemand Engels praat, moet daardie persoon se dialoog in Engels geskryf word. My vraag is: Is dit 'n reël/konvensie wat gebuig kan word?

 

ANTWOORD: Teoreties kan jy skryf soos jy wil, sonder inagneming van skryftegniek en -konvensies, taalreëls en taalgebruik, spelling, punktuasie, ensomeer. Die vraag is egter of jou manuskrip uitgegee en gelees sal word? En onder watter vaandel dit sal verskyn?

 

Die meeste voornemende skrywers besef gou dat hulle die skryfambag in al sy fasette onder die knie moet kry. Ook dat hulle moet besluit of hulle ’n Afrikaanse boek wil skryf of ’n hibried soos Deon Meyer se Kobra, myns insiens ’n Suid-Afrikaanse boek eerder as ’n Afrikaanse boek. In Engelse boeke tref jy immers nie Afrikaanse karakters aan wat Afrikaans praat nie.

 

Of gaan jou Spaanse karakters Spaans praat? En jou Italiaanse karakters Italiaans? Lesers verstaan die konvensie, hoekom jou eie taal aftakel? Dink aan jou lesers, party verstaan geen Engels, Spaans, Frans of Katalaans nie. En die meeste wil graag ’n AFRIKAANSE boek lees.

Write a comment

Comments: 0