Vryskutpraktyk

'n Vryskut vertel hoe om tydskrifartikels te skryf wat gepubliseer word.

Diegene wat wonder hoe ek dit regkry dat verskeie van my artikels al gepubliseer is, het waarskynlik nog nie onder Liezl Heidtman-Russell se baie bekwame leiding ’n Skryfgeheime-kursus in tydskrif-joernalistiek voltooi nie. Want dís waar mý storie begin het. Dáár en met my passie, want heeltyd het ek in my geestesoog gesien hoe my skryfwerk gepubliseer word.

 

Op Liezl se aanbeveling het ek my kursusartikel aan Vrouekeur gestuur en kort-kort na my inboks geloer. Ná twee weke was daar steeds geen reaksie nie en ek het dit opgevolg – soos Liezl aanbeveel. Net om ’n paar dae later die goeie nuus te kry: “Dankie, ons sal jou storie gebruik. Ek sal laat weet in watter uitgawe.”

 

Die koeël was deur die kerk. Ek het besef dat dit moontlik is. En dat ek weer wil probeer. Veral toe ek die Vrouekeur met my artikel in my hande hou.

 

Die tweede keer was die uitdaging groter. Want ek moes dit nou op my eie doen, sonder die insette, raad en leiding van my kursusleier. En wat ’n wonderlike gevoel toe my tweede artikel ook aanvaar en gepubliseer word. Daarna was ek sonder keer.

 

My storie sal egter onvolledig wees indien ek die “Nee dankies” verswyg. Want dit gebeur. Terwyl ek hier skryf, kry ek hierdie e-pos na aanleiding van ’n manuskrip wat ek vier dae tevore aan ’n tydskrif gestuur het.

 

Hallo Melodie,

Dankie vir die manuskrip. As ek so deur die storie lees, dan wonder ek of dit regtig in ons lesers se belangstellingsveld lê. Dit is beslis ’n onderwerp waaroor gepraat moet word, maar ek twyfel of ons so iets sal publiseer. Miskien is daar ’n ander publikasie wat meer op aktuele sake fokus wat graag so ’n storie sou wou plaas. Jy is steeds welkom om vir my storie-voorstelle te stuur!

 

Natuurlik is ek teleurgesteld. Maar ek gaan dit beslis aan ’n ander tydskrif voorlê. En aan nog ’n paar artikel-idees wat ek in my kop het begin werk. Sonder keer!

 

Ek het geen wenresep nie. Ook nie enige geheime nie. Maar ek deel graag dit wat ek sedert die voltooiing van die kursus geleer het met julle:

* Droom groot en moenie moed opgee nie. Daar gaan “nee dankies” wees, dalk selfs ’n hele paar voordat jou eerste manuskrip aanvaar word.

* ’n “Nee” vir een tydskrif is dalk “Ja, graag” vir ’n volgende. Indien nie, slyp nog ’n bietjie aan jou manuskrip, of laat dit ’n rukkie lê sodat jou onderbewussyn daaraan kan werk. Onthou, “Nee” beteken nie noodwendig dat jou artikel nie goed genoeg is nie, dis dalk net nie die regte tyd of plek nie.

* Redakteurs gee selde enige redes vir die wegwys van ’n manuskrip. Hulle is besige mense en sing ook nie lofsange nie. Moenie meer as “Dankie, ons sal jou storie gebruik” verwag nie. Laat dit genoeg wees om jou te laat goed voel. 

* Volg op. As jy niks van die redakteur hoor nie, moenie aanvaar dat jou manuskrip afgekeur is nie. Dalk het sy nog net nie kans gehad om daarna te kyk nie. Om op te volg wys jy is ernstig.

* Bly aan’t skryf. Terwyl jy op ’n antwoord wag, dink solank aan ’n volgende storie-idee en begin skryf.

Sukkel jy met idees? Iewers wag daar ’n storie wat vertel wil word. Op Facebook of in die nuus. Dalk het iets gebeur met iemand wat iemand ken, iets wat lesers sal inspireer. En onthou, tydskrifte beplan drie tot vier maande vooruit. As jy ’n Moedersdag-storie wou skryf, is jy klaar te laat vir Moedersdag 2017.

* Identifiseer watter tipe storie jy graag skryf. Hou jy van inspirerende lewensverhale? Of van aktuele sake? Ken jou voorkeure, dit sal jou help om ’n storie te herken as dit jou pad kruis.

* Vind uit wat die maksimum getal woorde is wat jy mag gebruik. Sodoende voorkom jy dat die redaksie self besluit watter inligting hulle wil weglaat om die artikel te laat inpas.

* Aanvaar dat jou gepubliseerde artikel nie altyd 100% soos die oorspronklike manuskrip gaan lyk nie. Die redaksie verander dikwels die titel. En wanneer jou artikel deur die redigeringsproses gaan, word jou idees soms op ’n ander (dikwels beter) manier geformuleer. Moenie kwaad word nie, léér daaruit.

* Vryskutjoernalistiek is harde werk vir nie so baie geld nie. Beskou dus die gevoel van bevrediging wanneer jou artikel gepubliseer word as deel van die vergoeding. Aan die ander kant is dit iets wat jy in jou vryetyd kan doen sonder veel uitgawes.

* Moenie in ’n gemaksone verval nie. As ’n tydskrif een of twee of selfs ’n derde manuskrip aanvaar, begin jy gemaklik voel en raak hulle jou eerste keuse wanneer jy ’n manuskrip wil voorlê. Dikwels omdat jy bang is vir die “Nee dankie” van ’n ander tydskrif. Moenie ophou om nuwe markte te soek nie.

* Vir vryskutte is daar nie plek vir selfvoldaanheid nie. Jy is jy net so suksesvol soos jou mees onlangse gepubliseerde artikel.

* Wat is my dryfveer om weer en weer te probeer? Daardie gevoel van genoegdoenig wanneer ek hierdie soort e-pos ontvang: “Dankie, ons sal jou storie gebruik”. En die besef dat aanhouer wen en dat my boodskap mense bereik – en ook verryk.

 

Ek hoop om binnekort ook jóú storie, verryk met jóú lewensuitkyk, kennis en insig, in ’n tydskrif te lese te kry. Lekker skryf.

 

Melodie Veldhuizen

Write a comment

Comments: 0