"Skets" jouself uit die skrywersdroogte

Daar is niks ergers as om uiteindelik agter jou rekenaar in te skuif met die bedoeling om nou lékker te skryf net om te vind dat jy aan niks kan dink nie. Hoe nou gemaak? Wat kan jy doen wat die kreatiwiteitsmasjien sal aanskakel en jou uit hierdie skryfdroogte sal lig?
     Dis nou dat jy moet begin "skets". Ja, regtig. Net daar met woorde agter jou lessenaar, of in jou kop of met ’n pen in die hand. Natuurlik kan jy dit ook doen in die bus op pad huis toe. Of wanneer jy iewers toustaan. In ’n koffiewinkel, kroeg, ontvangskamer, kantoor of karavaanpark. Of bo van jou balkon af.
     Begin deur ’n subjek te vind wat as fokuspunt kan dien. Iemand op die televisie of op jou rekenaar.  ’n Foto of ’n persoon op ’n skildery kan ook deug. Wat van die vrou oorkant jou in die koffiewinkel, alleen by ’n tafel en oënskynlik verdiep in haar foon? Wie is sy? Wat maak sy daar? Hoe kan jy haar lewe gee?
     Reël 1 is om verkieslik nie openlik na jou subjek staar nie, dinge kan dalk te veel lewe kry. 

    Gaan eerder so te werk. Fokus op jou subjek se voorkoms. Moenie vassteek by die realiteit nie, gaan kreatief om met dit wat jy sien, gee jou verbeelding vrye teuels. Hoe lyk die persoon? Watter vorm en kleur is die oë? Lyk hulle sag, selfs onderdanig, of skerp en uitgeslape, selfs intimiderend? Die hare? Modern gestileer of ouderwets, dalk totaal argeloos, of selfs effens vuil of windverwaai. Wat let jy op omtrent die kleredrag? Pas die subjek se keuses in by die prentjie wat besig is om in jou kop te ontstaan, of sou jy jou subjek anders aantrek? Hoe? Waarom?
     Reël 2 is dat jou beskrywing van die persoon se voorkoms nie akkuraat hoef te wees nie, selfs al is dit iemand wat jy goed ken. Gaan eerder skeppend om met die materiaal. Geleidelik, soos die subjek se voorkoms en persoonlikheid in jou kop of op papier vorm kry, sal jy begin voel dat jou subjek besig is om in ’n karakter te verander. Gee haar/hom nou ’n naam en ’n van.
     Dink na oor wat jou subjek se houding en voorkoms oor hulle leefstyl en agtergrond sê. Is die subjek welgesteld? Pretensieus? Sukkelend? Lyk die persoon tevrede, alleen, ongemaklik met die situasie, dalk selfs ontsteld? Wat doen die persoon met sy hande of voete? Hoe hanteer sy of hy hulle liggame? Wat gaan in die persoon se kop aan? Wat probeer sy wegsteek? Watse mannerismes is daar? Waar sou die karakter vandaan kom? Wat het daar gebeur? Waarheen is die karakter op pad? Wat wag daar op hom?
     Hoe reageer die persoon as sy/hy dalk jou oë op haar betrap? Staar die subjek na jou? Of kyk sy weg? Wat sê dit van die persoon se ware temperament?
     Reël 3 is om nie vas te steek by die alledaagse nie, maar ’n merkwaardige karakter te skep met ’n lewe wat baie groter, beter of slegter is as jou eie of jou potensiële lesers s’n, want lesers lees eerstens om uit hulle eie werklikheid in ’n ander een in te ontsnap.
     Gebruik nou jou idees en skep vir jou karakter ’n situasie. Daardie vrou wat so ononderbroke op haar foon doenig is. Maak sy net haar foon skoon omdat sy niks beters het om te doen nie en selfbewus voel, so alleen en sonder vriende daar in die koffiewinkel?

 

     Wil sy graag alleen wees of wag sy vir iemand? Vir wie? Waarom? Wat is die verhouding tussen hulle? Hoe voel hulle oor mekaar? Hoe gaan sy reageer wanneer daardie persoon uiteindelik opdaag, indien wel? Of is daar iets dringends in jou karakter se lewe aan die gang en is sy in druk gesprek met iemand anders? Wie? Waarom? Hoe verloop dit en hoe loop dit af?
     Vang nou jou gedagtes vas deur ’n kort woordskets te skep. Daardie vrou met die uitgegroeide hare, haastige grimering en skoene wat nie heeltemal by haar uitrusting pas nie, sit nie net doelloos en speel op haar foon nie. Sy is besig om aanlyn te dobbel. Haar kinders is op skool en eis baie, haar man se loopbaan is nie besonder suksesvol nie, en ’n paar weke terug het sy haar jare lange werk by dieselfde maatskappy verloor en nog vir niemand vertel nie. Desperaat, bang vir haar man en kinders se reaksie, en sonder die nodige selfvertroue, sosiale vaardighede of konneksies om haarself suksesvol te herbemark fokus sy nou op die aanlyn dobbelsaal, wat tot dusver ’n soort stokperdjie was, maar nou in ’n obsessie ontaard. Diep binne weet sy dis selfvernietigend en dat sy haar man en kinders saam oor die afgrond sleep, maar die energie om van rigting te verander ontbreek. Totdat ...
     En jammer vir haar, maar nou gaan haar situasie uiteraard aansienlik vererger, want dis hoe stories werk. Reël 4 is dan ook dat jy as skrywer nie vir jou karakters mag jammer wees nie, maar hulle terdeë moet toets.
     As hierdie aktiwiteit jou nie soos ’n sukses laat voel nie, dan weet ek nie, want jy het immers iets uit niks geskep en dis geen geringe taak nie. Doen dit so dikwels as wat jy kan en borduur ook verder aan bestaande idees. Hoe meer gereeld jy dit doen, hoe makliker sal dit raak. As bonus sal jy vind dat karakters, stories en insidente amper vanself in jou kop begin spring wanneer jy dit nodig het.
 

Write a comment

Comments: 0