Plaas jou karakters op die verhoog van die lesers se verbeelding

Dikwels, nie altyd nie, voel fliekgangers dat die boek beter was. Waarom? Hoe kan ’n boek kompeteer met die visuele effekte, die klankbaan en die ervaring daar in die flieksaal met die geur van springmielies en stoelsweet in jou neusgange?

       Die rede is dat sommige boeke daarin slaag om die leser op ’n sintuiglike manier te betrek wat Hollywood nie kan naboots nie. Hierdie skrywers slaag daarin om die verhaal op ’n verbeeldingryke manier op die verhoog van die leser se verbeelding te laat afspeel met oorrompelende prosa wat effektiewelik aan poësie grens. Nie elke skrywer is daartoe in staat nie. Maar elkeen kan leer hoe om oorspronklike beeldspraak te skep en meer visueel te skryf.

      Daar is ook heelparty lesse uit films te leer.

      Uit die aard van die saak is films visueel van aard. Boeke is nie. Draaiboeke ook nie. Maar hulle móét wees. Hoe meer visuele tegnieke in jou boek, hoe makliker is dit vir lesers om die gebeure in hulle gedagtes te sien.

 

Hier is vyf tegnieke vir meer visuele skryfwerk:

1. Kies ’n tema. Visueel gesproke kan ’n tema ’n kleur, plek, tipe skoot (of vertelshoek) of selfs ’n karakter wees. ’n Voorbeeld is Moonlight waar die filmmaker “blou” as tema gekies het – ’n kleur wat melankolie suggereer – en dit herhaaldelik in die film gebruik. Skryf jóú boek met byvoorbeeld “blou” in gedagte, bou dit liggies in by jou verhaal, die gevoel sowel as die kleur, en kyk hoe dit die gegewe beïnvloed en verryk.

Lees hierdie voorbeeld uit In ’n land sonder voëls deur Harry Kalmer: Bokant die boomtoppe is die lug grou. Ek lig my kop stadig. Van Angela Davis is daar geen teken nie. Die stamme om my is reguit en in rye geplant. Dennenaalde lê grys op die grond.

 

2. Skryf met emosie. Plaas emosie op jou karakters se gesigte en beeld dit uit met hulle liggame. Hoe? Met lyftaal, handeling en suggestie sodat lesers kan “sien” wat op die storieverhoog gebeur en die karakter se emosie aan hulle lywe en in hulle koppe kan voel en ervaar.

 

Voorbeeld: My lyf ruk. Vertraagde skok. Ek onthou die twee ekstra komberse in die ingeboude kas. Gaan haal hulle. Terug in die bed probeer ek verder oor die ouderdom lees, maar die vergrootglas bewe te veel. Die boek is skielik swaar. (Uit: In ’n land sonder voëls.)

 

3. Gebruik kleure en spesifieke besonderhede, al het jy nie “kleur” as tema gekies nie. ’n Appelrooi, of lipstiekrooi, of Marilyn Monroe-rooi 1956-Mustang sê net soveel meer oor die karakter en die era as “’n rooi 1956-Mustang” of net “’n Mustang”. Die eerste voorbeeld laat spesifieke en helder prente in die lesers se gedagtes ontstaan.

 

4. Skryf op ’n breë doek. Films moet ’n groot agtergrond hê. As dit in die ruimte afspeel, moet kykers die sterrestelsel kan sien. As dit ’n western is, moet hulle die woestyn of die prêrie kan sien. Wanneer die karakters se verhaal teen ’n breë doek afspeel, voel die gebeure net soveel meer dramaties en outentiek.

 

5. Skryf in prente. Die meester is natuurlik Alfred Hitchcock. Klik vir ’n uittreksel uit Psycho waar Janet Leigh se karakter besluit om die geld te steel wat haar werkgewer aan haar toevertrou het. In jou boek sal jy nie net die karakter se handeling en gebare weergee nie, maar ook van die emosies wat op haar gesig flikker tesame met haar wisselende gedagtes. 

 

Ander filmiese tegnieke is tyd- en plekspronge (jump cuts), terugflitse, vooruitflitse en voorafskaduwing.

 

 

En soos altyd het minder meer trefkrag.