Hoe skryf 'n mens 'n memoir?

Nou en dan doen iemand navraag oor die skryf van ’n outobiografie of, minder gereeld, ’n memoir. Dat daar verwarring bestaan, is duidelik, weet dat dit twee ingrypend verskillende genres is. Die outobiografie dek 'n lewensloop van begin tot einde, hoe eerliker hoe beter, met besondere klem op loopbaan en prestasies. Die memoir is ook outobiografies van aard, maar dit dek nie 'n volledige lewensverhaal nie. Dit wentel om 'n tema uit 'n lewe en bevat insidente en anekdotes wat daardie tema belig, soos byvoorbeeld hoe die persoon van slagofferstatus na berusting, geluk en heling gevorder het.
     'n Memoir begin gewoonlik met herinnerings aan 'n laagtepunt in 'n lewe. Sleutelgebeure uit daardie lewe word deur middel van gepaste insidente belig. Daarna val die fokus op daardie mense en insidente wat deel was van die persoon se transformasie. Die skrywer lig uit wat sy geleer het en hoe sy bepaalde beginsels toegepas het ten einde ’n ommeswaai in haar lewe teweeg te bring.
     Hoe beter die anekdotes en insidente, hoe beter die memoir. En hoe beter die skryfwerk, hoe groter die kans op sukses. Want dis nie net die memoirs van glansmense wat gepubliseer word nie. Natuurlik help dit as jy ’n bekende is oor wie lesers graag meer wil weet, maar ook gewone mense kan sukses behaal deur lesers met sekere waarhede en temas te konfronteer.
     Kies daardie waarhede en temas fyn. Om te kan slaag moet die tema ten diepste tot die leser spreek. Alle mense het sekere basiese behoeftes wat voedsel, skuiling, liefde en selfverwesenliking insluit. Almal vrees verlating, eensaamheid, pyn en verlies. Sorg dat jou memoir van hierdie universele behoeftes aanspreek. Jy as skrywer kan tot enige ras, geslag, kultuurgroep of denominasie behoort, maar as jou memoir oor iets universeels en persoonliks soos ’n verlore kind of 'n vernietigde lewe handel, kan dit tot almal spreek. En selfs al is die onderwerp en tema wat jy kies al oor en oor benut, sal jou keuse van materiaal, aanslag en hantering dit uniek maak.
     In die beste memoirs sien lesers hulleself in die verhaal, hulle identifiseer met die karakter en die gebeurtenisse en maak die gegewe op hulle eie lewe van toepassing. In die beste memoirs gaan dit  in werklikheid nie in die eerste plek oor die skrywer se belewenis en hantering van 'n traumatiese situasie nie, maar eerder oor die leser se respons daarop, want wat met jóú (die skrywer) gebeur het, kan ook vir mý (die leser) tref.
     Kies anekdotes en insidente wat die tema ondersteun en uitbou. Delf diep, ten spyte van die pyn, moenie die onderwerp en tema bolangs hanteer nie. En moenie net “vertel” nie, skryf dit soos ’n boek met gepaste dialoog, handeling, spanning, tempo, konflik, kortom, met inagneming van alle aspekte van geslaagde storievertelling.
     Laastens, vertrou jou verhaal. Vertrou dat dit die nodige boodskap by die leser sal tuisbring. Moenie die leser aanspreek, persoonlik by die gebeure probeer betrek, of met 'n lessie oor die kop slaan nie. Laat die ervarings as sodanig, en die gevolge en impak daarvan op jou lewe, die nodige werk in jou leser se kop doen. Skep ’n prikkelende, samehangende, aangrypende, verrykende leeservaring, 'n boek wat jou leser nie sal wil neersit nie, een wat jou leser op ’n reis na binne sal neem.