Wanneer hou jy op met tob?

’n Nuwe student skryf: Ek brand vas. Dis asof ek net nie op iets kan fokus en dit dan klaarmaak nie. Ek weet nie waar om te vat en waar om te los nie. Enige raad?

Antwoord: Aspirantskrywers moet met sekere werklikhede vrede maak, soos dat ’n storie nie sommer in sy totaliteit in jou kop spring en vandaar gladweg op papier glip nie. Inteendeel, die skryfproses is ’n morsige affêre, daar word oor en oor met karakters, idees en insidente gespeel. Sommige word deur die skrywer verwerp, ander word ontwikkel, soms in die kop en soms op papier. En hoe meer jy kopkrap, hoe meer moontlikhede skep jy, en hoe meer moontlikhede jy geskep het, hoe moeiliker raak dit om op iets te besluit en dan daarop te fokus. Boonop besef jy alte dikwels meteens (en tot jou ontsteltenis) dat iets wat jy lank terug verwerp en al van vergeet het dalk tog kan werk, wat beteken jy moet van voor af deur jou verhaal werk, tientalle veranderings aanbring en (eina tog) duisende woorde weggooi. Dít is alles deel van die realiteit van skryf, dis hoe die proses werk, en skryf ís ’n proses, ’n moeilike proses.

Skryf word dikwels onderskat juis omdat dit kreatief is. Daar bestaan nie ’n “periodieke tabel” vir skryf nie, daar is geen absolute sjablone of template nie. Ja, daar is riglyne, konvensies en hulpmiddels, maar niks is in yster gegiet nie. En dis presies wat skryf so uitdagend maak.

My raad is: Ontspan oor die hele ding. Wissel die gespeel met idees af met periodes waartydens jy laat waai en met genot skryf, hoe ook al, skryf net, sonder om kort-kort in te spring en te redigeer of te herskryf. Na regte moet jy nóóit die hooffases van skryf (naamlik kreatief skryf, hersiening en redigering) kort ná mekaar doen nie. Die rede is dat hersiening en redigering geneig is om jou kreatiwiteit te demp. Hou dit vir later. Vir wanneer jy uitgeskryf is.

Onthou ook dat stories organies is. Hulle lewe. Hulle ontwikkel en groei. En dit vat tyd. Wees dus geduldig met jou idees, jou ontkiemende, worstelende verhaal, jou kursus én jouself. Dinge sál later begin vorm kry. Vertrou die proses.

En as jy een van daardie siele is wat oor ’n perfekte manuskrip fantaseer en wonder hoe jy daardie droom gaan verwesenlik ... gaan sit agteroor met ’n glas wyn. Natuurlik kan jou verhaal altyd daardie tikkie skerper, snaakser of spannender wees met sterker karakterontwikkeling en ’n addisionele wending of twee. En natuurlik gaan jy meer as jou uiterste bes doen. Maar iewers moet jy as skrywer (én jou redakteur) ’n streep trek en besluite neem, want nie elkeen kan, soos Tolkien, twaalf jaar lank aan ’n manuskrip werk nie.