Hoe skep jy 'n karakter met karakter?

Dit gebeur maar min dat 'n storiekarakter ten volle gevorm en geklee in ’n skrywer se kop spring en in geen stadium van die skryfproses enigsins verander nie. Die meeste en waarskynlik gesondste karakters groei en verander gedurende feitlik elke fase van manuskripontwikkeling en voel juis daarom eg, outentiek, en nie soos iets in 'n boek nie, maar eerder soos 'n regte mens wat aan die regte lewe deelneem.

 

Sommige skrywers is so bekwaam dat hulle karakters inderdaad uit die staanspoor onmiddellik ten volle gevorm en ingeklee is, maar selfs daardie karakters sal in die loop van die verhaal groei en verander, gewoonlik weens dit wat met hulle gebeur en die keuses wat hulle moet maak, keuses wat, soos elke bedrewe skrywer weet, moeilik moet wees en met groot opofferings gepaard moet gaan, want ’n flou karakter met flou probleme lei tot ’n flou storie, terwyl ’n sterk karakter met groot probleme tot ’n sterk storie kan lei.

 

Dis egter nie maklik om alles uit die staanspoor reg te doen nie. Selfs geoefende skrywers besef dikwels halfpad deur die verhaal, of selfs heel aan die einde, dat die karakter nie opgewasse vir die taak is nie, en óf moet ondergaan, óf dat ’n persoonlikheidsverskuiwing nodig is: dalk meer deursettingsvermoë, of ’n groter begeerte om te slaag, of ’n sterker droom en meer ambisie. Dit kan ook wees dat iets traumaties ’n tyd terug met die karakter moes gebeur het om sy/haar huidige keuses, optrede en besluite te regverdig. Of die skrywer kan vind dat die karakter nie oor die nodige vaardighede beskik om die probleem aan te spreek nie, en in die een of ander stadium sekere vaardighede moet inoefen en demonstreer wat sy/haar huidige optrede sal motiveer.

 

Die beste skrywers sien hierdie tipe insig as ’n geleentheid om die karakter, intrige en tema te verdiep en meer betekenis aan dit alles te gee. Hulle tel dus die pen op en begin weer. Maar hierdie soort uitdaging kan ontmoedigend wees, want veranderings het die manier om deur ’n verhaal te rimpel en baie dinge te affekteer. ’n Skrywer wat vind dat groot dele van die verhaal, dalk selfs die hele manuskrip, hersien of oorgeskryf moet word om daardie veranderings met reperkussies en al in te sluit kan lus voel om tou op te gooi en die manuskrip nie te herskryf nie, maar af te skryf.

 

Die beste skrywers draai egter nie in die pylvak uit nie, want dis nou dat "karakter" sowel as kreatiwiteit ter sprake kom. Dis nou dat skrywers, net soos die beste karakters in die beste verhale, oor die nodige vindingrykheid, deursettingsvermoë, vasbyt en geslypte talente en vaardighede moet beskik, en deur die nodige ambisie, drome en begeertes voortgedryf moet word sodat hulle nie sommer sal moed opgee en die manuskrip in ’n onderste laai bêre wanneer daar hindernisse op hulle pad kom nie. Nes die beste karakters moet skrywers wat suksesvol wil wees die nodige karakter hê, of dit ontwikkel, ten einde  probleemareas met entoesiasme en verbeeldingskrag te takel en aan te spreek. 

 

Suksesvolle skrywers is nie noodwendig die mense met die meeste natuurlike skryftalent nie, hulle is dikwels dáárdie mense wat oor ’n kombinasie eienskappe en talente beskik wat tot sukses kan lei. Soos die beste storiehelde is hulle bereid om die skrywershindernisse een vir een te takel en die storiemonster met mening aan die keel te gryp. Suksesvolle skrywers sit nie agter 'n lessenaar en muf nie, hulle bekla ook nie hulle lot nie, en nog minder laat hulle toe dat kritiek hulle ontspoor. Nee, hulle skryf die pad na skryfsukses verbete oop, sonder om tou op te gooi en deur “probleme” eerder as uitdagings te sien en as geleenthede om hulle storie te verbeter.