Skryfgeheime-skryfskool

Vertaalpret met The Lord of the Rings

Almal welkom

www.skryfgeheime.co.za
Die heer van die ringe

Ken jy daardie groot werk The Lord of the Rings ? Weet jy enigiets van die skrywer behalwe dat hy sy eerste drie lewensjare in Bloemfontein deurgebring het? Weet jy dat hy die vader van die fantasie-genre genoem word, en dat hy gedurende die Eerste Wereldoorlog loopgraafkoors opgedoen en twee jaar lank gesukkel het om dit af te skud? 

 

Maar veral, is jy daarvan bewus dat hierdie unieke werk binnekort in Afrikaans gaan verskyn? 

 

Bou solank Tolkien-koors op, en spring in en vertaal uittreksels uit J.R.R. Tolkien se groot werk The Lord of the Rings, wat tans deur Janie Oosthuysen vir Protea Boekhuis in Afrikaans vertaal word. 

 

Hierdie klassieke fantasie is nie 'n trilogie nie, maar wel een tamaai dik boek van sowat 425 000 woorde wat destyds vir praktiese redes deur die oorspronklike uitgewers, George Allen & Unwin, in drie dele uitgegee is. Protea gaan hierdie  voorbeeld volg en deel 1 in 2018, deel 2 in 2109, en deel 3 in 2020 publiseer.         

 

Stuur jou vertalings na die Skryfgeheime-skryfskool by hierdie skakel. Daar wag 'n prys heel aan die einde by die Skeure van Verdoemenis. Nuwe plasings, asook voorbeeldvertalings deur Janie, sal gereeld op hierdie blad verskyn. Loer ook na hierdie webwerwe, dan sal die vertalery sommer baie interessanter (en 'n hele ent makliker) wees:

 

http://tolkiengateway.net/wiki/

http://www.glyphweb.com/arda/ 


Sluit aan by ons Facebook-groep en bly maklik by met nuwe plasings:

TAAK 10:  NUUUUUUT !!!!   Vertaalpret: Maart/April 2018:  bladsy 337

Download
337.jpg
JPG Image 404.0 KB

TAAK 8:  Vertaalpret, Maart 2018:  bladsy 289


Download
289.jpg
JPG Image 347.6 KB

Vertaling, bladsy 289:

Die hobbits sukkel amper dubbeld gevou agter die groter volk aan, hulle sal duidelik nie veel verder kan gaan indien dit aanhou sneeu nie. Frodo se voete voel soos lood. Pippin raak agter. Selfs Gimli, so verbete soos die beste dwerg, strompel brom-brom aan.

          Die Geselskap halt skielik, asof hulle tot dieselfde slotsom gekom het sonder dat ’n woord gesê is. Hulle hoor grieselige geluide in die donkerte om hulle. Dit kan bloot ’n skelmstreek wees van die wind in die barste en groewe van die rotsmuur; tog klink die geluide soos skril krete en wilde lagbuie. Klippe begin teen die kant van die berg aftuimel en suis oor hulle koppe of tref die paadjie met ’n slag digby hulle. Kort-kort hoor hulle ’n dowwe gerammel wanneer ’n tamaaie rotsblok van versteekte hoogtes daar bo na onder rol.

          “Ons kan nie vannag verder gaan nie,” sê Boromir. “Noem dit die wind as jy wil, maar daar is wilde stemme in die lug en hierdie klippe kan op ons gemik wees.”

          “Ek reken dis die wind,” sê Aragorn. “Maar dit beteken nie dat dit wat jy daar sê nie waar is nie. Daar is talle boosaardige en onvriendelike goed in die wêreld wat min voel vir diegene wat op twee bene stap, en tog is hulle nie in ’n verbond met Sauron nie, maar het hulle eie agendas. Sommige is selfs al langer in hierdie wêreld as hy.”

          “Lank terug,” sê Gimli, “toe gerugte oor Sauron nog nie in hierdie lande gehoor is nie, is Karadhras al die Wrede genoem en het ’n slegte naam gehad.”

          “Dit maak nie saak wie die vyand is as ons nie sy aanval kan afweer nie,” sê Ghandalf.

          “Maar wat moet ons doen?” roep Pippin terneergedruk uit, en leun bibberend teen Mannetjies en Frodo.

          “Stop waar ons is, of omdraai,” sê Ghandalf. “Dit help nie ons gaan verder nie. As ek reg onthou, verlaat hierdie paadjie die afgrond ’n entjie hoër op en gaan na ’n breë, vlak trog op die bodem van ’n lang, steil helling. Daar sal geen skuilplek teen sneeu of klippe wees nie – ook nie teen iets anders nie.”

          “En dit sal nie deug om terug te gaan terwyl die storm woed nie,” sê Aragorn. “Ons het langs pad verby geen beter skuiling gegaan as hierdie rotswand waarteen ons nou skuil nie.”

          “Skuiling!” brom Sam. “As dit skuiling is, dan is een muur en geen dak ’n huis.”

  

 

Die Geselskap gaan sit so styf teen die rotswand as wat hulle kan. Dit kyk na die suide en is effens uitgehol, wat hulle laat hoop dat dit ’n bietjie beskerming teen die noordewind en die vallende klippe sal bied. 


Vertaalpret 2018.

Taak 7: The Fellowship of the Ring, bladsy 247.

Download
The Fellowship of the Ring, page 247
247.jpg
JPG Image 377.0 KB

Vertaling, bladsy 247:

         “Hy is Aragorn, seun van Arathorn,” sê Elrond, “hy is ’n afstammeling langs baie vaders van Isildur, Elendil se seun, wat van Minas Ithil kom. Hy is die Hoofman van die [Janie1]  in die Noorde, en van daardie volk is daar min oor.”

          “Dan behoort dit aan jou, en hoegenaamd nie aan my nie!” roep Frodo verras uit, en hy spring orent asof hy vrees dat die Ring enige oomblik opgeëis gaan word.

          “Dit behoort aan nie een van ons nie,” sê Aragorn, “maar dis bestem dat jy dit ’n ruk moet hou.”

          “Wys die Ring, Frodo!” sê Ghandalf bedaard. “Die tyd het aangebreek. Hou dit omhoog, dan sal Boromir die res van sy raaisel verstaan.”

 

 

Dis skielik stil, en alle oë draai na Frodo. Hy voel opeens bewerig van verleentheid en vrees, en hy is glad nie lus om die Ring uit te haal nie, en dit walg hom dat hy daaraan moet raak. Hy wens hy was ver daarvandaan. Met ’n bewende hand haal hy die Ring uit, wat glinster en flikker toe hy dit voor hulle ophou.

          “Aanskou Isildur se Vloek!” sê Elrond.

          Boromir se oë glinster terwyl hy na die goue voorwerp staar. “Die Halfling!” prewel hy. “Is die Ondergang van Minas Tirith uiteindelik hier? Maar waarom moet ons ’n gebreekte swaard soek?”

          “Die woorde was nie ‘die ondergang van Minas Tirith’ nie,” sê Aragorn. “Maar ondergang en groot dade is inderdaad ter sprake. Want die Swaard wat Gebreek is, is die Swaard van Elendil wat onder hom geknak het toe hy geval het. Dit is deur sy erfgename bewaar toe alle ander erfstukke verlore geraak het, want volgens oorlewering sal dit heel gemaak word wanneer die Ring, Isildur se Vloek, gevind is. Noudat jy die swaard wat jy soek gesien het, wat is jou versoek? Wil jy hê die Huis van Elendil moet terugkeer na die Land van Ghondor?”

          “Ek is nie gestuur om enige voordeel af te smeek nie, maar om uit te vind wat die raaisel beteken,” antwoord Boromir trots. “Ons kry baie swaar en die Swaard van Elendil sal geweldig baie help – as so iets wel uit die skaduwees van die verlede kan terugkeer.” Hy kyk weer met oë vol vertwyfeling na Aragorn.

          Frodo voel hoe Bilbo ongeduldig langs hom rondskuif. Hy het hom kennelik namens sy vriend vererg. Hy staan skielik op en trek los:

 

Alles wat goud is, blink nie,

En almal wat swerf, is nie verban;

Die oue wat sterk is, verwelk nie,

Diep wortels kry nie rypbrand.

Uit die as sal ’n vuur opleef,

’n Lig sal uit die skadu’s spring;

Die gebreekte lem word heel:

Die kroonlose word weer koning.

 


Taak 6: The Fellowship of the Ring, bladsy 228.

Download
228.jpg
JPG Image 396.0 KB

Vertaling, bladsy 228:

     Aan Frodo se regterkant sit ’n dwerg wat deftig aangetrek is en belangrik lyk. Sy baard, baie lank en gesplits, is wit, amper so wit soos die sneeuwit materiaal waarvan sy klere gemaak is. Hy dra ’n silwer gordel, en om sy nek hang ’n ketting van silwer en diamante. Frodo hou op eet om na hom te kyk.

     “Welkom en aangename kennis!” sê die dwerg, en draai na hom. Daarop staan hy sowaar op uit sy stoel en buig. “Glóin tot u diens,” sê hy en buig nog laer.

     “Frodo Baalens tot u diens en dié van u familie,” sê Frodo, baie korrek, en hy kom verras orent sodat sy kussings die wêreld vol val. “Is ek reg as ek raai dat dit dié Glóin is, een van die twaalf metgeselle van die groot Thorin Eikenskild?”

     “Heeltemal korrek,” antwoord die dwerg, en tel die kussings op, en help Frodo hoflik terug op sy stoel. “En ek vra nie, want ek het alreeds gehoor dat jy ’n familielid en die aangenome erfgenaam van ons beroemde vriend Bilbo is. Ek is verheug dat jy so mooi herstel het.”

     “Baie dankie,” sê Frodo.

     “Ek het gehoor dat jy ’n aantal uiters vreemde avonture beleef het,” sê Glóin. “Ek kan nie verstaan waarom viér hobbits so ’n lang reis onderneem het nie. So iets het nog nie weer gebeur sedert Bilbo saam met ons gegaan het nie. Maar dalk moet ek nie te veel uitvra nie, aangesien Elrond en Ghandalf nie gretig lyk om daaroor te praat nie?”

     “Ek stel voor ons laat dit daar, ten minste vir eers,” sê Frodo beleef. Hy vermoed dat die Ring, selfs in Elrond se huis, nie iets is waaroor ligtelik gepraat word nie, en in elk geval wil hy sy probleme so lank moontlik vergeet. “Ek wil net so graag weet,” voeg hy by, “wat so ’n belangrike dwerg so ver van die Eensame Berg af wegneem?”

     Glóin staar na hom. “As jy nog nie weet nie, moet ons dít dalk ook eers daar laat. Ek neem aan meneer Elrond sal ons almal binnekort saamroep, en dan sal ons baie dinge hoor. Maar is talle ander dinge om oor te praat.”

     Hulle gesels regdeur die res van die maaltyd, maar Frodo luister meer as wat hy praat, want buiten die Ring klink die nuus van die Graafskap nietig, en ver weg, en onbelangrik, terwyl Glóin baie te vertelle het oor gebeure in die noordelike streke van Wilderland. Frodo verneem dat Grimbeorn die Oue, seun van Beorn, nou die koning van talle sterk manne is, en dat geen ork of wolf dit in hulle land tussen die Berg en die Newelwoud waag nie.

     “Inderdaad,” sê Glóin, “as dit nie vir die Beorniete was nie, sou dit lankal onmoontlik gewees het om tussen Daalen en Rivendel te reis. Hulle is dapper manne en hou die Hoë Pas en die Karots-drif oop. Maar hulle tolgeld is hoog,” voeg hy met ’n kopskud by, “en soos Beorn van ouds het hulle geen erg aan dwerge nie. Nietemin, hulle is betroubaar, en dit sê baie in hierdie tye.” 


Taak 5: The Fellowship of the Ring, bladsy 195.

Download
195.jpg
JPG Image 417.2 KB

Vertaling, bladsy 195:

          Lank sit hulle daar, stil en waaksaam, en amper sonder om asem te haal, met hulle rûe na die houtvuur gedraai. Elkeen staar na die skaduwees wat hulle omring. Niks gebeur nie. Daar is geen geluid of beweging in die nag nie. Frodo roer, hy voel hy moet die stilte verbreek: hy smag daarna om hardop te skreeu.

          “Sjuut,” fluister Skreder. “Wat’s dít?” snak Pippin terselfdertyd.

          Op die kim van die valleitjie, aan die kant weg van die heuwel, vóél hulle, eerder as sien, ’n skaduwee wat verrys, een skaduwee of méér as een. Hulle staar stip, en die skaduwees word groter. Gou kan daar geen twyfel wees nie: drie of vier lang swart figure staan daar op die helling en kyk af op hulle. Só swart is hulle dat hulle soos swart gate lyk teen die diep skaduwee agter hulle. Frodo verbeel hom hy hoor ’n gedempte gesis soos van giftige asem en voel ’n dun, snydende koue. Dan kom die gedaantes stadig nader.

          Angs oorval vir Pippin en Mannetjies, en hulle val plat op die grond neer. Sam maak homself klein langs Frodo. Frodo is feitlik net so angsbevange soos sy metgeselle, hy ruk asof hy bitterlik koud kry, maar sy angs word verdring deur ’n skielike drang om die Ring aan te sit. Die begeerte om dit te doen word oor hom vaardig en hy kan aan niks anders dink nie. Hy het nie die Grafhoop of Ghandalf se boodskap vergeet nie, maar dis of iets hom noodsaak om alle waarskuwings te ignoreer, en hy smag daarna om in te gee. Nie met die hoop om te ontsnap of enigiets te doen nie, goed of sleg: hy voel bloot dat hy die Ring moet vat en aan sy vinger moet steek. Hy kan nie praat nie. Hy voel aan dat Sam na hom kyk, asof hy weet sy meester worstel met iets, maar hy kan nie na hom kyk nie. Hy maak sy oë toe en worstel ’n ruk, maar weerstand word ondraaglik, en uiteindelik trek hy die kettinkie langsaam uit en glip die Ring aan die voorvinger van sy linkerhand.

          Hoewel alles anders nog nes voorheen dof en donker is, raak die gedaantes onmiddellik skrikwekkend helder. Hy kan selfs sien wat onder hulle swart gewade is. Daar is vyf lang figure: twee staan op die rand van die valleitjie, drie is besig om nader te kom. In hulle wit gesigte brand skerp, genadelose oë; onder hulle mantels is lang grys klede; op hulle grys hare rus silwer helms; in hulle uitgeteerde hande is swaarde van staal. Hulle oë val op hom en deurboor hom terwyl hulle op hom afstorm. Wanhopig trek hy sy eie swaard uit, en dit lyk vir hom asof dit rooi flikker, soos ’n fakkel. Twee van die gedaantes halt. Die derde is groter as die res: sy hare is lank en glansend, en op sy helm rus ’n kroon. In sy een hand hou hy ’n lang swaard vas, en in die ander ’n mes; sowel die mes as die hand wat dit vashou, gloei met ’n bleek lig. Hy spring vorentoe en storm op Frodo af.

          Op daardie oomblik slinger Frodo homself plat op die grond, en hy hoor homself hardop skreeu: “O Elbereth! Gilthoniël!” Terselfdertyd steek hy na sy vyand se voete.

Comments: 0

Taak 4: The Fellowship of the Ring, bladsy 106.

Download
106.jpg
JPG Image 458.5 KB

Vertaling, bladsy 106:

Ons groet herd en hal met groot geskal!

Die wind kan woed en reëns kan val,

Maar ons moet vort, die tyd is kort

Ver weg oor bos en berg en dal.

 

Na die vallei waar Elwe bly

In Rivendel se mistige hei,

Jaag ons sak en pak, oor vlei en vlak,

Maar waarheen dan, dié vraag is vry.

 

Deur vyand omring, deur vrees gedwing,

Ons beddens onder die hemelkring.

Tot ons ervaar, ons sending is klaar,

Ons reis verby, ons taak volbring.

 

Ons moet gaan! Ons moet gaan!

Ons ry voor die eerste ligbaan!

 

Enige voorstelle vir verbetering is BAIE welkom.

Comments: 3
  • #3

    Jeanette Grobler (Monday, 19 February 2018 17:00)

    Dit is uitstekend vertaal.

  • #2

    Janie (Sunday, 03 December 2017 00:07)

    Dankie, Madelein!

  • #1

    Madelein (Saturday, 02 December 2017 09:29)

    Kyk dalk weer na die ritme van die gedig. As mens dit hardop lees word die haakplekkies hoorbaar.


Taak 3: The Fellowship of the Ring, bladsy 99.

Download
99.jpg
JPG Image 391.5 KB

Vertaling, bladsy 99:

Maar die meeste mense van die ou Graafskap beskou die Boklanders as eienaardig, halfuitlands. En tog verskil hulle nie veel van die ander hobbits van die Vier Oortjies nie. Behalwe in een opsig: hulle hou van bote, en sommige van hulle kan swem.

          Hulle land was oorspronklik sonder enige beveiliging in die Ooste, maar aan daardie kant het hulle ’n heining aangebring: die Hoë Heg. Dis baie generasies gelede beplant, en is nou ruig en hoog, want dit word goed versorg. Dit strek die hele ent van die Brandewynbrug, met ’n wye bog wat van die rivier af wegswaai, tot by Hegseinde[Janie1]  waar die Wilgervliet[Janie2]  uit die Bos in die Brandewyn vloei: aansienlik meer as twintig myl van begin tot einde. Maar dit bied natuurlik nie volkome beskerming nie. Die Bos kruip op talle plekke tot digby die heining. Ná donker hou die Boklanders hulle deure gesluit, en dis ook iets ongewoons in die Graafskap.

 

Die veerboot beweeg stadig oor die water. Die Bokland-oewer kom nader. Sam is die enigste lid van die geselskap wat nog nooit aan die anderkant van die rivier was nie. Hy ervaar ’n snaakse gevoel terwyl die murmulende water langsaam verbyglip: sy ou lewe lê agter in die newels, donker avonture lê voor. Hy krap sy kop, en koester vir ’n oomblik ’n vlietende wens dat meneer Frodo eerder rustig kon voortgaan om in Slot van Baalens te woon.

          Die vier hobbits tree uit die veerboot. Mannetjies bind dit vas, en Pippin is al besig om die ponie met die pad langs boontoe te lei toe Sam (wat terugkyk, asof hy van die Graafskap wil afskeid neem) met ’n skor fluisterstem sê:

          “Kyk om, meneer Frodo! Wat sien jy?”

          Op die oorkantse laaiplek, onder die lampe in die verte, kan hulle ’n figuur net-net uitmaak: dit lyk soos ’n donker swart bondel wat daar agtergebly het. Maar terwyl hulle daarna staar, begin dit beweeg en slinger hierdie kant toe en daardie kant toe, asof dit iets op die grond soek. Dan kruip dit, of beweeg op sy hurke, terug na die donkerte aan die anderkant van die lampe.

          “Wat in die ganse Graafskap is dít?” roep Mannetjies uit.

          “Iets wat ons agtervolg,” sê Frodo. “Maar moenie nou nog uitvra nie! Ons moet dadelik padgee.” In aller yl draf hulle met die pad langs tot bo-op die wal, maar toe hulle terugkyk, is die oorkantse oewer in mis gehul, en hulle kan niks sien nie.

          “Dank die Vader daar’s geen bote op die wesoewer nie!” sê Frodo. “Kan perde dié rivier oorsteek?”

          “Hulle kan, tien myl noord van die Brandewynbrug – of hulle kan dalk swem,” antwoord Mannetjies. “Hoewel ek van geen perd weet wat al oor die Brandewyn geswem het nie. Maar wat het perde hiermee te doen?”

          “Ek sal jou later vertel. Laat ons net eers binne wees, dan kan ons praat.”

          “Goed! Jy en Pippin ken die pad, ek sal vooruit ry en vir Fettie Boep sê julle kom. Ons sal sorg vir aandete en alles.”


 [Janie1]Haysend

 [Janie2]9Withywindle, Haysend, Die Hoë Heg


The name includes the old word withy, meaning 'willow'. The -windle element derives from wendel, which does not actually occur historically, but is used by Tolkien in various Old English river-names (for example, the Old English name for the River Sirion was Scírwendel, 'bright-winding'). The name of the river was apparently suggested by withywind, an old name for the tangling, climbing plant more commonly known as bindweed.

2

The course of the Withywindle is difficult to establish, because what evidence we have is somewhat contradictory. The large scale map of the Shire in The Lord of the Rings shows a part of the river in detail, flowing in a distinct south-southwest direction to meet the Brandywine. Approximately the same direction appears on the larger scale map of the same region, with the Withywindle rising within the northern Old Forest and flowing southwestwards through the trees.

In The Fellowship of the Ring I 6 (The Old ForestMerry states that the Withywindle '...comes down out of the Downs and flows south-west through the midst of the Forest'. This matches the maps in terms of direction, but disagrees on the source (it's later confirmed that the river flows into the Forest from the Barrow-downs, disagreeing with the map). This is problematic, because the Downs lay to the east of the Old Forest, so if the river did indeed flow southwestwards for its entire length, its source could not possibly be in the Barrow-downs.

Later references seem to suggest that the river flowed east-to-west (later in the chapter quoted above, the Hobbits find themselves on a path along the river towards its source, and that path is described as going eastward, not northeastward).

Later maps (for example the colourful map created by Pauline Baynes with input from Tolkien) account for these discrepancies by giving the river a much more westerly direction, flowing from the Barrow-downs through the middle of the Forest.

 

Comments: 1
  • #1

    Brechje (Tuesday, 21 November 2017 07:31)

    Sjoe! Jy mag maar. Jy vertaal meesterlik. Ek voel skoon beskaamd oor my pogings, maar moenie dink ek gaan opgee nie. Die name-ding is vreeslik interessant en ek geniet dit oneindig. Dankie vir die verwysings hierbo.


Taak 2: The Fellowship of the Ring, bladsy 74.

Download
74.jpg
JPG Image 405.2 KB

Vertaling, bladsy 74:

‘Dis ’n gevaarlike besigheid, Frodo, om by jou deur uit te gaan,’ het hy gereeld gesê. ‘Jy betree die Pad, en nugter weet waarheen jy geswiep kan word as jy nie vasstaan nie. Besef jy dat dit die einste pad is wat deur die Newelwoud gaan, en dat dit jou na die Eensame Berg kan neem, of selfs verder en na erger plekke, as jy dit sou toelaat?’ Hy’t dit dikwels gesê daar op die pad net buite Slot van Baalens se voordeur, veral nadat hy ’n lang ent gestap het.”

      “Wel, die Pad gaan my vir nog minstens ’n uur nêrens heen swiep nie,” sê Pippin, en hy haal sy sak af. Die res volg sy voorbeeld, en plaas hulle sakke teen die wal, en strek hulle bene voor hulle in die pad. Ná ’n ruskans nuttig hulle ’n stywe middagete, en toe rus hulle nog 'n keer.

 

Die son is besig om laag te raak en die namiddaglig lê al op die gebied toe hulle heuwel-af stap. Tot dusver het hulle nog nie ’n siel langs die pad gesien nie. Hierdie pad word selde gebruik, dis skaars geskik vir karre, gevolglik is daar min verkeer na Bos-Einde. Hulle stap al ’n goeie uur toe Sam ’n oomblik stop, asof hy luister. Hulle is tans op gelyk grond, en ná baie draaie loop die pad nou reguit deur grasland besprinkel met hoë bome, die voorlopers van die bos wat al nader kom.

          “Ek kan ’n ponie of ’n perd op die pad agter ons hoor,” sê Sam.

          Hulle kyk om, maar weens die draai in die pad kan hulle nie ver sien nie. “Ek wonder of dit Ghandalf is wat ons volg,” sê Frodo, maar sy woorde is skaars koud of hy kry die gevoel dat dit nié die geval is nie, en ’n skielike begeerte om weg te kruip en buite sig van die ruiter te bly oorval hom.

          “Dit maak seker nie regtig saak nie,” sê hy verskonend, “maar ek wil liewer nie op dié pad gesien word nie – deur niemand nie. Ek is moeg daarvan dat my doen en late bekyk en bespreek word. En as dit Ghandalf is,” voeg hy as ’n nagedagte by, “kan ons hom altyd laat skrik, hom terugbetaal oor hy laat is. Kom ons maak ons uit die voete!”

          Die ander twee nael na links, en af in ’n kleinerige holte nie ver van die pad nie. Daar val hulle plat. Frodo aarsel ’n sekonde: nuuskierigheid, of ’n ander soort gevoel, stry met sy begeerte om weg te kruip. Die geluid van hoewe kom nader. Net betyds gooi hy hom plat in ’n kol lang gras agter ’n boom wat ’n skaduwee op die pad maak. Toe lig hy sy kop en loer behoedsaam oor een van die dik boomwortels.

          Om die draai kom ’n swart perd, geen hobbitponie nie, wel ’n uitgegroeide perd, en daarop sit ’n fris man wat lyk of hy vooroor leun in die saal. Hy is toegewikkel in ’n lang swart kapmantel sodat slegs sy stewels in die hoë stiebeuels daaronder uitsteek, sy gelaat is in skaduwees gehul en onsigbaar.

Comments: 0

Taak 1: Uittreksel uit deel 1: The Fellowship of the Ring, bladsy 34.

Download
34.jpg
JPG Image 422.7 KB

Vertaling bladsy 34

          Ghandalf staan op. Hy praat afgemete. “As jy dít doen, is jy ’n dwaas, Bilbo,” sê hy. “En dít word duideliker met elke woord wat jy sê. Dit het ’n veels te groot houvas op jou. Gee dit weg! Dan kan jy ook weggaan en vry wees.”

          “Ek sal maak wat ek wil en gaan soos ek wil,” sê Bilbo koppig.

          “Stadig, my liewe hobbit!” sê Ghandalf. “Jou lang lewe lank is ons al vriende, en jy’s iets aan my verskuldig. Kom nou! Hou jou belofte: staan dit af!”

          “Luister, as jy my ring wil hê, sê so!” roep Bilbo. “Maar jy sál dit nie kry nie. Ek sál nie my Skat weggee nie, en klaar.” Sy hand beweeg na die hef van sy swaardjie.

          Ghandalf se oë blits. “Ek is op die punt om ook kwaad te raak,” sê hy. “En as jy dit wéér sê, sal ek. Dan sal jy Ghandalf die Gryse se ware kleure sien.” Hy gee ’n tree nader aan die hobbit, en dis of hy meteens lank en dreigend word: sy skaduwee vul die vertrekkie.

          Bilbo deins terug tot teen die muur, sy asem jaag, sy hand gryp na sy broeksak. Hulle staan ’n ruk teenoor mekaar en die lug in die kamer tintel. Ghandalf se oë bly vasgenael op die hobbit.

           Stadig ontspan sy hande, en hy begin bewe. “Ek weet nie wat met jou aangaan nie, Ghandalf,” sê hy. “Jy was nog nooit vantevore so nie. Wat probeer jy doen? Dis tog myne, wat anders? Ek het dit gevind en as ek dit nie gehou het nie, sou Ghollum my vermoor het. Ek’s nie ’n dief nie, al sê hy ook wat.”

          “Ek het nog nooit gesê jy’s een nie,” antwoord Ghandalf. “En ék is ook nie een nie. Ek probeer jou nie beroof nie, ek probeer jou help. Ek wens jy wil my soos tevore vertrou.” Hy draai weg, en die skaduwee kwyn. Dis of hy self ook weer terugkrimp na ’n ou grys man, krom en vol sorge.

          Bilbo vee met sy hand oor sy oë. “Ek is jammer,” sê hy. “Maar ek het so snaaks gevoel. En tog sal dit op ’n ander manier ’n verligting wees om my nie meer daaroor te bekommer nie. Dit lê die laaste tyd swaar op my gemoed. Soms voel dit soos ’n oog wat na my kyk. En ek wil dit gedurig aansit en wegraak, nè? Anders wonder ek of dit veilig is, en dan haal ek dit uit om seker te maak. Ek het dit probeer wegsluit, maar dit hinder my te veel as dit nie in my sak is nie. Ek weet nie hoekom nie. Dis of ek nie ’n besluit kan neem nie.”

          “Vertrou dan myne,” sê Ghandalf. “En dis uit en gedaan. Gaan weg, en laat dit agter. Staan dit af. Gee dit vir Frodo, en ek sal na hom kyk.” 

          Bilbo bly nog ’n oomblik staan, angstig en besluiteloos. Uiteindelik sug hy. “Goed dan,” sê hy met inspanning. “Ek sal.” Dan haal hy sy skouers op en glimlag, ietwat meewarig. “Dis tog waaroor daardie partytjie-gedoente nou eintlik gegaan het: om hope verjaardagpresente weg te gee en dit op ’n manier makliker te maak om dít ook weg te gee. Dit was toe tog nie makliker nie, maar dit sal ’n jammerte wees as al my voorbereidings verniet was. Dit sal die grap heeltemal bederf.”

Comments: 0

Vind uit oor die Skryfgeheime-kursusse

* Jy sal 'n e-brosjure ontvang met alle nodige inligting.

* Jou navraag plaas jou onder geen verpligting om in te skryf nie.

* Ons studente publiseer by erkende, bona fide uitgewers, tydskrifte en koerante.

Note: Please fill out the fields marked with an asterisk.