Oor kreatiwiteit

Oor kreatiwiteit

* Wees gewaarsku: Die idees-masjien roes as jy dit nie gereeld genoeg olie en gebruik nie.

* Skrywers mag, nee, hulle móét weird wees. Hulle is ook van die min mense wat met moord mag wegkom. Wéés dus anders, wees skreiend en verregaande. Die resultaat kan verstommend wees, en jou storie sal uitstaan bo die massa.

* Vermy gemeenplasige idees en taalgebruik. Vermy dit wat almal doen.

* Hou in gedagte dat alles al gedoen is, dat niks regtig oorspronklik is nie, dat alles bloot verwerkings is! (Die geheim lê in hóé jy dit verwerk.)

* Dink hieroor na: Behels die meeste van ons kreatiewe skryfwerk nie aspekte van die eie alter-ego op steroïdes nie? (En waarom op die aarde nie!)

* Moenie bang wees om te eksperimenteer, uit die boks te klim, en wild oor die lyne in te kleur nie.

* Vra jouself gereeld af: Hoe kan ek hierdie karakter of situasie omdop en erger maak, hoe kan ek dinge anders maak, en op hulle koppe laat staan?

* Kreatiwiteit is nie iets misties nie. Daar is tegnieke om dit te stimuleer. Benut daardie dinge wat vir jou storie werk, al daardie goed gemotiveerde aspekte wat uit die karakters en situasies voortvloei. Maar verdiep dit, voer dit verder as die alledaagse, en maak dit ’n bietjie mal met: “Wat as?” 

* Laastens, gun jouself dit om jou skryfwerk by gereelde tye opsy te skuif en die lewe te geniet. Die bonus is dat afstand en nuwe ervarings alte dikwels tot nuwe idees, perspektiewe en insigte lei.